Een sterf in Tembisa-oproer

Die onrus het al vroeg Maandagoggend in Tembisa begin. (Foto: Dikeledi Manamela/Twitter)

Geweld het Maandagoggend in Tembisa aan die Oos-Rand uitgebreek nadat Tania Campbell, burgemeester van Ekurhuleni, glo versuim het om lede van die gemeenskap Vrydag tydens ʼn vergadering toe te spreek en op hul eise te reageer.

Minstens een sterfte is aangemeld en infrastruktuur is beskadig terwyl verbygaande motoriste in die gebied met klippe bestook is.

Motoriste is intussen aangeraai om die Tembisa-omgewing heeltemal te vermy en “nie eens te probeer om toegang tot die gebied te verkry nie”.

Lt.kol. Kelebogile Thepa, woordvoerder van die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD), het aan Maroela Media bevestig ʼn man, vermoedelik een van die betogers, is in die oproer doodgeskiet, glo deur ʼn wetstoepasser.

Volgens die EMPD is die sterfte betreurenswaardig en die metropolisie het onderneem om meer besonderhede rondom die voorval bekend te maak sodra daar bevestiging is oor die verloop van gebeure.

“Dit is ʼn hartverskeurende situasie wat ons vandag hier moet aanskou.”

Volgens Thepa is die situasie in Tembisa wisselvallig omdat daar op verskeie plekke in die gebied betoog word.

“Dit is onmoontlik om te bepaal hoeveel betogers betrokke is, maar die meeste inwoners van Tembisa is betrokke en hulle vergader in groepe van minstens 300 mense,” sê sy.

“Die polisie en EMPD probeer voortdurend om die verskeie uitbarstings in bedwang te hou.”

Die munisipale gebou in die gebied was reeds in ligte laaie terwyl betogers gepoog het om dieselfde met ʼn Njala-polisievoertuig te doen. Ander polisievoertuie is ook beskadig nadat dit met klippe bestook is.

“Ons beamptes en hul voertuie word met klippe bestook en ʼn aantal private motors is reeds uitgebrand,” sê Thepa.

Besonderhede oor inhegtenisnemings sal eers in ʼn latere stadium bekend gemaak word.

“Alle bedrywighede in die gebied is ontwrig. Munisipale dienste is gestaak en die ambulans- en brandweerdienste kan nie toegang tot Tembisa kry om op noodgevalle te reageer nie.”

Die onluste spruit glo voort uit ʼn vergadering wat Campbell verlede week misgeloop het. Lede van die gemeenskap het ʼn memorandum aan die burgemeester oorhandig waarin eise uitgestippel is en Campbell was veronderstel om Vrydag hierop te reageer. Die memorandum handel onder meer oor munisipale tariewe en elektrisiteit.

“Die gemeenskap het nie ʼn bevredigende reaksie gekry nie en het vanoggend begin met die eerste dag van hul betoging.”

Dit is onduidelik hoe lank inwoners van plan is om te betoog en daar is weer ʼn beroep op Campbell gedoen om die gemeenskap toe te spreek.

Betogers het die R21 na en van die OR Tambo-lughawe vroeër vanoggend versper, maar die pad is later weer vir verkeer oopgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Mariana ·

Soveel geweld en oproer omdat iemand nie opgedaag het vir vergadering. Regtig? Wat is fout met die mense? Hoekom moet hulle altyd als vernietig wat voorkom omdat hulle nie hul sin kry nie? Nee dit maak geen sin nie. Eintlik ongelooflik dat sulke goed gebeur en niemand kan dit stop nie. Besef hulle dan nie dat hulle eintlik maar hulself in die proses skaad nie.

Chris dupreez ·

Dit is so. Hoekom het sy nie oogedaag vir die vergadering, of gereel dat n afvaardiging met haar kom vergader waar dit veiliger is, sy moes dit nie net geignoreer het nie,

Marcello ·

Jy moet net onthou, hulle stel nie belang in verskonings nie, en die feit dat sy GLAD NIE opgedaag het nie, maak die situasie net nog erger. Sy is eintlik die oorsaak, want ‘n mens daag op, as jy ‘n afspraak het. !!!! Of as jy nie kan nie, dan maak jy onverskoning !!

Pieter J ·

Mariana hierdieklomp sal altyd ń verskoning hê vir hul optrede maar eintlik is hulle self verantwoordelik vir hul probleme deur telkens vir die ANC te stem.

Hendrik ·

Die township is maar ‘n sweer wat so elk ‘n nou en dan oopbreek.

Manie ·

Los dit net so, moenie regmaak nie, laat hulle self sien en kom klaar.

Boer ·

Gaan die betogers ook tronk soos die Senkal boer. Dit is my vraag aan Cele.

Pietertjie ·

En hoekom is die res van die wêreld nou so stil? Of was Hector se geval “anders”?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.