Pa gee brief ná 11 jaar aan Jansen van Vuuren

Gerhard Jansen van Vuuren in die hooggeregshof in Johannesburg (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

“Soos dit die hof behaag, wil ek vra vir ’n maksimum vonnis sonder parool.”

Só het wyle Andrea Venter (25) se pa, Dries Venter (71), met trane in sy oë vir regter Ian Cox vanuit die getuiebank gevra toe hy ter verswaring van sy dogter se moordenaar, Gerhard Jansen van Vuuren (41), getuig het.

Jansen van Vuuren se voorvonnisverhoor het Woensdag in die hooggeregshof in Johannesburg begin. Hy is op 13 Junie skuldig bevind aan Venter se moord in 2011.

Venter het tydens sy getuienis die trauma en hartseer beskryf wat Jansen van Vuuren, Andrea se gewese kêrel, vir die Venter-gesin veroorsaak het. Hy het hulle meegedeel hoe daar nie ’n dag verbygaan dat hy nie aan sy geliefde dogter dink nie.

Venter het in die hof getuig hoe Andrea die eerste proefbuisbaba in Rustenburg was en dat sy as jong dame op pad was om nog groot mylpale in haar loopbaan te bereik. Sy het etlike maande voor haar dood by ’n ouditeursfirma in Fourways as rekenmeester begin werk en het pas ’n vennootskapsaanbod by dié firma gekry.

Dries Venter op die getuienisbank terwyl hy die brief in die hof voorlees (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Sedert Andrea se dood het Venter en sy oorlede vrou se gesondheid daagliks versleg en moes hulle vir mediese behandeling gaan, getuig Venter. Volgens Venter het Annatjie só erg oor Andrea se dood getreur dat sy in 2016 weens ’n “gebroke hart” oorlede is.

Venter het in Oktober 2020 net nadat Jansen van Vuuren aan Suid-Afrika van Brasilië uitgelewer is, ’n brief vir hom geskryf, wat hy toe Woensdag in die hof voorgelees het. Hy het agterna die brief aan Jansen van Vuuren se regsverteenwoordiger oorhandig.

Jansen van Vuuren het in Mei 2013, vier dae voordat sy moordverhoor sou begin, na Brasilië gevlug.

“Baie dankie dat jy ons met jou teenwoordigheid vereer. Jy weet wat jy gedoen het. Baie dankie nogmaals dat jy gevlug het. Die lang arm van die gereg het jou opgespoor,” lui die brief.

“Jy is terug om die vonnis uit te dien wat jy verdien het toe jy Andrea vermoor het met jou knipmes. Nóg jy nóg jou ouers kan my en my vrou vergoed vir die moord op ons dogter. Ek wil jou hartlik verwelkom, want die tronk is die volgende plek waar jy vir jou daad sal boet.

“My vrou is oorlede as gevolg van hartseer wat jy veroorsaak het deur Andrea dood te maak. Eintlik is jy ook verantwoordelik vir my vrou se dood.”

Jansen van Vuuren het ná Venter se getuienis die beskuldigdebank betree en die Venter-familie om verskoning vir sy dade gevra. Lees Donderdagoggend in Maroela Media meer oor sy getuienis.

Die staat het ook dr. Sheena Swemmer, die hoof van die sentrum van toegepaste regstudies by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) – wat ook ’n kenner in geslagsgebaseerde moord en vrouemoord is – geroep.

Die staat skryf Andrea se moord aan geslagsgeweld toe en Swemmer getuig indien die hof tot dieselfde gevolgtrekking kom, kan dit ter verswaring van Jansen van Vuuren se vonnis dien.

“Geslagsgeweld is ’n haatmisdaad en diskriminasie teen vroue, wat die regering op ’n daaglikse grondslag aktief bestry,” het Swemmer getuig.

Ter versagting van Jansen van Vuuren se vonnis het Johanna Carina Wolmarans, ’n maatskaplike werker, getuig dat hy berou toon en gereed is om in die gevangenis gerehabiliteer te word.

“Hy besef wat hy gedoen het en besef ook dat hy groot hartseer veroorsaak het,” getuig Wolmarans.

Sy beskryf Andrea se moord as ’n geïsoleerde geval, wat volgens haar nie weer sal gebeur nie.

Volgens Wolmarans het Jansen van Vuuren haar tydens konsultasie vertel van sy gebroke familie.

“Hy moes die gewelddadige verhouding van sy ouers aanskou en sy suster het op 18 jaar haar eie lewe geneem. Ná sy ouers se egskeiding moes hy tussen sy pa en ma se huise beweeg.”

Jansen van Vuuren se susterskind (16) het in 2010 ook homself om die lewe gebring.

“Jansen van Vuuren het baie swaar gekry ná die selfdood van sy suster en susterskind.”

Familielede het aan Wolmarans vertel dat Jansen van Vuuren ’n stil kind was, wat op sy plek was en nie aggressief voorgekom het nie. Volgens die familielede het hy die grond aanbid waarop Andrea geloop het.

