Eskom ontken kortlys oor nuwe hoof

(Argieffoto: GCIS)

Eskom distansieer homself van ʼn “finale kortlys” vir die amp van groepshoof vir die kragvoorsiener wat na bewering uitgelek het.

“Eskom het navrae ontvang oor ‘uitgelekte inligting’ rakende die finale kortlys vir die groepshoof,” lui ʼn verklaring. “Eskom is besorg hieroor en distansieer homself daarvan. Ons bevestig graag dat die inligting oor die kortlys van kandidate vir die amp van groepshoof nog nie gekommunikeer is nie. Eskom verskaf nie besonderhede van kandidate totdat ons ʼn aanstelling gemaak het nie. Dit is omdat oordeelkundigheid en vertroulikheid noodsaaklik is wanneer uitvoerende kandidate aangestel word.”

Eskom sê hy bevestig dat die onderhoude afgehandel is en dat die suksesvolle kandidaat op ʼn behoorlike tyd aangekondig sal word.

City Press en Rapport het berig hul bronne in Eskom het laat weet Ayanda Noah, Dan Marokane en Vally Padayachee is op Eskom se kortlys van kandidate.

Noah was vroeër hoof van Eskom se afdelings vir kragverspreiding en kliëntediens. Sy is tans voorsitter van die raad van die Sentrale Energiefonds.

Marokane is ʼn voormalige bestuurder by Eskom en Padayachee is ʼn spesiale adviseur van die vereniging vir munisipale elektrisiteitsnutsmaatskappye, Ameu. Padayachee het ook ervaring by Eskom en Johannesburg se City Power.

Solidariteit het Maandag in reaksie op die beweerde kortlys aangedui dat sy voorkeurkandidaat vir uitvoerende hoof van Eskom Dan Marokane sal wees, met Ayanda Noah as tweede keuse.

Volgens Solidariteit beskik sowel Marokane as Noah oor genoegsame bestuurservaring, en die vereiste tegniese kennis wat hulle in hul ingenieursverwante agtergrond opgedoen het. Albei kandidate se werkservaring binne en buite Eskom getuig van goeie oordeel en deurdagte bestuursbesluite.

“Die beste uitvoerende hoof vir Eskom is die een wat bereid sal wees om die energievoorsiener te kan stuur sonder om politieke inmengery te duld of die knie voor die ANC-regering se wandade te buig. Eskom se voormalige uitvoerende hoof, André de Ruyter, het bewys dat dit nie ʼn maklike taak is nie,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê. “Dit is juis om hierdie rede dat Solidariteit die aanstelling van Marokane steun. Benewens sy kwalifikasie en ondervinding, het hy reeds bewys dat hy nie sal skroom om in die beste belang van Eskom op te tree nie, selfs al beteken dit dat hy guns by politici verloor.

“Dit is betreurenswaardig dat ʼn uitvoerende hoof van ʼn entiteit soos Eskom oor vaardighede moet kan beskik wat die entiteit teen regeringsuitbuiting kan beskerm. Dit is egter ʼn vereiste wat ʼn deurslaggewende rol sal speel in die suksesvolle ommekeer van die kragvoorsiener. Dit is van kardinale belang dat iemand met sterk bestuursvaardighede, politieke kennis en die wilskrag om die regte besluite te neem in hierdie pos aangestel word. Na ons oordeel is Dan Marokane die mees geskikte persoon op hierdie kortlys.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Owlie ·

Hoekom n nuwe groepshoof aanstel as daar reeds onnodig baie geld op n minister van elektrisiteit is?

kragaap ·

Maak nie saak Wie die ANC aanstel nie die huidige gemors sal net voortduur en vererger. Die korrupsie, swak werketiek en oordadige spandering is ongelukkig diep gewortelde waardes van die enigste aandeelhouer.

annie ·

Hoekom skenk Solidariteit goedkeuring aan ‘n ander kandidaat sonder insae en bydrae nadat die wit bestuurder afgeskiet is as saboteur en leuenaar en wittes totaal uitgesluit word? Die unie sal sy ondersteuning berou.

Harley Davidson ·

Ek dink André de Ruyter het bewys dat om ‘n bevoegde hoof by Escom te wees geen gewig dra nie omrede die ANC die instansie gebruik as ‘n voer trog en die hoof net daar is om bevele te neem .

Yvonne ·

Jy slaan die spyker op die kop…..tragies hulle sien eerder Eskom tot niet gaan…..geen gewetes of morelewaardes nie

Di ·

Maak nie saak WIE hulle aanstel nie, die korrupte Regering sal hierdie persoon ook manipuleer. Korrupsie seevier hoog in die land

anko ·

Natuurlik sal Eksdom ontken. Hou nie van die waarheid en aanvaar geen raad nie….

Ropp ·

Dis mos algemene kennis dat niks wat uit Eskom se geledere kom, geglo kan word nie.

Oljetter ·

Ek hoop ons kan ook hulle morele rekord sien. Deesdae is n misdaadrekord n groot aanwins wanneer daar om hogere poste meegeding word.

Rooi rissie ·

Eskom se nuwe beleid:” I wanted to deny everyting”…( in hulle engelse aksent wat hulle gebruik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.