Dissiplinêre stappe kom dalk oor Zuma se verkiesingsuitsprake

Zuma gesels oor sy steun vir die nuwe party uMkhonto weSizwe. (Foto: X)

Huidige ANC-leiers smee blykbaar ʼn komplot om die ANC te “vermoor”. Daarom, sê oudpres. Jacob Zuma, het hy geen ander keuse gehad as om “drastiese stappe” te doen om in te gryp en die organisasie te red nie.

Zuma het Suid-Afrikaners Saterdag in Soweto toegespreek, as deel van die viering van die stig van die ANC se militêre vleuel uMkhonto weSizwe (Spies van die Nasie) op 16 Desember 1962. Dit is dan ook vir die nuutgeregistreerde party met dieselfde naam vir wie Zuma in volgende jaar se verkiesing sy stem gaan gee. Hy het ander Suid-Afrikaners boonop aangeraai om vir “enige progressiewe party” te stem, wat hulle beywer vir “totale bevryding en die teruggee van die land aan die regmatige eienaars, die Afrika-mense”.

Die nuus van Zuma se verraad is met skok en woede deur leiers van die regerende party ontvang en daar is selfs sprake dat Zuma dissiplinêr hiervoor vervolg kan word. Hy het immers nie sy lidmaatskap van die ANC beëindig nie en dié stap kan gesien word as ʼn poging om verdeeldheid binne die party te saai. ʼn Lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) het aan City Press gesê sy optrede is verdelend en dat die NUK “sterk teen hom moet optree”. “Jy kan jouself nie ʼn lojale ANC-lid noem as jy vir mense gaan sê om nie vir die party te stem nie. Dis duidelik dat hy die party wil verlaat, maar nie op sy eie wil gaan nie. Hy wil uitgehelp word sodat hy sy optrede kan regverdig.”

Ander NUK-lede dink nie Zuma se uitlatings regverdig repliek nie en het dit aan sy “gevorderde ouderdom” toegeskryf.

Fikile Mbalula, sekretaris‑generaal van die ANC, het Vrydag gesê die party gaan regsaksie neem nadat ʼn party met die naam uMkhonto weSizwe geregistreer is, aangesien die naam die intellekteuele eiendom van die ANC is.

Zuma het Saterdag in sy toespraak gesê die ANC van vandag is nie die eens groot beweging wat vryheidsvegters lief gehad het en waarvoor hulle bereid was om hul lewens voor neer te lê nie.

Hy sê mense is teleurgesteld en uiters krities oor die manier waarop die party hom die afgelope jare gedra het, veral onder die huidige leierskap.

“Die ANC wat ek geken het, was nooit daarop gefokus om lede te skors sonder om die regte kanale te volg om te bepaal of so ʼn aksie gepas is nie,” het hy gesê, spesifiek met verwysing na die skorsing van die voormalige sekretaris-generaal Ace Magashule. Dié is ʼn stoere Zuma-bondgenoot en het ook intussen sy eie politieke party, die African Congress, op die been gebring.

Zuma het gesê hy en ander oudleiers herken nie meer die organisasie wat hulle vir so lank lojaal gedien het nie en dat sommige leiers op ʼn baie “on-ANC-wyse” optree. “Daar is ʼn oorweldigende en groeiende aantal kaders wat dieselfde vrese geopper het. Dit het die behoefte by my aangewakker om die organisasie van hierdie optrede te red, dit terug na die mense te bring en tot sy voormalige glorie te herstel.”

Hy sê egter die ANC kan nie meer van binne gered word nie en dat dit lyk of die ANC die komende verkiesing gaan verloor. Die 46%‑nederlaag van 2021 moes as ʼn wekroep gedien het, maar dit het nie. Dus lyk dit of huidige leiers ʼn opsetlike komplot voer om die ANC te vermoor.”

Zuma sê hy was die afgelope ruk in gesprek met minstens tien ander progressiewe partye, met die oog daarop om ʼn patriotiese front en stemblok ná die “mense se oorwinning” in volgende jaar se verkiesing te stig. Die doel hiervan sal wees om mense totaal van kolonialisme te bevry en radikale transformasie vir ekonomiese vryheid te bewerkstellig.

Die Black First Land First-beweging het Zuma se aankondiging verwelkom. “Dit is inderdaad ʼn goeie tyd vir alle progressiewe partye om te verenig om die ANC as regerende party te verwyder terwyl ons die Demokratiese Party (sic) keer om aan bewind te kom,” het Andile Mngxitama op X gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.