EFF-voorstel vir Phala Phala-herondersoek verwerp

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Stefan Heunis/AFP)

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die Nasionale Vergadering (NV), het haar voet ferm neergesit teen die EFF se versoek aan die parlement om pres. Cyril Ramaphosa se Phala Phala-skandaal weer te ondersoek.

Volgens die parlementêre woordvoerder, Moloto Mothapo, het Mapisa-Nqakula in reaksie op die EFF se versoek gesê dat die NV nie die instelling van ʼn art. 89-ondersoek teen die president toelaat sonder ʼn voorgeskrewe proses nie.

Dit volg nadat die party ʼn beroep op Mapisa-Nqakula gedoen het om hulpbronne opsy te sit om die rooftog op Ramaphosa se plaas te ondersoek, toegang tot beeldmateriaal te verkry en onderhoude te voer met al Ramaphosa se werknemers, onder wie sy raadgewer en beskermer.

Die EFF wou ook hê dat die aangeleentheid op die agenda van Donderdag se Nasionale Programmeringskomitee verskyn sodat die party kan voorstel dat die instelling van ʼn art. 89-afsettingskomitee vir Donderdagmiddag geskeduleer word.

Ramaphosa se aansoek om die verdoemende Phala Phala-verslag onwettig en nietig te laat verklaar, is Woensdag deur die Konstitusionele Hof van die hand gewys.

“In haar antwoord het die speaker gesê die Konstitusionele Hof se beslissing maak geensins die NV se besluit van 13 Desember, toe die aangeleentheid afgehandel is, ongeldig nie,” het Mothapo gesê.

“Verlede jaar het die Nasionale Vergadering die verslag van die paneel oor die Phala Phala-aangeleentheid oorweeg en teen die aanvaarding daarvan besluit.”

Die hof het geen bevindings gemaak met betrekking tot die meriete van die paneelverslag, of die geldigheid van die besluit van die Vergadering nie.

Die onafhanklike art. 89-paneel het verlede jaar sy verslag uitgereik en prima facie-bewyse gevind dat Ramaphosa wel die Grondwet oortree het met betrekking tot die Phala Phala-skandaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Ons, die burgers wat glo in ‘n waardestelsel gebaseer op eerlikheid, geregtigheid, aanspreeklikheid en glykheid voor die reg, verwag dat die Nasionale Vervolgingsgesag onverwyld in rat kom en hierdie Phala Phala-saak ondersoek. Die burgery is besig om sy vertroue in die doeltreffendheid en effektiwiteit van die NVG te verloor. Die ANC-leierskap is geen regbank nie.

Hendrik ·

Is dit nou nie ‘n duidelike bewys dat die kadere mekaar beskerm nie ne.

Harley Davidson ·

Die ANC hooggeplaaste val nie onder die wet soos die res van die volk nie ,is dit nie al oor en oor bewys nie ,weer malema wat die versoek bring waar is die DA en Vf+?

Amelia ·

Ek dink ook sal goed wees as ondersoek word en die pres die tax betaal op dit hoekom word hy altyd teen als beskerm wat goed is vir 1 is mos maar goed vir almal

Amelia ·

laat die waarheid ook uitkom waar ged vandaan kom sekerlik nie van wild nie Het dit dalk iets met eskom te doen

Samuel ·

Die kaders beskerm mekaar en die doeltreffendheid van die NVG word bevraagteken.

Grassie ·

Ek glo Ramamparra se optrede is een van die redes waarom ons finansies op die gryslys gepaas is. As ‘n land se president op een of ander slinkse manier miljoene dollar in die hande kry en dit nie in ‘n handelsbank deponeer nie maar in ‘n rusbank op sy plaas, is dit duidelik dat daar geldwassery aan die gang was. As hy dan sy mag gebruik om ‘n komitee aan te stel wat bevind dat die aangeleentheid nie verder ondersoek gaan word nie lui daar groot alarmklokke wat plaaslik geïgnoreer word maar hard en duidelik deur die internasionale finansiële instansies gehoor word. ‘n Vis word van sy kop af vrot.

Corné ·

Die EFF moet as n terroriste organisasie verklaar en verban word. Hulle versprei net rassisme.

Nie Verbaas ·

Dit wys mens wat die integriteit van sekeres is. Dit bestaan nie. Hulle sal aanhou om nuttelose gemors te beskerm maar as jy wit is is jou kaartjie bespreek.

Papsak ·

Ja nee duidelik sigbaar so beskerm die gemors mekaar sies ek sal skaam kry nie eers my gesig wys op tv of maroela as ek Ramapohsa is nie hy moet sy gesig weg draai skelm

JohanR ·

Moenie bekommer nie Squirrel. Op een of ander manier gaan jou Phala Phala dag kom! En daai dag gaan ek soe lekker kry.

Eugene ·

Kaders kop in een mus, maar mooi EFF, moet dit nie daar laat nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.