Video: ‘Ek kan nooit myself vergewe’

Gerhard Jansen van Vuuren se ma, Thea Pretorius, was die eerste keer in twee jaar se tyd in die hof (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

“Ek wens Andrea se pa sal my eendag die geleentheid gee om met hom te praat en dat ons vrede kan vind.”

Gerhard Jansen van Vuuren (41) het Woensdag self in die getuienisbank gestaan en sy hart uitgestort oor die moord op sy gewese meisie, Andrea Venter (25).

Dit was ’n onverwagse wending toe die verdediging Jansen van Vuuren tydens sy voorvonnisverhoor in die hooggeregshof in Johannesburg roep om te getuig. Dit volg nadat Andrea se pa, Dries Venter (71), tydens sy getuienis vertel het oor hoeveel hartseer en pyn deur Andrea se dood veroorsaak is.

Voor die afskop van die hofverrigtinge het sy ma, Thea Pretorius, hom in die beskuldigdebank gegroet en omhels. Dit is die eerste keer in die afgelope twee jaar wat Pretorius die hofsaak bywoon.

Die hof het verlede maand beslis dat Jansen van Vuuren doelgerig opgetree het toe hy Venter in 2011 vermoor het. Hy is skuldig bevind op aanklag van moord met voorbedagte rade en aanranding.

Andrea is volgens die nadoodse getuienis 16 keer met ’n mes in die bolyf gesteek.

‘Ek kan nie onthou nie’

Gerhard Jansen van Vuuren in die getuienisbank (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Jansen van Vuuren hou steeds vol dat hy nie kan onthou wat die dag van Andrea se moord gebeur het nie. Hy sê hy soek self nog antwoorde en kan nie verduidelik wat presies fout gegaan het nie.

“Ek het in die hof vir die eerste keer gesien wat presies daardie dag gebeur het. Ek het nie eers geweet dat ek my eie keel oopgesny het nie. Realiteit het ingeskop toe ek uit die koma wakker word,” het Jansen van Vuuren Woensdag in die hof vertel.

“My bedoeling was nie om Andrea seer te maak nie. Ek voel verskriklik dat ek die een is wat vir haar dood verantwoordelik is.”

Venter het in die hof oor Jansen van Vuuren se versoek om met hom te praat, gesê “dat dit ’n riem onder sy hart sal wees indien Jansen van Vuuren vir hom kan sê waarom hy vir Andrea vermoor het”.

“Dit is vrae wat seker nooit beantwoord sal word nie, want Andrea is nie meer hier nie,” het Venter gesê.

Jansen van Vuuren se regspan het tydens die verhoor aangevoer dat hy anaboliese steroïde gebruik het en dat dit sy gemoed beïnvloed het en hom ook meer aggressief gemaak het.

“Ek besef nou eers hoe erg dit my lewe verander het,” vertel Jansen van Vuuren.

Johanna Carina Wolmarans, ’n maatskaplike werker, het getuig dat familielede Jansen van Vuuren nie as ’n aggressiewe mens opgesom het nie. Twee van sy meisies met wie hy ná Andrea se dood in ’n verhouding was, het aan Wolmarans gesê dat hy nooit sy hand vir hulle gelig het nie.

Berou

Andrea Venter se pa, Dries, en haar broer, Kobus, vertel die hofsaak krap weer ou wonde oop (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Jansen van Vuuren sê skuldgevoelens vreet hom van binne af op. Hy het ook Andrea se familie in die hof om verskoning gevra dat hy hulle soveel pyn en hartseer veroorsaak het.

“Ek het ná Andrea se dood so skuldig gevoel dat ek nie kon eet of slaap nie. Ek wou nie my antidepressante drink nie, want dan vat dit my hartseer weg, en dit het nie regverdig teenoor Andrea gevoel nie.”

Jansen van Vuuren sê hy wil ook dinge met Andrea se familie regmaak.

“As Christene glo ek ons kan mekaar vergewe, maar ek dink nie ek kan myself al vergewe nie. Ek wens ek kon beter besluite geneem het.

“Ek verstaan die haat wat die familie teenoor my het. Ek het ook al geliefdes verloor. Ek wil net hê mense moet besef ek is nie ’n slegte mens nie.”

Andrea Venter (Foto: Verskaf)

Jansen van Vuuren sê dit is ’n wonderwerk dat hy ’n tweede kans op die lewe kon kry om ander mense daarbuite te kan help sodat hulle nie dieselfde verkeerde keuses as hy maak nie. “Ek gaan ook hierdie geleentheid gebruik om op myself te verbeter.”

Volgens Jansen van Vuuren het hy in Mei 2013, vier dae voor sy moordverhoor sou begin, na Brasilië toe gevlug omdat hy skaam en skuldig gevoel het. Hy voer aan hy was ook onder geweldige stres oor die hofsaak.

Jansen van Vuuren sê hy het in die afgelope 11 jaar handomkeer verander en sy kinders het daartoe bygedra dat hy ’n ander persepsie oor die lewe kry.

Volgens hom was Andrea die liefde van sy lewe, hoewel hul verhouding nie perfek was nie.

“Ek glo wel tot vandag toe ons sou bymekaar opeindig.”