“Ek het die liefde van my lewe verloor deur my eie toedoen. Ek het ’n toekoms saam met Andrea gesien,” het Jansen van Vuuren aan Wolmarans vertel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Cherokee ·

Een van my vele seëninge is dat ek nie ‘n tipe beroep beoefen waarin ek monsters moet probeer verdedig.

Cecilia ·

Ek is in daardie beroep. En om my klient se regte te beskerm in ‘n hof en toe te sien dat die regte prosedures gevolg word, is wat ons werk behels. Soms is daar verwere om aksies te regverdig, soms nie.

So basies, ja. Jy sou heel waarskynlik nie die beroep kon beoefen nie want jou wanpersepsie van die verdediging se funksie en jou algemene persepsie maak dit baie duidelik vir my.

KatjieDeKat ·

Dis iets waaroor ek altyd wonder: Hoe kyk sulke mense na hulself in die spieël en voel goed oor hulself? Ek weet geld is vir sommige n regverdiging, vir ander die oortuiging dat almal geregtig is op regsverteenwoordiging. Die laaste opsie is natuurlik waar, maar vir tipes soos hierdie Jansen van Vuuren kalant..Sorry neh, jy is op jou eie, sien en kom klaar, Moordenaar. Ek self sou eenvoudig nie kon nie.

ES ·

Daar is ‘n baie groot verskil tussen verteenwoordiging en verdediging. Die regslui verdedig nie sy/haar klient in kriminele sake nie, hulle verteenwoordig hul klient in die hof en maak seker prosedure word gevolg.

In siviele sake verdedig die regslui jou posisie vir skadevoergoeding, verdediging ten opsigte daarvan of watookal jou aansoek tot die hof is.

Daar is ‘n ongelooflike wanpersepsie deur Jan Alleman oor wat die regsverteenwoordiging behels en almal dink dat regslui dit doen vir die geld – dit is absoluut nie so nie.

Terloops, Art 35 van die Konstitusie bevorder elke mens se reg tot verteenwoordiging in die hof en behels dat almal as onskuldig beskou word totdat ‘n bevoegde hof jou skuldig bevind. Iemand moet dit doen, en as jy dit doen dan word jy summier gekruisig deur die hof van “publieke opinie”.

Realis Thailand ·

Waarom het hy gevlug en nou vra hy om genade, net n lafaard vlug
Waarom nou spyt en ek is seker hy gaan ook tot inkeer kom in die tronk. Baie doen dit om so gou as moontlik parool te kry
Ek hoop hy kry lewenslank want dan moet hy ten minste 25 jaar sit.
Sy gebroke familei tel nie by my
Duisende mense kom uit n gebroke familie en maak n groot sukses van hulle lewe.
Almal ken so n persoon. Ek ken verskeie sulke mense wat n bate vir die samelewing is
Laat hom so lank as moontlik sit.
Sterkte aan die vermoorde se familie en vernaamlik die vader

Anna84 ·

Ek val ook al lankal nie meer vir die gebroke familie ding nie. My eie man kom uit ‘n gebroke huis waar sy ma deur sy stiefpa geslaan en sleg gesê is. En vandag is hy ‘n beter mens en het daaruit geleer hoe om NIE ‘n vrou te behandel nie.

ES ·

Ek sou dit net so moeilik vind om ‘n familielid se moordenaar te vergewe. Ek weet nie hoe doen mens dit nie en ek kan vir Mnr Venter nie kwalik neem dat hy nie kan vergewe nie want sy dogter was jonk en sprankelend en sy het haar lewe reg begin.

Dis net jammer dat Jansen van Vuuren oor haar pad gekom het. Die feit dat hy gevlug het wys maar net dat hy nie verantwoordelikheid wou neem vir sy dade nie. Hy moet maar lekker in die tronk vrot.

Frank John ·

Jammer oor alles maar dit klink nie opreg vir my die berou nie. Dit klink meer juis aangeplak en voorgesê om versagting te kry. Net te aangeplak. As hy werklik berou het, waarom vir so lank vlug. Ek dink die aansit berou is omdat hy gevang is. As hy kon weg kom sou hy nie berou gewys het nie.

Stafsersant ·

Die afgelope maande in die tronk begin duidelik wys…mag jy vrot in die tronk.

AH ·

Myns insiens is daar geen versagtende omstandighede vir moord met voorbedagde rade nie, geen regverdiging of geen verdediging nie!!!! Hoekom word die tragiese omstandighede gebruik ter versagting? As almal a.g.v. tragiese omstandighede in hul jeug kon moor om soort van terugbetaling vir hul omstandighede te kry sou ons mekaar seker al uitgemoor het!!

Niklaas ·

Laat ons maar hoop dat hierdie uiters gevaarlike indiwidu nie binne 35 jaar by die tronk gaan uitstap nie. Daar blyk vir my geen rehabilitasie te wees by hom nie. En ek is gladnie oortuig van sy kastige berou op hede nie .Sy enigste groot hartseer is die feit dat sy uitlewering vanaf Brasilië suksesvol was vir wetstoepassers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.