Dodetal nou 40 ná Boksburg-ontploffing

(Foto: IHSAAN HAFFEJEE/ANADOLU AGENCY/Anadolu Agency via AFP)

Sowat 20 dae nadat ʼn gastenkwa in Boksburg ontplof en ongekende skade aangerig het, het die dodetal tot 40 gestyg.

“Dit is skokkend dat ons, sedert die laaste bywerking oor die stand van sake, nog drie mense aan die dood afgestaan het,” het die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, Donderdag tydens ʼn mediakonferensie gesê.

“Ná amptelike bevestiging deur die polisie kan ons nou rekenskap gee van elkeen wat oorlede is en elkeen wat in die hospitaal opgeneem is. Ons kan ook rekenskap gee van diegene wat begrawe is of in die proses is om begrawe te word.”

Altesame 12 van die 40 oorledenes was gesondheidswerkers werksaam aan die nabygeleë Tambo-gedenkhospitaal. Vyf gesondheidswerkers wat in die proses beseer is, is steeds in verskeie hospitale, terwyl 23 reeds ontslaan en terug by hul gesinne is.

Agt lede verbonde aan Ekurhuleni se nooddienste het ernstige beserings ná die ontploffing opgedoen, maar ses is reeds ontslaan, terwyl nog twee in die hospitaal aansterk.

Gautengse premier Panyaza Lesufi [Foto: Verskaf]

“Die jongste verslag is gegrond op geverifieerde syfers, maar soos ons almal weet, kan die dodetal verder styg namate ons bevestiging van die betrokke gesondheidsfasiliteite ontvang.”

Die provinsiale regering het reeds werk daarvan gemaak om die beskadigde Tambo-hospitaal se vensters en deure te laat vervang, maar weens die omvang van die skade is die hospitaal se noodgevalle-eenheid tot verdere kennisgewing gesluit. Herstelwerk aan dié eenheid sal na raming oor vier weke voltooi word.

Weens die omvang van die skade aan die hospitaal se ongevalle-afdeling bly dié deel vir eers gesluit.

“ʼn Kontrakteur wat die herstelwerk van die ongevalle-afdeling gaan behartig, is op 4 Januarie aangestel en het reeds Maandag met herstelwerk begin. Die herstelwerk sal na raming vier weke duur.”

Lesufi sê hy neem ook kennis van die aansoek om ʼn klasaksie teen diegene wat regtens vir dié skade aanspreeklik gehou kan word.

“Hulle het die volste reg om regstappe te doen en op die ou einde moet geregtigheid geskied. Dat geregtigheid geskied, beteken dat mense verantwoordelik gehou moet word vir die tragiese lewensverlies, en gesinne moet afsluiting vind.”

Die provinsiale regering gaan voort om ondersteuning in die vorm van beradingsdienste aan die geraakte gesinne te verleen, sê Lesufi.

“Die stad Ekurhuleni se gemeenskapsontwikkelingswerkers doen deur-tot-deur-besoeke in die gebied om geraakte gesinne te identifiseer en dié te verwys wat nog geen bystand ná die ontploffing ontvang het nie.”

Intussen gaan die polisie se ondersoek voort. Die vragmotorbestuurder is aanvanklik in hegtenis geneem en van strafbare manslag aangekla, maar later vrygelaat weens ʼn gebrek aan bewyse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Sandra ·

Sjoe, jammer om te moet hoor van nog ‘n sterfgeval. Die klasaksie gaan teen die mislikepaliteit gedoen moet word omrede hulle kennisgewings by die brug nie sigbaar of onduidelik was. Hulle is vinnig om vinger te wys, maar vergeet meer vingers wys terug!

annie ·

Ons hoop van harte dat die vragmotorbestuurder wie se naam steeds teruggehou word om hom skynbaar pyn en lyding te spaar, wel onder polisietoesig is en nie skielik sal verdwyn nie. Die kans is goed dat hy sal probeer; dalk met hulp.

Josua ·

Annie ek dink julle moet bietjie navorsing doen, die maatskapy vir wie die drywer werk het reeds n verklaring uitgeryk, die drywer het uit sy pad gegaan om mense te waarsku om nie naby die voertuig te gaan nie en probeur om die plek saam sekerheids mense af te kamp maar mense wou nie luister nie dit was blood n ongeluk en geen nalatigheid was aan die drywer se kant bewys nie nee in teendeel was bevestig hoe hy die mense van die perseel probeur keer het en ook sy bewussein verloor het van die gas wat hy ingeasem het so ongelukke gebeur en hy het n skoon rekord en 7jaar ondervinding in die bedryf so hy het nie nodig om opgesluit te wees of weg te kruip nie dit was bloot n ongeluk en as julle die verklaring sien sal julle werklik weet wat gebeur het, dit was voorheen al geplaas.

Papsak ·

Wat het hy daar gaan soek kon sien brug te laag om met tanker deur te gaan hoekom nie omgedraai nie kon baie hartseer gespaar gewees het

Josua ·

Dit is juis waarom die ongeluk gebeur het hy wou omdraai want hy het die verkeerde afrit geneem, het jul mense nie verklaring wat uitgeryk was gelees nie dit was bloot n ongeluk en nie nalatigheid van die drywer se kant af nie, as julle maar net weet wat die drywer gedoen het om mense van die perseel weg te hou en wat agv dit met hom gebeur het sal julle besef dat nie alles in die lewe word met opset of nalatigheid veroorsaak nie ongelukke gebeur dit kon net sowel jou kind of familie lid gewees het wat toe tank wa bestuur het.

Eugene ·

Ongelukkig sal geen geld die oorledenes terug bring nie, maar ek hoop die families dagvaar elkeen wat skuldig is. Die trok drywer was oppad Botswana toe, en het kortpad gesoek. Dagvaar hom ook. Die prez moet ook ingryp.

Spotty ·

Wat ek graag wil weet was die 12 gesondheidswerkers in die hospitall of was hulle buite die hospitaal toe die ontpolfing plaasgevind het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.