Duitse bank gaan Kaapse waterplan finansier

Silke Stadtmann (KfW), Tanja Werheit (Duitse konsul-generaal), raadslid Zahid Badroodien en Michael Webster (stad se uitvoerende direkteur vir water en sanitasie). (Foto: Verskaf)

Die Stad Kaapstad het vandeesweek ʼn ooreenkoms van miljoene rande met die Duitse Ontwikkelingsbank KfW onderteken sodat sy volhoubare waterstrategie eindelik aan die gang kan kom.

Die bank het namens die Duitse federale regering beloof om die Stad Kaapstad €4,5 miljoen (R77 miljoen) te gee om sy strategie te finansier.

“Die waterstrategie bepaal die koers na ʼn toekoms waarin Kaapstad genoegsame, betroubare watervoorsiening uit diverse bronne ontvang, sodat ons meer bestand kan wees teen die uitwerking van klimaatsverandering,” sê Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie.

“Dit bepaal ook ander stadsverpligtinge met verwysing na wyse watergebruik, veilige toegang tot water- en sanitasiedienste, streekswaterstelselsamewerking en die daarstel van ʼn watersensitiewe stad.”

Die KfW-bank ondersteun Kaapstad sedert 2018 in die rehabilitasie en uitbreiding van verskeie munisipale afvalwaterfasiliteite. ʼn Lening van €80 miljoen (R1,3 miljard in huidige terme) is destyds aan die stad toegestaan.

Die jongste finansieringsbedrag sal die koste van kundige professionele en tegniese dienste dek om die inwerkingstelling van die waterstrategie te ondersteun. Dit sal ook die direktoraat van water en sanitasie help om omvattende beplanning te doen vir die inwerkingstelling van sleutelprogramme wat geïdentifiseer is.

Dit sluit die volhoubare en verbeterde bestuur van afvalwater in vir afvoer van beter gehalte water in die omgewing, asook verbeterde batebestuur vir meer proaktiewe instandhouding om die aantal diensonderbrekings te verminder.

Die departement het vroeër vandeesmaand onderneem om alle pogings aan te wend om te verseker dat voorkomende instandhoudings voorkeur kry. Dit volg nadat twee strande en ʼn getypoel gesluit is toe twee rioolpompe onklaar geraak het en die departement genoop was om die afvalwater in die see te stort.

Verder hoop die departement ook om die finansiering te benut deur ʼn geïntegreerde hulpbronbestuurplan saam te stel. Die nuwe watervoorsiening-aanvullingsprogram en ondersoeke na hoe om die bestuur van grond- en stormwater te verbeter, sal verseker dat Kaapstad ʼn watersensitiewe stad word.

“Om hierdie visie te verwesenlik en die waterstrategie-verbintenisse na te kom, moet die Stad ʼn menigte uitdagings aanpak en sy huidige sterkpunte benut,” sê Badroodien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Anoniem ·

Wat het intussen van die 1.3 Miljard Rand geword wat in 2018 tydens die droogte geleen is om ‘n seewater suiwerings aanleg op te rig want hier is nog niks daarvan te sien nie? Is dit gebruik om die tekort aan water inkomste te finansier en om vet salarisse en bonusse te betaal?

Alfred E Neuman ·

Goeie vraag Manie. Ons wag in spanning vir die da vir die antwoord op jou vraag.

Kokerboom ·

Welgedaan Kaapstad. Wees net versigtig..die kaders in mislukte provinsies kan nie verdra dat iets werk of daar vooruitgang is! Een van die dae sit die res van die provinsies se mense in Weskaap!

Anoniem ·

‘n Groot aantal Oos-Kapenaars is alreeds hier, spesifiek hier geplant vir stem doeleindes. Dan spoel hulle nog boonop bek uit omdat hulle nie dienste ontvang op die plakkersgrond nie.

Dup ·

Dit gebeur reeds.Hulle stroom in hulle duisende die Wes-Kaap binne.

JohanR ·

Hoop nie die ANC kry hulle hande op een rand van daai geld nie. Dink net watse lekker tyd die kaders en die EFF kan he met amper R80miljoen! Hulle sal soos hiënas om ‘n stuk vleis wees!

Dup ·

Goed gedoen.Raak sommer ontslae van ESKOM ook en wek julle eie krag op.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.