‘Doelbewuste pogings’ om Tshwane-metro onder administrasie te plaas  

Cilliers Brink (Foto: Tshwane-metro)

Daar is doelbewuste pogings om toestande te skep vir die Tshwane-metro om onder administrasie geplaas te word.

Dit is volgens Cilliers Brink, burgemeester van die Tshwane-metro, nadat die Tshwane-metroraad nie Donderdag daarin kon slaag om die aansuiweringsbegroting goed te keur nie. Daar is net nog vandag tyd om dit te doen en sittings in dié verband duur voort.

“Ek is bekommerd dat die uitstel van gister se vergadering van die Tshwane-metroraad deel is van ’n doelbewuste poging om te verhoed dat die meerderheid raadslede die aansuiweringsbegroting goedkeur en ’n konsepbegroting vir die volgende finansiële jaar voorlê.

“Indien hierdie twee begrotingsitems nie vandag deur die raad goedgekeur word nie, sal dit die voorwendsel skep vir die Gautengse provinsiale regering om in te gryp in die Tshwane-metro. Ek is oortuig dat, soos in die verlede, sulke ‘ingryping’ ’n bybedoelde politieke doel sal dien en rampspoedig sal wees vir dienslewering en finansiële bestuur in die hoofstad.”

Volgens Brink stem dit ook ooreen met uitsprake wat Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, in sy hoedanigheid as die provinsiale voorsitter van die ANC in die onlangse verlede gemaak het.

Vir die grootste gedeelte van Februarie en Maart het die Tshwane-metro effektief nie ’n uitvoerende burgemeester en burgemeesterskomitee gehad nie, en daarom is die sperdatums misgeloop vir die goedkeuring van die aansuiweringsbegroting en die tertafellegging van ’n konsepbegroting vir die volgende finansiële jaar.

Stadsbestuurder Johann Mettler het die Gautengse en nasionale tesourie geraadpleeg oor ’n verlengde tydlyn, en albei het ingestem om die metro tot vandag kans te gee.

“Indien die metro nie hierdie aangepaste spertye nakom nie, sal daar dalk nie genoeg tyd wees om die publiek betyds vir die nuwe finansiële jaar oor die voorgestelde tariewe, begrotingstoewysings en ontwikkelingsplanveranderings te raadpleeg nie.

Brink meen die metroraad kon gister die twee belangrike begrotingsitems hanteer het, maar dat die speaker van die raad altesaam vyf uur se koukusse toegestaan het net voor 17:00 besluit is dat die vergadering nie langer sal voortgaan nie. Die vergadering het Vrydag om 11:00 weer begin.

“Ek vermoed dat sekere faksies binne die ANC en EFF glo dat hulle daarby kan baat as regeringsbeheer oor die Tshwane-metro aan die provinsiale uitvoerende komitee van Lesufi oorgedra word. Maar so ’n stap sal byna verseker verwoestend wees vir die mense van die Tshwane-metro.”

Die laaste keer wat die Gautengse provinsiale regering die stad onder administrasie geplaas het, is die stap tersyde gestel as ongrondwetlik en onwettig. Dit het egter volgens Brink sewe maande  geneem voor die howe uiteindelik tot hierdie gevolgtrekking gekom het.

“In daardie tydperk, van Maart tot Oktober 2020, het inkomste-invordering en interne beheermaatreëls in die stad in duie gestort, en raadslede is verhinder om toesig te hou oor die werk van administrateurs en amptenare. Hierdie ‘administrasie’ het ook saamgeval met die Covid-19-inperking, en daarna is die stad met ’n bedryfstekort van R4,3 miljard gelaat waarvan hy steeds nie herstel het nie.

“Ek doen dus ’n beroep op die leierskap van politieke partye in die raad sowel as die speaker om in die beste belang van die mense van die Tshwane-metro op te tree en die meerderheid raadslede toe te laat om die aansuiweringsbegroting deur te voer en die konsepbegroting vir die volgende finansiële jaar ter tafel te lê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kokerboom ·

Soos te verwagte Mnr Brink die ANC en sy meelopers gaan ALLES in hul vermoeë doen om jou goeie pogings te kelder..soos hul met alles doen. Pasop vir Lesufi!
Baie sterkte. Tshwane het jou kaliber dringend nodig!

Mariana ·

Daai mense wat so teenvoeter stel nie belang in samewerking nie, hulle is daar vir een doel en dis om die DA uit te werk. Klomp wat net stoele warm sit, enorme salarisse verdien maar vir niks goed is nie. Tipies van ANC en EFF. Hulle gee net vir hulself om

Pieter ·

Tyd dat daar beslag gele word op die ANC EN EFF se salaris.Gebruik die geld vir die inwoners en laat hulle sien en kom klaar.

Pieter ·

Tyd dat hulle die ANC EN EFF raadslede se salarise vries en die geld vir die inwoners se dienste gebruik

Joe Olivier ·

Eintlik behoort raadslede wat agterstallig is met hul diensterekeninge nie stemreg te hê tydens raadsvergaderings nie. As dit toegepas word sal die 3 anc en eff stemme wat oorbly niks beteken nie.

WILLEM ·

Alles gaan oor mag – hoekom word daar nie gekonsentreer op regeer en diens lewering nie. Waarvoor betaal ons belasting???

Marthinus Johannes ·

Lyk my die Speaker moet ook vervang word, werk saam met ANC en EFF lede en Lesufi.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.