EFF-lede van aanranding aangekla ná chaos by raadsvergadering

Verskeie EFF-lede was in een of ander onderonsie met ander raadslede betrokke. (Skermgreep/Twitter)

Verskeie EFF-lede is Vrydag van aanranding aangekla nadat hulle glo DA-raadslede tydens die Ekurhuleni-metro se raadsvergadering aangeval het.

Die stadsraad het Donderdag in Germiston vergader toe die EFF na bewering die DA se bank bestorm het.

Tania Campbell, oudburgemeester en DA-leier in die metro, sê die EFF-raadslede het lede van die DA “gestoot, hardhandig behandel en aangerand”.

“Raadslid Victor Lukhele was boonop tot op die grond gedwing, geskop en getrap,” beweer sy.

Beeldmateriaal doen intussen die rondte oor die beweerde aanranding. In die video’s kan gesien word hoe verskeie EFF-lede in een of ander onderonsie met ander raadslede betrokke is.

Campbell voer aan dat die speaker van die raad, Nthabiseng Tshivhenga, versuim het om die vergadering tydens die aanval tot orde te roep.

“Sy het eerder net gesit en toekyk hoe haar medepartylede ander lede fisiek aanval.”

Dit was eers toe die saak geëskaleer het, wat die speaker glo die raad verdaag het en die sitting verlaat het, sê Campbell.

Toe die raad se beskermingsdiens na die raadsaal ontbied is, het die EFF glo teen hulle gedraai en na bewering geskree: “Wie het julle gemagtig om die raadsaal binne te gaan, ons is in beheer hier,” beweer Campbell.

Die EFF het intussen sy weergawe van gebeure uitgestippel, en sê dit is ʼn “rassistiese DA-raadslid” se bedanking die aand voor die raadsvergadering wat tot die uitbarsting tydens die sitting gelei het.

Volgens die party het sy lede dit tydens die raadsvergadering duidelik gemaak dat hulle dit “nooit sal duld om met arrogante en skaamtelose wit rassiste te werk of te vergader nie”.

“Ons het dit duidelik gemaak dat enige rassis nooit toegelaat kan word om in ʼn demokratiese werksruimte soos die Ekurhuleni-raadsvergadering te wees nie.”

Die EFF het nie verduidelik waarom hulle die raadslid van rassisme beskuldig nie, maar die party het intussen ʼn saak van crimen injuria teen die lid aanhangig gemaak.

Campbell sê egter Donderdag se gebeure was ʼn “onuitgelokte aanval” wat die EFF se “minagting vir demokrasie” illustreer.

“Raadsale word gebruik om kwessies te debatteer, en ons verskille op ʼn konstruktiewe manier uit te sorteer – nie om blatante geweld te pleeg nie.”

Campbell sê dit is “hierdie aanslag op demokrasie” wat die DA genoop het om kriminele aanklagte teen die betrokke EFF-lede aanhangig te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.