Dokter vas ná twee jaar as voortvlugtige

(Argieffoto: Bill Oxford/Unsplash)

ʼn Mediese dokter wat die polisie al twee jaar lank ontduik, is die afgelope naweek eindelik op aanklagte van bedrog en korrupsie aangekeer.

Kapt. Simphiwe Mhlongo, woordvoerder van die Valke, het gesê die 51-jarige man word daarvan beskuldig dat hy bedrieglike ongeskiktheidseise tussen 2005 en 2008 verwerk het. Lede van die Valke se eenheid vir ernstige korrupsieondersoeke het hom Vrydag in hegtenis geneem.

Nadat die beweerde bedrog aan die lig gekom het, het die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) ʼn distriksbestuurder ontplooi om verdere ondersoek in te stel.

Die 36-jarige Thembinkosi Gobza Dlamini is egter ses dae nadat hy met die interne ondersoek begin het, in sy kantoor doodgeskiet.

Sy ses moordenaars is vasgetrek en is sedertdien lewenslange tronkstraf in die Mtunzini-hooggeregshof vir die moord opgelê. Richard Nhleke (33), Smanga Madonsela (30), Mduduzi Linda (29), Jabulile Mthethwa (56), Thandiwe Sikhosana (44) en Phumzile Shange (58) is ook ʼn bykomende ses jaar tronkstraf opgelê vir die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Mhlongo het gesê die dokter verskyn na verwagting Maandag in die Durbanse handelshof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.