Eskom kap terug oor ‘R500 miljoen’-veiligheidskontrak

(Foto: AFP PHOTO/GIANLUIGI GUERCIA)

Daar is net R250 miljoen bestee rakende die kontrak wat Eskom met die veiligheidsmaatskappy Fidelity aangegaan het en dit het aan verkrygingsprosedures en voorskrifte van die nasionale tesourie voldoen.

Eskom het Sondag teruggekap ná berigte dat Fidelity oor ʼn tydperk van drie maande R500 miljoen betaal is en dat daar nie ʼn mededingende bodproses vir die kontrak was nie. Die kontrak is aangegaan toe Andé de Ruyter nog aan die stuur van sake by Eskom was.

Volgens Eskom was die kontrak egter in ooreenstemming met sy verkrygingsprosedures en die nasionale tesourie se voorskrifte vir die noodverkryging van dienste. Daar is egter uiteindelik net sowat R250 miljoen bestee, aldus die kragvoorsiener.

Die kontrak is volgens Eskom genoodsaak deur inligting wat deur bestuur ontvang is wat aangedui het dat daar ʼn moontlike ernstige veiligheidsrisiko vir Eskom se bedrywighede en bates is. Die kontrak was vir Julie 2022 tot September 2022 met ʼn geraamde begroting van R500 miljoen.

“Dit is onder noodverkryging geplaas om moontlike bedreigings af te weer en om kritieke terreine by Eskom te beveilig. Die omvang van die kontrak het hoofsaaklik gefokus op die kritieke kragstasies, strategiese korporatiewe terreine en die transmissienetwerk,” lui ʼn verklaring van Eskom.

Eskom het die kwotasie van die verskaffer beoordeel en was tevrede om daarmee voort te gaan, waaronder die gekwoteerde pryse. “Operasioneel was daar daagliks en maandeliks monitering van die aktiwiteite én die betaling van die fakture oor die drie maande in ooreenstemming met die gekontrakteerde dienste.”

Volgens Eskom is hy bewus van die bewerings van korrupsie en bedrog wat aan die kontrak gekoppel word en sal gegewe die erns daarvan met die betrokke owerhede saamwerk aan enige ondersoek.

“Daarbenewens moedig Eskom enigiemand met geloofwaardige bewyse of bekommernisse met betrekking tot hierdie aangeleentheid aan om die owerhede daaroor in te lig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Amelia ·

En wie werk by fidelity? Hoeveel is deur fidelity vasgetrek? Aan wie behoort fidelity ? Hoeveel korupsie is betrokke ? laaste vraag en wie het vir dit betaal ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.