Eskom hof toe gesleep oor lasvermindering 

Argieffoto (Foto: Mujahid Safodien/AFP)

Sakeliga, in samewerking met Agri Noordwes, TLU SA en geraakte besighede, het ʼn hofaansoek teen Eskom gebring om volgehoue ladingsvermindering op geteikende toevoerlyne stop te sit.

Eskom staak nou al vir meer as ʼn jaar gereeld, en vir ure aaneen, direkte gebruikers op bepaalde toevoerlyne se kragtoevoer in ʼn oënskynlike poging om onwettige gebruik stop te sit en skuld in te vorder. In die proses word betalende eindgebruikers – gereeld besighede en boerderye – ook geteiken. Lasvermindering word bo en behalwe beurtkrag geïmplementeer en veroorsaak geweldige ontwrigting vir produksieprosesse en skade aan toerusting.

Sakeliga het op 1 Augustus ʼn aanmaningsbrief aan Eskom gestuur en ʼn onderneming geëis dat onwettige lasvermindering op geïdentifiseerde toevoerlyne gestaak word. Eskom het geen antwoord op die aanmaningsbrief gelewer nie.

Sakeliga het sedertdien sy regspan instruksie gegee om die hof te nader om sowel Eskom se lasverminderingsbeleid as die implementering daarvan onwettig en ongrondwetlik te verklaar en ter syde te stel. Agri Noordwes, TLU SA en ʼn geraakte besigheid is mede-applikante in die hofaansoek wat Donderdag geliasseer is.

“Alhoewel die Wet op Regulering van Elektrisiteit voorsiening maak vir ʼn vorm van lasvermindering, mag dit nooit ʼn volledige staking van elektrisiteitstoevoer behels nie, maar slegs ʼn gepaste vermindering in lasgrootte,” sê Tian Alberts, regs- en skakelbeampte by Sakeliga.

“Lasvermindering mag ook nie as ʼn algehele skuldinvorderingsmeganisme gebruik word nie. Korrespondensie waartoe Sakeliga toegang verkry het, dui daarop dat Eskom wel lasvermindering op toevoerlyne implementeer in ʼn poging om skuld in te vorder en onwettige gebruik stop te sit. In die proses word verskeie betalende eindgebruikers se elektrisiteitstoevoer vir ure aaneen gestaak.”

Sakeliga het al meermale suksesvol teen Eskom gelitigeer om betalende eindgebruikers te beskerm teen wanorde wat by en onder staatsorgane heers. In die geval van lasvermindering blyk dit dat Eskom nie oor die vermoë of bereidwilligheid beskik om daadwerklik probleme om onwettige gebruik en infrastruktuuropgradering te takel nie. Lasvermindering word dan eerder geïmplementeer om sowel onwettige as wettige direkte eindgebruikers te teiken. Hierdie stap is sowel irrasioneel as onbillik.

“Dit is onaanvaarbaar dat wettige eindgebruikers se besighede en lewensbestaan in die slag moet bly weens versuim en agteruitgang by Eskom. Ten spyte van die verval en bedreiging wat dit vir die ekonomie en besighede inhou, kies die regering om ʼn statutêre monopolie oor elektrisiteitsvoorsiening te handhaaf in Eskom.

“Bo-op die onbestendigheid en verhoogde koste wat beurtkrag reeds veroorsaak, word diegene op sekere toevoerlyne wat pligsgetrou elke maand hul elektrisiteitsrekeninge vereffen, nou verder gestraf omdat Eskom nie hul infrastruktuur in stand hou nie en in gebreke bly om onwettige verbindings op toevoerlyne te verwyder.”

Sakeliga sê sy jongste hofsaak teen Eskom om lasvermindering te staak is ʼn tussentydse stap om verligting te bring. “Besighede en die publiek in Suid-Afrika is uitgelewer is aan ʼn mensgemaakte kragkrisis veroorsaak deur die obstruksie van private elektrisiteitsvoorsiening, gepleeg deur die staat op wetgewende en uitvoerende vlak. Die groter regstryd wat Sakeliga daarom ondersoek, is regsaksie om obstruksies tot alternatiewe elektrisiteit in Suid-Afrika uit die weg te ruim.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.