Dis heerlike lente(dag); warm weer kom

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Suid-Afrikaners kan warmer weer op die eerste dag van die lente verwag wanneer temperature Donderdag ná ʼn kouefront sal begin styg.

Mbavhi Maliage, ʼn weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), sê ʼn kouefront het Maandagoggend die suidoostelike dele van die land getref. Dit het teen Maandagmiddag temperatuurdalings in dele van die Oos-Kaap, die oostelike dele van KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Limpopo tot gevolg gehad.

Temperature sal na verwagting van Dinsdagoggend ook in die res van die land daal, uitsluitend die noordelike dele van die Noord-Kaap en dele van Noordwes wat warm sal bly.

Boonop word sneeu in hoogliggende gebiede van die Oos-Kaap verwag, terwyl bewolkte weer in KwaZulu-Natal, Limpopo en Mpumalanga voorkom.

“Temperature in die land sal teen Woensdag begin styg en teen Donderdag normaliseer,” sê Maliage.

Volgens die weerdiens kan Suid-Afrikaners ʼn reënerige lente en somer verwag.

Maroela Media het vroeër berig bogemiddelde reënval word tussen September en November vir die grootste dele van somerreënvalgebiede voorspel. Bogemiddelde reënval sal tussen November en Januarie ook in dié dele van die land voorkom wat nie gewoonlik in die somer reën kry nie.

Dit word hoofsaaklik toegeskryf aan die weerfenomeen La Niña wat vanjaar in Suid-Afrika reeds vir heelwat reën gesorg het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

kaplyn ·

Die eerste dag van die lente is eers op 21 September wanneer die son loodreg op die ewenaar skyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.