Dubbeldoor-vreugde vir ‘Elders’-aanbieder op pad

Erns Grundling en sy vrou, Catherien, verwag ‘n identiese tweeling. Hier het hulle pas die nuus ontvang. (Foto: Facebook/Erns Grundling)

Erns Grundling, die bekende aanbieder van die kykNET-reisprogram Elders, asook reisjoernalis en skrywer, word binnekort pa van ʼn identiese tweeling.

Dit is Erns (44) en sy vrou, Catharien, se eerstelinge, en die tweelingseuns sal na verwagting in April hul opwagting maak.

Erns vertel aan Maroela Media hy en Catharien het ʼn ruk lank probeer om swanger te raak, en hy erken hy het in ʼn stadium selfs begin dink vaderskap is hom dalk net nie beskore nie.

“So toe sy swanger raak, was dit verligting en vreugde,” sê Erns, wat twee foto’s op sosiale media gedeel het: een toe hulle uitgevind het daar is ʼn tweeling op pad en een toe hulle onlangs vir Catharien se 21 weke-sonar gegaan het.

“Ons het in Oktober met die eerste sonar by die ginekoloog eers net een fetus gesien en na die hartklop geluister. Dit was ʼn pragtige, stil oomblik … en toe sien ons al drie gelyk ʼn tweede fetus op die skerm. Ek het ʼn kragwoord geuiter, maar was dadelik buitengewoon opgewonde en dankbaar. En heeltemal oorbluf …

“Ek voel nog steeds so!

“Ons het eers ná genetiese toetse gehoor hulle is identies en met ʼn volgende sonar gesien dit is seuntjies.”

Hoewel Erns erken hy het geen idee wat om te verwag nie, vertrou hy dat ʼn “paar honderdduisend jaar se instink en DNS gaan inskop en dat ons oukei gaan wees”.

Catherien en Erns is opgewonde oor die tweelingseuns se opwagting. (Foto: Facebook/Erns Grundling)

“Ek is baie nuuskierig oor die nuwe rol as pa, want vir lank het ek gedink dit gaan nooit gebeur nie. Wat my skedule betref sal ek noodwendig moet aanpas. Ek wil meer tuis en teenwoordig wees, maar ek sal steeds gereeld moet reis; dit is hoe ek deesdae ʼn inkomste verdien en daar gaan baie nuwe uitgawes wees.”

Hy vertel Catharien sien baie uit daarna om te sien hoe die tweeling, hoewel hulle identies is, ook as individue ontwikkel.

“Sy wil hulle leer braaibroodjies maak en saam met hulle rugby kyk. Ek het onlangs ʼn dokumentêr, Dads, gekyk waarin ʼn pa sê jy hoef eintlik net drie dinge vir jou kinders te gee: liefde, geborgenheid en ʼn goeie voorbeeld. Dit is waarna ek gaan streef. ʼn Ander pa in die dokkie het ook gesê jy moet aanvaar jou kinders gaan eendag in terapie oor jou kla. So, ek gaan dit sommer nou al aanvaar.”

Erns en Catharien is in Maart 2021 getroud by The Dharma Centre op Robertson in die Wes-Kaap.

Hy skerts op sosiale media dat hulle hou van die name Siya en Steph, Rassie en Jacques, Brolloks en Bittergal, Roger en Rafa, en Romulus en Remus.

“Ons hou regtig baie van Jakkals en Wolf, maar sal eers later finaal op name besluit en dit waarskynlik eers ná die geboorte bekendmaak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Riana ·

Baie geluk. Dis wonderlike nuus. Ek het n vreeslike liefde vir n tweeling en raak super opgewonde as ek hoor iemand verwag n tweeling. Geniet die swangerskap verder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.