Emfuleni en Eskom bereik ooreenkoms

(Argieffoto: ANA)

Die Emfuleni- plaaslike munisipaliteit het Dinsdag ʼn ooreenkoms met Eskom bereik waarvolgens hy onderneem om sy skuld aan die kragvoorsiener af te betaal.

Dit na wat die Gautengse regering beskryf as ʼn “ongelukkige voorval wat baie verleentheid geskep het” toe Eskom beslag gelê het op die stad se bates.

Maroela Media het vroeër berig ʼn hofbevel wat reeds in 2018 aan Eskom toegestaan is, gee Eskom toestemming om R615 miljoen in agterstallige skuld van die munisipaliteit in die weste van Gauteng te verhaal. Volgens Eskom skuld die sukkelende owerheid hom inderwaarheid meer as R2,3 miljard.

Daarom het André de Ruyter, Eskom se uitvoerende hoof, en lede van Gauteng se departement van samewerkende regering en tradisionele sake Dinsdag vergader.

Die partye het op die volgende ooreengekom:

  • Die Emfuleni-munisipaliteit moet Eskom voor die einde van Dinsdag R50 miljoen betaal.
  • Wanneer Eskom die geld ontvang, sal hy die beslaglegging op bates staak.
  • Gesamentlike spanne sal ʼn werkbare en aanvaarbare plan uitwerk oor hoe Emfuleni sy skuld sal delg.

Volgens Lebogang Maile, Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, was die vergadering eerlik en tersaaklik, en was dit die eerste stap van samewerking tussen verskillende staatsentiteite om dienslewering aan burgers te verbeter.

Verskeie munisipaliteite in Gauteng skuld Eskom gesamentlik R3,7 miljard. Dit is met die uitsondering van die Ekurhuleni-munisipaliteit, die Stad van Johannesburg en Midvaal-munisipaliteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jaco ·

ANC-beheerde munisipaliteit skuld geld aan die ANC-beheerde eskom. Hoe absurd! Dié skuld kan mos binne die “ANC-huis” afgeskryf word. Het die ANC dan NIKS tydens hulle jare in ballingskap in kommunistiese lande gekeer nie? Sulke nonsens was ongekend in die ou Sowjetunie, Pole, Hongarye en Oos-Duitsland. Oral het die “kaders” mekaar gehelp. Eintlik het daardie lande almal baie beter gelyk en gefunksioneer onder kommunisme as wat SA onder die ANC aankarring.

Vriendelike Frikkie ·

Ooglopend het jy geen idee hoe dit eintlik werk nie.

Frans ·

Volgens finasiële state nie ge-oudit nie het die munisipaliteit in 2016/2017 finansiële jaar ongemagtigde,vrugtelose ens uitgawes van R815 835 000 aangegaan en oorskry uitgawes ,inkomstes gereeld elke finansiële jaar en word vir 2018/19 op R 303 324 000 .beraam teenoor die vorige finansiële jaar se R .651 848 000.In 2016/17 is dit op R 1 238 261 000 beraam.

Geen wonder Eskom word nie betaal nie.Dit is sowaar ‘n prentjie van algehele finasiële chaos.Tog kry raadslede gereeld verhogings.

Johannes V ·

En moenie vergeet dat hulle nog miljoene vat vir bonnusse waarop hulle self besluit

Wondermaarnet ·

As toestemming gegee is om R615 miljoen te vorder, wat word van die balans? Terwyl hulle aanhou om aan een munisipaliteit te karring, gee aandag aan Soweto en omgewing ook.

Nie Verbaas ·

Emfuleni reis eise vir werknemers vir Januarie en Februarie R21mil. Hulle het alreeds n totaal van R215mil in reis eise in die verlede aan werknemers uitbetaal. Wat se dit en wat gaan daaraan gedoen word? Maar daar is nie geld om Eskom te betaal nie? Hulle moet alle eise wat betaal is ondersoek en werknemers moet maar terugbetaal. Dan moet die belasting betaler opdok vir mense wat plunder?

George ·

As hulle tot nou nie kan betaal nie hoe gaan hull in die toekoms betaal????

Scalla ·

Hoe het hul dit reg gekry om sover agter te raak en hoekom moet daar eers beslag gele word alvorens daar begin afbetaal word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.