Effense verligting wag dalk op motoriste

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Erik Mclean/Unsplash)

Die Automobiel-Assosiasie (AA) het vir ʼn slag goeie nuus.

Die AA voorspel dat die brandstofprys in November moontlik kan daal. Dié voorspelling is gegrond op ongeouditeerde data van die Sentrale Energiefonds (SEF).

Die ongeouditeerde data toon dat die prys van 95-oktaan-petrol volgende maand met sowat R1,97 per liter kan daal. Motoriste sal ook na verwagting R1,92 minder per liter vir 93-oktaan-petrol hoef te betaal.

Diesel, wat die afgelope paar maande ʼn opwaartse trajek beleef het, sal na verwagting sowat 78c per liter minder by die brandstofpomp kos en alle aanduidings is dat die prys van paraffien met 74c per liter kan daal.

“Hierdie beduidende dalings sal op ʼn baie kritieke tyd kom vir Suid-Afrikaners wat al dieper in hul sakke moet delf om hul voertuie en kostrollies vol te maak,” sê die AA.

Die verwagte dalings word hoofsaaklik toegeskryf aan meer stabiele internasionale oliepryse, ten spyte van ʼn oorlog in die Midde-Ooste, wat oorspronklik ʼn styging in oliepryse tot gevolg gehad het. Die rand-dollar-wisselkoers is egter oor die algemeen swakker en het tog steeds ʼn invloed op wat andersins ʼn positiewe vooruitsig is, waarsku die AA.

“Die vooruitsig vir November sal broodnodige verligting aan verbruikers bied, veral met die daling van die prys van diesel wat ʼn groot insetkoste in groot sektore soos landbou, mynbou en vervaardiging is, en ʼn verhoging hier dra dikwels by tot verhoogde pryse van basiese kommoditeite.”

Die AA waarsku ook dat die brandstofprys eers oor twee weke amptelik aangepas sal word en dat dit steeds negatief beïnvloed kan word deur die opwaartse trajek van oliepryse weens die voortslepende konflik in Israel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Wondermaarnet ·

Dit is die voorspelling, maar kom dit by prysverlaging dan is dit 12c.

Papsak ·

Ja Desember vakansie kom daarom doen hulle dit kyk na Desember alles weer sky high hoog dit isal wat regering mos ken druk petrol en kos oryse want hulle lewe mos lekker

Piet parys ·

Ongelukkig wil almal die eerste wees wat n verlaging aankondig maar ons weet mos voor end van die maand kan baie dinge verander soos gewoonlik .

OU SAAR ·

Presies.
Nog nooit gesien dat kospryse saam brandstofpryse daal nie.
Nee wat, dan maak die winkeleienaars nou eers held. Hulle laat dink my nogal dan aan die regering…
Wil net hê…

CHRISTINE ·

Wel die son mag steeds nie oor Suid Afrikaners wat nie ANC kaders is skyn nie want met die verligting is die prys steeds superinflated, en dan sit die terroriste net die rentekoers op want dat daar nou net ‘n Suid Afrikaner is wat gelukkig is – bis jou aan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.