Die slotbetoë word Donderdag aangehoor.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

KatjieDeKat ·

Ag asseblief. Spaar jou leuens en “sob stories” vir diegene wat n IK van 10 of 11 het. Dra die gevolge van jou aksies. Niemand gee om wat jy sê nie. Gaan huil by jou selmaatjies. Miskien is hulle so verveeld dat hulle sal luister. Miskien.

Vanessa ·

Ek is so jammer, maar ek vind dit moeilik om te glo wat hy sê, daar is ‘n paar dinge wat nie sin maak nie. Hy moet realiteit in die oë staar en ophou verskonings soek. In my oë is hy ‘n lafaard wat bejammering soek.

Nina Uit ·

En so mense, lyk ‘n teksboek narsis. Hy het SO skuldig gevoel dat hy vir 10 jaar gevlug het. Ek, ek en weer ék. ‘Mense moet weet ek is eintlik goed’. Nouja.

Marietjie ·

Ek verstaan bie die 2 meisies wat hy gehad het na die moord nie. Reallybis jy dom of wat, lees jy nie die nuus nie. Hoekom wil jy uitgaan met n moordenaar en dan nog opkom vir hom.

George ·

Daar is baie wat nou nog nie weet van die man nie. Net soos jy ook nie weet wies almal moordenaars in die land nie, 10 teen 1 stap jy verby minstens 1 n dag sonder om te weet. Nie almal lees maroelamedia nie, min mense kyk nuus en nie alle media outlets doen dieselfde stories nie.

annie ·

Dié man het nog nooit skuldg gevoel nie. Om te dink dat hy… hy van alle mense nou nie vergewe word vir wat hy nie wou doen nie. Gebruik die geleentheid in die tronk en skryf ‘n meta-drama oor jou pyn en lyding en pos dit in die asblik.

Nommer 7 ·

Mnr Jansen van Vuuren, dit is goed dat u u hart uitgestort het. Mag u lewenslank kry en borgtog nie voor 35 jaar nie. Tronklewe is moeilik, maar troos uself daaraan dat u na sowat 20 jaar daaraan gewoond sal raak. Die oorblywende 15 jaar sal dan minder erg wees.

domheks ·

Die eie EK, EK, EK sal nie verander nie! Moenie dink jy kan almal om die bos lei nie! Ek voel jammerder vir jou Ma as vir jou! Sterkte aan die ouers. Vir jou geen simpatie nie.

Willie ·

Nee strooi man…daai man het geen skuld gevoelens of slegte gewetens nie!
Tipies van n koudbloedige moordenaar… kan sien hy sal iemand 12 keer met n mes kan dood steek.

Piet ·

Nee wat sit pappie en vat jou pakslae soos ‘n man. Niks wat jy se of doen gaan haar terug bring nie. Moet noem dat die youtube agtergrond dromme is te dramaties, dit kan sonder dit doen.

Richard ·

Noudat jy reeds skuldig bevind is, nou is jy jammer, maar jy erken niks. Jy KAN onthou wat gebeur het. Jy lieg as jy se jy kan nie. Jy is nou jammer om ‘n ligter vonnis te kry. Jy is nie jammer nie. As jy jammer was het jy jouself lankal oorgegee, en sou jy nie uitgelewer moes word nie.

Johann ·

Teks boek Psigopaat! Lieg soos asemhaal. Gaan oor “me myself and I”. Totale miskonsepsie van die werklikheid. Arrogante aanname dat hy die bron van vrede is vir ander? Jammer maar…en dan n lys van verskonings en redes hoekom hy eintlik die slagoffer is? Gewetenlose manupileerder.

Sonblom ·

Ek voel so jammer vir die ouers. Oom Dries het sy dogter geweldadig verloor, en tannie Thea moet berusting vind dat haar seun ‘n moordenaar is. Hoe steek jy iemand 12 keer en onthou nie? Hy moet maar in die tronk die mense gaan probeer beter leer. Dis waar hy hoort.

Sarel ·

1. Sy pleidooi…skuld en ek is jammer sal vir hom twee dinge in die sak bring nl.
Versagting wanneer dit by Vonnisoplegging en Parool kom.
Ons weet egter nie skegs sal weet of hy ” gecoach” is en of sy betou oprsg is. Elke mens het die reg op Berou en Vergifinis voor God.

Windhond ·

Hy weet nie wat gebeur het nie maar hy wil ander mense help om nie die verkeerde besluite te neem nie ? neewat meneer dis jou gewete wat jou kou – dis n natuurlike proses wat karma genoem word – dit het n lang “shelf” life en sal jou nog baie jare lank dien

JohanR ·

Ek kan nie onthou nie. Die ou ly aan die selfde siekte as Jacon Zuma!

Swerwer ·

Enige persoon wat misdaad gepleeg het, kry tog seker berou op die pad en probeer dan die regte pad stap. Alles wat hy gesê het maak net nie sin nie. As ‘n persoon berou het oor wat hy gedoen het, sal hy mos van die begin af berou getoon het. Ek weet nie…………………………

Corne ·

“Don’t want to be hated unnecessarily”, regtig?

Die vermetelheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.