Dr. Nandi hoor later oor appèl

Dr. Nandipha Magudumana (Foto: Facebook)

Deur Daniel Steyn, GroundUp

Dr. Nandipha Magudumana het Vrydag die Vrystaatse hooggeregshof gevra vir verlof tot appèl vir haar mislukte aansoek om haar inhegtenisneming en terugkeer na Suid-Afrika onwettig en ongrondwetlik te laat verklaar.

Magudumana wil hê die hoogste hof van appèl moet dit op die proef stel of sy tot ʼn “onregmatige uitlewering” kon instem.

Regter Philip Loubser gaan egter eers Dinsdag besluit of hy Magudumana se aansoek om verlof tot appèl gaan toestaan.

Magudumana het in Mei ʼn dringende aansoek ingedien waarin sy die hof gevra het dat haar inhegtenisneming in Tanzanië en uitlewering aan Suid-Afrika saam met die veroordeelde moordenaar Thabo Bester onregmatig was.

Magudumana wou gehad het dat die hof haar uit aanhouding moet vrylaat en beslis dat die Bloemfonteinse landdroshof – waar sy teregstaan ​​op verskeie aanklagte, waaronder bedrog en lykskending – nie regspraak het om haar op dié aanklagte te verhoor nie.

Loubser het in Junie die aansoek met koste van die hand gewys en gesê hy stem saam met Magudumana dat haar uitsetting uit Tanzanië moontlik as ʼn uitlewering verbloem is. Sy het haar egter in geen stadium teëgesit toe sy na Suid-Afrika teruggebring is nie, het die regter bevind.

Kessler Perumalsamy, Magudumana se regsverteenwoordiger, het Vrydag in die hof gesê dat Magudumana egter nie tot ʼn onregmatige daad kon instem nie.

“Ons voer aan dat jy nooit kan instem tot ʼn onwettige daad nie,” het Perumalsamy gesê.

Hy het ook aangevoer dat die vereistes vir Magudumana se toestemming nie nagekom is nie met dié dat dit nie skriftelik en ook nie duidelik was nie.

“Het dr. Magudumana ingestem tot ʼn verbloemde uitlewering? Aan wie is die toestemming gegee? Ons word niks hiervan vertel nie,” het Perumalsamy aan die hof gesê.

Adv. Neil Snellenberg, wat namens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) verskyn het, het volgehou dat Magudumana vir “alles en almal” gesê het dat sy na haar kinders wil huis toe keer.

“Ons weet wat hier gebeur het: sy wou huis toe kom, so sy het huis toe gekom,” het hy gesê.

“Nou sê sy, in teenstelling daarmee, hulle moes haar gelos en protokol gevolg het, haar nie teruggebring het nie. Die oomblik toe sy ingestem of dit bewillig het, was daar geen onwettigheid nie. Moes hulle haar in Tanzanië gelos het toe sy wou huis toe kom?”

Snellenberg meen dat daar geen vooruitsig op sukses vir ʼn appèl is nie.

Hy het ook aangevoer dat Magudumana se storie skielik verander het sedert die aansoek die eerste keer by die hof ingedien is. Magudumana het eers beweer dat sy deur die polisie ontvoer is, wat in die hof weerlê is, maar sy het nooit die kennisgewing van die mosie gewysig nie.

Adv. Louis Pohl, wat namens die departement van binnelandse sake verskyn het, het gesê Loubser het tereg in sy uitspraak bevind dat die saak aangehoor moet word deur die getuienis wat gelewer is weens die feitedispuut in die applikante en respondente se beëdigde verklarings.

Omdat die respondente se weergawe is dat Magudumana ingestem het om terug te kom na Suid-Afrika, het Pohl aangevoer dat die appèl geen kans op sukses het nie.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning hier gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lillian ·

Ja nee wat Neil, sy probeer haar bes om los te kom uit hierdie gemors waarin sy haarself toegespin het. Roer haar!

Blomkool ·

Oor tree die wet, en jy is reg, waarom moet n men’s om gee oor wetter ons Kan doen wat ons wil.

SomeOne ·

sluit toe vir lykskending en hulp tot ontsnapping en ander oortredings

JohanR ·

My gooiste die een was soe diep betrokke, en kop in een mis met Thabo Bester. Sy het self saam met hom gevlug. Wat sien ek/ons wat die hofe nie sien? Sy het dan self die liggaam gekies, en voorsien.

Anel ·

Sou sy nie in elke geval gedeporteer word nie? Sy was dan onwettig daar!!

Johann ·

En sy word so ewe “aangehou”in die hospitaal gedeelte van die “tronk”! Klug

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.