Ellisras-plaasmoord: Moordenaars swaar gevonnis

Thapelo Nickel Motsamai(links) en Phuti Phineas Molangoane (regs) (Foto: Verskaf)

Die provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, lt.genl. Nneke Ledwaba, het die swaar vonnisse verwelkom wat Maandag in die hooggeregshof in Polokwane opgelê is teen twee van die vier beskuldigdes wat skuldig bevind is aan die moord op Hendrik Pieter Pieterse. Die 57-jarige Pieterse is in Februarie 2017 op ‘n plaas in die Lephalale-distrik (Ellisras) in Limpopo vermoor.

Die beskuldigdes, Phuti Phineas Molongoane (39) en Thapelo Nickel Motsamai (25), het op 6 Februarie 2017 in die vroeë oggendure saam met hul twee makkers, Justice Rasodi (38) en Phillip Modime (36), Pieterse se plaas betree en hom oorrompel.

Pieterse is met verskillende voorwerpe erg aangerand. Die verdagtes het daarna met sy wit Isuzu-bakkie van die toneel gevlug.

Twee gewere, selfone en ander waardevolle artikels is ook tydens die aanval gebuit. Die vyfde verdagte wat die ander vier op die plaas besorg het, het tydens die aanval in die voertuig gewag.

Pieterse is later na die aanval gevind, maar het op pad na die hospitaal aan sy beserings beswyk.

ʼn Soektog na die verdagtes is van stapel gestuur en twee mans is ʼn paar uur na die aanval in die Shongwane-gebied aangekeer. Nog twee verdagtes is ook daardie selfde maand vasgetrek. Modime was in daardie stadium nog op vrye voet.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, sê tydens die daaropvolgende hofverskynings is die vier beskuldigdes borgtog toegestaan. Die vierde beskuldigde, wat die voertuig bestuur het, het later ’n staatsgetuie geword.

Volgens Mojapelo het Rasodi versuim om die hofverrigtinge by te woon nadat hy op borgtog vrygelaat is. Die polisie het hom gaan soek en hy is kort daarna weer in hegtenis geneem.

“Terwyl Rasodi op borgtog uit was, was hy by ʼn huisroof in Seshego betrokke en het hy ʼn reeks ander misdade gepleeg. Hy is in Modimolle gevind toe hy by Modime, wat toe nog op vrye voet was, opgespoor en in hegtenis geneem is.”

Modime is tydens die inhegtenisneming in ʼn skietgeveg met die polisie doodgeskiet.

Molangoane is Maandag tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir moord en 15 jaar elk vir huisbraak met die doel om te roof asook roof met verswarende omstandighede. Hy is verder tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis vir die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen. Hy dien die vonnisse van 15 en vyf jaar gelyktydig uit.

Motsamai is tot 15 jaar tronkstraf op elk van die aanklagte van huisbraak met die voorneme om te roof asook roof met verswarende omstandighede gevonnis. Hy dien die vonnisse gelyktydig uit.

Die verhoor van Rasodi sal na verwagting op 15 Oktober begin. Hy staan tereg op ʼn reeks aanklagte wat insluit moord, die besit van ʼn vermoedelik gesteelde motorvoertuig, huisroof, diefstal en inbrake in die Villa Nora-, Modimolle-, Seshego- en Lephalale-omgewing. Hy het hierdie misdade gepleeg terwyl hy op borgtog uit was.

Ledwaba het die goeie werk van die ondersoekspan geloof.

“Die Suid-Afrikaanse polisiediens (SAPD) in die provinsie stel die veiligheid en sekuriteit van die boeregemeenskap voorop,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Willem ·

Moordenaars word op borgtog vrygelaat maar ń boer wat niks gedoen het nie kry nie borg. Regstelsel pateties

Rentia ·

Twak man…. swaar gestraf? Gratis kos, veblyf, vermaak, opvoeding SOU hulle wou, enige vorm van “ondersteuning” moontlik, want dis mos “mense” wat “regte” het… Watse regte het Hendrik gehad?? Kom die volgende pandemie, word hulle vrygelaat want oe die “regte en menslikheid” van moordenaars kraai koning. Goeie voorbeeld pas weer daarvan.
Dit is walglik om die minste te sê!

Albert Willem ·

Dis waar en lewe in gerief op belasting geld. Solank hulle so lekker bly sal moorde nie ophou nie

Byekonfyt ·

Goed so. Sy naasbestaandes moes drie jaar wag maar dis seker “beter” laat as nooit.
Ek sal nooit die wreedaardigheid kan verstaan nie. Het ons samelewing regtig nòg mense nodig wat haat en geweld aanmoedig?

Jywilwat ·

Dit bring hulle nie terug nie. Cele en Rama, hou op praat en doen iets!

katerinadiekat ·

Vyftien jaar vir brutale moord? Dis n tik oor die vingers, nie n swaar straf nie.

Byekonfyt ·

Die berig lui ;
Molangoane is Maandag tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir moord en 15 jaar elk vir huisbraak met die doel om te roof asook roof met verswarende omstandighede. Hy is verder tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis vir die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen. Hy dien die vonnisse van 15 en vyf jaar gelyktydig uit.

Pieter ·

Kyk die se alles-. Wat van die ons BOER wat in aanhouding bly?

Salome ·

Die straf moet nie gelyktydige uitgedien word nie, maar apart dat hulle vir die res van hulle lewens in die tronk moet sit in ‘n donker sel.

Jakes ·

Dit is patetiese en skokkende inligting dat die 4 beskuldiges borgtog verkry het. Weereens word die geloofwaardigheid van ons regbank erg bevraagteken. Volgens die strafproseswet moet daar dwingende en buitengewone omstandighede bewys word vir borgtog in n skedule 6 misdaad. Hoe is dit moontlik dat die voortsittende beampte borg kon toestaan?

Nic ·

wonder net of anc sie skaam kry oor die moorde korrupies diefstal geldwassery leuns nie

LiveAndLetLive ·

Sal graag bietjie n opvolg wil sien van die wat al toegesluit is vir plaas moorde, sit hulle nog – hulle word vinnig gevang…..te vinnig????
Dit skrik ook nie die af wat maar net voortgaan met moorde op plase nie – gaan al jare so aan.

gpsa ·

Stel vyligheid en sukuriteit voorop maar los moordenaars uit op parool om weer te gaan moor, vir wie wil hulle die twak vertel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.