Elzabie dalk nog nie dood toe sy afgelaai is

Kapt. Mattheus Pretorius in die getuiebank (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Elzabie Brand (54) was dalk nog lewend toe sy in ʼn blou duvet in ’n watergat in die Taung-omgewing in die Noord-Kaap gelos is.

Hierdie inligting het in die hooggeregshof in Kimberley uitgekom tydens kapt. Mattheus Pretorius se getuienis in die moordsaak van Elzabie en haar ouers, Dan (83) en Breggie (73) Brand. Pretorius is die bevelvoerder van die speurtak in Hartswater.

Die Brand-gesin is twee jaar gelede op hul kleinhoewe in Magogong, naby Hartswater, ontvoer en vermoor.

Elzabie, Breggie en Dan Brand.

Die saak teen Donald Seoleseng (21), Tshepo Visagie (36), Kgomotso Mpulwana (43) en Tsepaone Melato (20) het Woensdag voortgegaan. Hulle word met die gesin se moorde verbind.

Pretorius was op die toneel toe Elzabie se liggaam kort na middernag op 29 Julie 2020 onder ʼn rotswand in ʼn watergat gekry is.

“Dit lyk asof sy onder die rotswand gedruk is. Die liggaam was in ʼn blou duvet toegedraai, net ʼn stuk van haar rug het uitgesteek. Toe ons die duvet oopmaak, het ons gesien die oorledene se hande was vasgebind en daar was ʼn tou deur haar mond vasgemaak,” het Pretorius getuig.

Volgens Pretorius het Realeboga Manyedi (20), wat vroeër ʼn vyfde verdagte in die saak was, die liggaam aan die polisie uitgewys, ʼn paar dae nadat die moorde vermoedelik gepleeg is. Alle klagtes teen Manyedi is Maandag laat vaar.

“Manyedi het vir ons gesê dat hy ons gaan wys waar hulle vir Elzabie gelos het terwyl sy steeds lewend was.”

In daardie stadium was nie Dan of Breggie se liggame al gevind nie.

Agter: Die familie van Dan, Breggie en Elzabie Brand (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Elzabie se rooi Nissan Micra is verlate in ʼn steengroef naby die Majaneng-nedersetting gevind, ʼn paar ure voordat haar liggaam ontdek is.

Konst. Harold Kock van die Hartswater-polisie se honde-eenheid was op die toneel toe die Nissan Micra gevind is. Dit volg ná die polisiestasie tyding ontvang het oor ʼn “maroenkleurige karretjie” wat verlate gevind is, het Kock in die hof getuig.

Dit het in die hof uitgekom dat die persoon wat die polisiestasie laat weet het, net bekend as “Alfred”, kort ná die voorval gesterf het.

“Ons is na die steengroef waar die motor – wat ons daar aangetref het – se registrasienommer met Elzabie se motor sʼn ooreengestem het,” het Kock getuig.

Volgens Kock was die motor se bande pap.

“Nie ver van die voertuig af nie, het ʼn motorband met ʼn velling in die veld gelê. Die velling het onderstebo gelê en ons kon eers later toe die forensiese span op die toneel was, bevestig dat die velling ʼn Mazda-embleem opgehad het. Die band en velling was te groot en het nie op die Nissan Micra gepas nie.”

Dit is nie in die hof bevestig op die motorband dalk aan die gesin se silwer Mazda CX5 behoort het nie omdat dié motor in daardie stadium steeds soek was.

Eerste verdagte aangekeer

Tshepo Visagie se regsverteenwoordiger, adv. Chandre Booysen, konsulteer met hom voor die aanvang van die hofsaak (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Kock getuig hy en verskeie ander polisiebeamptes het Dinsdag (28 Julie) net ná 16:00 inligting van misdaad-intelligensie ontvang dat een van die verdagtes, genaamd Tshepo, by die Majaneng-nedersetting gewaar is. Die beamptes is na ʼn woning in die nedersetting waar die verdagte se vriendin vermoedelik gewoon het.

“Ons het die vriendin gevra waar Tshepo is en sy het ontken dat sy hom gesien het. ʼn Vrou wat haarself as Tshepo se ma geïdentifiseer het, het toe ook daar aangekom,” het Kock getuig.

“Terwyl een van die beamptes met die vriendin gepraat het, het ʼn persoon in die pad af geskree dat iemand weghardloop. Ons het in die straat af gery en ʼn persoon met ʼn swart broek en blou oorpakbaadjie gewaar. Hy het van ons af weggehardloop.”

Die verdagte het in die rigting van ʼn draad gehardloop en Kock het sy patrolliehond uit die voertuig gehaal, wat die verdagte toe 20 meter verder vasgetrek het.

Die verdagte is later as Tshepo Visagie geïdentifiseer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Danie ·

Sulke moordenaars moet gehang word.Huidige strawwe beteken niks om te voorkom of werklik te straf nie.

OW ·

Stem saam.In Genesis 9 :5-7 is God baie duidelik oor die doodstraf.Glo my,hierdie huidige regering sal een of ander tyd tot niet gaan.

Delia ·

Kan iemand met regskennis verduidelik hoe alle klagtes laat vaar is teen die man wat Elzabie se liggaam uitgewys het. Want hoe is dit moontlik??

Anna84 ·

Ek het nou presies dieselfde gesit en wonder??? Dis mos belaglik!!

Di ·

SKUIM van die aarde! Sit hulle in die tronk en gooi die sleutels weg. Ons het genoeg van hierdie SOORT in ons land. Mag hulle terug kry agter tralies wat hulle aan hierdie onskuldige mense gedoen het.

Jannie van Niekerk ·

Soos gewoonlik wanneer plaasaanvallers ter sprake is gaan die spul weer absoluut niks oorkom nie.

Nettie ·

Hierdie was een van die verskriklikste plaasmoorde. Nie dat enige een veel beter is nie, maar hierdie 3 mense het gely. Dit breek my hart. Sout van die aarde. Mag God hul familie deur hierdie swaar dae help en dra, en mag geregtigheid vir ‘n slag seevier.

Fran ·

Hierdie is die terroris, Mandela se mense. Ons hoort net nie saam op dieselfde stuk aarde nie.

Henry ·

En dan kry jy regsgeleerdes wat die skuim verdedig. Doen so voort….. God slaap nie!!

KWIS ·

Hoe is dit dat ‘n moordenaar sonder hand en voet boeie in die hof rondloop?

Hannelie ·

Ek wil nie eens die berig verder lees nie….so ontstel dit my. As ek so ‘n haat teenoor die moordenaars het, hoe moet hul dogters/susters nie voel nie.
DOODSTRAF!!!!!!

Willem Hendrik ·

Dit is hartseer dat n mens se lewe minder werd is as R10.

Swerwer ·

Mag daar geen genade getoon word met hierdie afskuwelike moordenaars!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.