Drie vas ná Musina-plaasaanval

Argieffoto. (Foto: Maroela Media)

Drie verdagtes is Woensdag in hegtenis geneem ná ’n aanval op ’n plaas in die omgewing van Musina, Limpopo, waartydens R100 000 gebuit is.

Volgens kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, het die polisie in Musina met die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) kragte saamgesnoer om die verdagtes vas te trek.

Die verdagtes, tussen 22 en 30 jaar oud, is die oggend (omstreeks 06:30) ná die misdaad aangekeer terwyl hulle by ʼn nabygeleë plaas geskuil het. Al drie is buitelanders.

“Hulle is in besit van sommige van die gesteelde items gevind, waaronder drie vuurwapens en 120 patrone,” bevestig Ledwaba. “Hulle was ook in besit van toerusting om mee in te breek.”

Maroela Media het vroeër berig twee werknemers was Dinsdag omstreeks 20:00 in hul plaashuis – naby die plaaseienaar se huis – toe die gewapende verdagtes hulle oorrompel en met vuurwapens gedreig het.

Die verdagtes het die werknemers na die eienaar, wat nie in daardie stadium tuis was nie, se huis gedwing. Hulle het die kluis oopgebreek en die huis geplunder. Twee windbukse, ʼn haelgeweer, matrasse, klere, sakke, komberse, selfone en nog items is gesteel.

Hulle het die gesteelde goedere in die plaaseienaar se voertuig, ’n Mahindra-bakkie met ʼn sleepwa, gelaai.

Die eienaar egter met ʼn ander voertuig by die huis opgedaag en die boewe op heterdaad betrap net toe hulle van die toneel wou vlug. ’n Skietery het gevolg en die verdagtes het te voet gevlug.

Lt.genl. Thembi Hadebe, die provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, het die vinnige inhegtenisneming verwelkom.

“Die ywerige werk van hierdie span en die vinnige reaksie sowel as professionaliteit is hoogs prysenswaardig. Die aangekeerde verdagtes is nou in aanhouding en sal met die volle omvang van die wet gestraf word,” het Hadebe gesê.

Die verdagtes sal na verwagting Vrydag in die landdroshof in Musina verskyn op aanklagte van sakeroof, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, besit van vermoedelik gesteelde eiendom, besit van toerusting om mee in te breek en oortreding van die Immigrasiewet.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Gertdup ·

Weereens imegrante!! Hulle moet terug na hulle eie lande gestuur word.

MJLS ·

Wonderlik! Sluit hulle ver weg toe sonder enige toekomstige parool in die vooruitsig.

TO ·

Ek wonder net was dit omdat die plaaswerkers aangeval was dat die reaksie so vinnig was. Hoeveel plaasmoorde bly onopgelos

Delia ·

Juis hoekom ek sê Minister van “grensbeheer” moet ook kom na die partytjie

Delia ·

Ek dink dit hang baie af van hoe goed die GPF funksioneer. Want ek glo hulle doen die grootste gedeelte van die werk.
“Die volle omvang van die Wet…”nee Boet, dit glo ons nie meer nie. Jy en jou Justisie kollegas praat nie dieselfde taal

Windhond ·

Na arrestasie word hulle hopelik skuldig bevind en gevonnis, dan deporteer hulle deur die nuwe grens pos en paar dae later sluip hulle weer die land binne en doen dit weer, beste raad is kwes die lede laat hulle terug oor die grens moet gaan om mediese hulp te soek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.