Einde van regspad vir Packham

Rob Packham tydens sy verhoor. (Foto: Armand Hough/ANA)

Die veroordeelde moordenaar Rob Packham sal moet vrede maak met sy vonnis van 22 jaar tronkstraf vir die moord op sy vrou, nadat die Konstitusionele Hof die laaste sê gehad het.

Packham se aansoek om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding is Dinsdag deur die hoogste hof van die hand gewys. Al sy vorige pogings tot verlof van appèl is ook van die hand gewys waarna hy hom as laaste uitweg tot die Konstitusionele Hof gewend het.

Packham is op 12 Junie 2019 tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op sy vrou, Gill. Hy is ook tot vier jaar tronkstraf gevonnis vir regsverydeling, waarvan twee jaar gelyklopend met die ander vonnis uitgedien word.

Die staatsaanklaer, adv. Susan Galloway, het die Konstitusionele Hof se beslissing verwelkom.

“Na my mening het die Konstitusionele Hof alle aspekte van die aansoek aangeraak. Daar kan nou geen twyfel bestaan dat hy korrek skuldig bevind is nie. Ek is natuurlik baie bly dat geregtigheid geskied,” het sy gesê.

Regter Elize Steyn het bevind Packham het Gill in Februarie 2018 vermoor deur haar met ʼn stomp voorwerp oor die kop te slaan en dat hy later haar liggaam in die kattebak van haar motor gelaai en dit by die Dieprivier-treinstasie aan die brand gaan steek het.

Rob en Gill Packham. (Foto: Facebook)

Packham was bykans 30 jaar lank met sy vrou getroud, maar die huwelik het gewankel weens Packham se ontrouheid voor Gill se verdwyning op 22 Februarie 2018. Sy het dié oggend nie soos gewoonlik teen 07:30 by die werk aangekom nie en haar liggaam is later in die uitgebrande wrak van haar BMW naby die Dieprivierstasie gekry.

Steyn het Packham se weergawe van gebeure, dat Gill moontlik die slagoffer van ʼn kaping was, verwerp en bevind dat Rob Packham ʼn vernuftige leuenaar is. Sy het met die staat saamgestem dat sy optrede “onverstaanbaar” en ʼn aanduiding van skuld was.

Steyn het gesê Packham het met Gill se liggaam in die kattebak van die motor rondgery nadat hy haar in hul eie huis vermoor het. Hy het die nommerplate verwyder en die voertuig aan die brand gesteek, “die laaste, moreel afstootlike daad”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Kattebol ·

Geregtigheid het geskied alhoewel dit niks help vir die mense wat steeds oor haar treur nie.

Cindy ·

Goed so! Mag hy nou maar sy laaste paar jare gaan sit en dink aan sy mooi vrou wat hy so wreed vermoor het!

Suzette ·

Nou ja – uiteindelik!! Jy was al lankal gegroet maar die vermetelheid wat jy gehad om jouself te verontskuldig terwyl jy ‘n moordenaar en verneuker is ken geen perke. Hoekom het jy nie eerder van Gill geskei nie?? Dit was nie nodig om haar te vermoor nie. TOTSIENS!

Niklaas ·

Geregtigheid seëvier in hierdie geval. Maar wat word van die meer gelukkige Jason Rhode se situasie? Vra maar net.

Anoniem ·

Jason hang nog aan ‘n tak en bid dat hy vrygelaat gaan word.

lollapot ·

Geregtigheid het ALTYD iewers ‘n vinger in die paai . . . Goeie werk Adv. Susan Galloway!

Oom Hennie Pennie ·

Hoe gebeur so iets na 30 jaar getroude lewe? Teen hierdie tyd moes hulle al heelwat sakke sout saam opgeeet het?

JohanR ·

Waaneer gaan Jason Rhode terug tronk toe? Sit nou lekker by die huis nadat hy R200000 borg ingehandig het. Die ou wat die selfde misdaad gepleeg het, maar net R2000 gehad het vir borgtog sit nog in die tronk.

Alet ·

Dit lyk vir my moordenaars raak al hoe arroganter by die dag.

Belinda ·

Ek is saam met Susan Galloway, Regter Elize Steyn, Polisie en almal betrokke by getuienis en om die saak , die familie dankbaar vir hierdie uitslag. Geen persoon het die reg om ‘n ander te vermoor nie, meer nog te sê, jou lewensmaat, daar waar jou skuiling, veilige hawe behoort te wees. Sy arrogansie en bespotting van die reg deurentyd het gewys dat hy geen berou het nie, dit is soos om van ‘n lastige suiker miertjie ontslae te raak, jou maatjie, jou kinders se Ma, moeder figuur, volgens getuienis was sy ‘n goeie Moeder en Vrou.

lodewyk ·

22 jaar tronkstraf vir moord?? -geregtigheid het nie geskied nie !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.