Die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD) het met behulp van die gemeenskap op dwelms ter waarde van duisende rande by ʼn weddery-onderneming in Boksburg beslag gelê.
Hoofsupt. Wilfred Kgasago het Maandagaand in ʼn verklaring gesê die bestuurder van die onderneming het Saterdag omstreeks 11:30 ʼn man wat verdag opgetree het by die perseel opgemerk.
“Die bestuurder het opgemerk dat die man doelloos met ʼn plastieksak, met iets verdags in, in die onderneming rondloop,” het Kgasago gesê.
“Die bestuurder het die man genader en wou onder meer weet hoekom hy geen weddenskappe plaas nie en wat in die plastieksak was.”
Volgens Kgasago het die verdagte se gedrag skielik verander. “Hy het aggressief opgetree en na die toilette gestorm. Toe hy uit die toiletgeriewe kom, het hy nie meer die plastieksak by hom gehad nie.”
Kgasago het gesê die bestuurder het flink opgetree en met veiligheidswagte gereël om die toiletgeriewe te deursoek, waar hulle op die plastieksak met 168 g CAT in ʼn toiletbak afgekom het.
Die bestuurder het die EMPD ontbied en daar is beslag gelê op dié dwelmmiddel met ʼn geskatte straatwaarde van R20 000.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die EMPD se polisie-eenheid vir openbare orde bestudeer kringtelevisiebeeldmateriaal en hoop om gou die verdagte op te spoor.