Eerste Zondo-arrestasies: Vyf vas oor omstrede asbeskontrak

(Argieffoto)

Die Valke het Woensdag vyf persone in hegtenis geneem wat verbind word met die omstrede Vrystaatse asbes-ouditkontrak.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het aan Maroela Media bevestig dat vyf persone vroeër vandag in Gauteng en die Vrystaat in hegtenis geneem is vir hul betrokkenheid by ’n kontrak van R255 miljoen om behuisingseenhede met asbesdakke wat voor 1994 in die Vrystaat gebou is te beoordeel en te oudit.

Volgens Mulaudzi verwag die Valke om binnekort nog twee inhegtenisnemings in dié verband in Gauteng en KwaZulu-Natal te maak.

Luidens mediaberigte is Edwin Sodi, ʼn sakeman, en Olly Mlamleli, tot onlangs nog die uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro, onder diegene wat reeds in hegtenis geneem is.

Die verdagtes sal na verwagting Vrydag in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn op verskeie aanklagte waaronder korrupsie, bedrog en geldwassery.

Maroela Media het vroeër berig Mxolisi Dukwana, voormalige LUR vir ekonomiese ontwikkeling in die Vrystaat, het in 2019 aan die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gesê die projek rakende die behuisingseenhede was nooit op tender nie hoewel twee maatskappye, Blackhead Consulting en die sakeman Ignatius “Igo” Mpambani se maatskappy Diamond Hill Trading, altesaam R255 miljoen gekry het wat in paaiemente deur die Vrystaatse regering tussen 2014 en 2016 betaal is.

Olly Mlamleli. Foto: Mangaung-metro/Facebook

Volgens Dukwana is die R255 miljoen betaal al is daar tot vandag toe geen asbesdakke verwyder nie. Mpambani is in Junie 2017 in Sandton doodgeskiet.

Dukwana het in sy getuienis voor die Zondo-kommissie aangevoer die asbes-oudit was eintlik ʼn asbesprojek-kaping.

Die DA het boonop vandag aangedui dat hy ’n klag teen Sodi by die gesamentlike komitee oor etiek en lede se belange gaan indien. Dit nadat Sodi op sy beurt voor die Zondo-kommissie getuig het dat hy miljoene rande aan ANC-lede, ministers en adjunkministers betaal het.

Sodi het getuig dat die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, die minister van indiensneming en arbeid, Thulas Nxesi, die adjunkminister van staatsveiligheid, Zizi Kodwa, en die adjunkminister van kommunikasie en digitale tegnologie, Pinky Kekana, tussen 2013 en 2019 betalings van hom ontvang het.

Die DA het ondersoek ingestel en dié betalings is blykbaar nooit verklaar nie. Dit is ʼn direkte oortreding van artikel 5 van die parlement se kode vir etiese gedrag en openbaarmaking van lede se belange rakende konflik van finansiële of sakebelange, aldus die opposisieparty.

Die VF Plus het Woensdag se arrestasies verwelkom en in besonder die inhegtenisneming van Mlamleli.

“Die Vrystaat is leeg geplunder weens bedrog en korrupsie en het veral deurgeloop onder staatskaping. Dit is die VF Plus se standpunt dat nie slegs die amptenare wat by korrupte transaksies, tenderbedrog en ander wanpraktyke met staatsgeld betrek word gestraf moet word nie, maar ook die politici daaragter,” het Wouter Wessels, VF Plus-LP, gesê.

Hierdie arrestasies is egter waarskynlik slegs die oortjies van die seekoei en daar sal veel strenger optrede nodig wees om werklik die hooggeplaastes wat agter die plundering van die Vrystaatse staatskas sit tot verantwoording te bring, meen Wessels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Wat op dees Aarde ·

Ek het geweet DCJ Zondo gaan tot ons redding kom met hierdie korrupte spul!

Johan ·

Oh please maar jy is n optimistiese persoon hier gaan van peanuts kom.

Androclus ·

Mooi so maar is hulle in aanhouding totdat hulle Vrydag verskyn?

tweeling ·

As jy gearresteer is kan jy eers ‘borg’ kry wanneer jy in die hof verskyn, voor die hof verskyning bly jy in aanhouding.

twaalfboor ·

Verkeerd. Jy kan SAPS borg kry van ñ R1000 en later gedagvaar word om in die hof te verskyn. Die meriete van die saak speel derhalwe ñ rol in die toestaan van borg.

Spook ·

Tannie Lamlelie is Bainsvlei polisiestasie se selle. Tot Vrydag

Termiet ·

Die skerpioene kon dit destyds al gedoen het en die mense lankal toegesluit. Hoeveel van die geld gaan hulle nou terug kry?

Sakkie ·

Wanneer word Zuma, Guptas en die ander ((-_$#)+ in hegtenjs geneem. Lewe nog.lekker elke dag op miljoene belasting betalers geld !!

Jacobus ·

So hengel hulle nog in die klein dammetjies. Gooi nou die lyne in die oop water waar groot skelms nog windgat rondswem.

Nie Verbaas ·

Presies, hooggeplaastes dit nog steeds gemaklik in hulle posisies. Niks gebeur nie.

Snowball ·

Die dag as Ace sy oranje overall aantrek, is die dag dat ek glo korrupsie word aangespreek. Die hoop beskaam nie; so sal bly uitsien na die dag wat Loothuli house se deurtjies gesluit word as die broeiplek van SA se korrupsie elite.

Marius ·

Dit is alles goed en wel , maar wat van die mense wat regtig agter alles sit en die planne gemaak het ?
Die meesterbrein soos ace en zumpie moet ook vervolg word , Zondo kos die belastingbetaler al hoeveel miljoene na hoeveel jaar met al die bewyse en nou eers die eerste mense gearesteer ?

Moedeloos ·

Hul moet alles verkoop wat hul het en geld terugbetaal al gaan bly hul familielede in plaskkerkampe terwyl hul in die tronke sit. Voel hoe moet ons ander voel en sukkel om bestaan te maak.

Adam Adriaan ·

Die Vakle klim te laag in. Hulle moet daar bo by die kabinet begin waar al die planne en skeems gemaak word.

Spook ·

Hulle vat die laagstes eerste. Om hulle eie gaaie te red, sing hulle dan soos vinke oor wat die groot visse gedoen het

Kokerboom ·

Einde laaste…dis baie goeie nuus. Valke lees net asb Jaques Louis Myburgh se se boek: State Capture Ace Magashule” Alles word in fynste detail gegee. Al die name van AL die rowers! Die werk is gedoen, vang net die struikrowers

Pieter ·

Ag asb die sake gaan nog vyf jaar vat daar sal niks van kom nie. Ons almal weet mos hoe werk die ANC sirkus

Buks ·

Die land word dan deur beroepsmisdadigers regeer. Wat meer kan ons verwag?

Johanncb ·

Baie dankie, Regter Zondo en die Valke! Dit is waarvoor ons gewag het! Nou net vir die skuldigbevindings! En géén borg asseblief!

Dirk Mostert ·

Waarom in die eerste plek asbesdakke vervang. Daar moet sekerlik projekte met meer meriete wees. Nou wanneer kom die Estina-melkboerdery se beurt? Ace en Zwane is steeds op vrye voet. Ook die Mutual Bank saga, waar EFF-leiers by betrokke is. Of is dit net klein vissies wat aan die pen ry?

Yvonne ·

Die gulsige virus……gaan nou lewens begin eis…..skande op skande sonder enige skaamte of gewete

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.