Eskom verduidelik ‘R5 miljard-vraag’

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom.

Eskom sê die indruk wat tydens ʼn vergadering van die parlement se toewysingskomitee geskep is dat die kragvoorsiener ʼn ongenoemde kontrakteur nagenoeg R5 miljard te veel betaal het, is nie akkuraat nie. Eskom het glo ook versuim om die geld wat betaal is, te herwin en hou die naam van die kontrakteur wat daarby gebaat het, geheim.

Volgens Eskom het drie LP’s vrae aan Eskom se raad en bestuur gestel oor of Eskom betrokke is by enige steenkoolvoorsieningskontrakte wat hoër is as die gemiddelde prys van steenkool. Nog ʼn LP het aangevoer dat Eskom ʼn ongenoemde kontrakteur verkeerdelik R4 miljard betaal het terwyl ʼn ander parlementslid dié bedrag tot R5 miljard opgestoot het. Eskom sê dié LP wou ook weet wie die begunstigde was.

Volgens André de Ruyter, Eskom se uitvoerende hoof, het die kragvoorsiener sewe steenkoolverskaffers geïdentifiseer wat Eskom te veel vra vir steenkool. “Ons het met die sewe verskaffers begin onderhandel. Ons maak goeie vordering en mettertyd sal ons terugvoer hieroor aan die komitee gee.”

Die kontrakte met die betrokke voorsieners is jare gelede al aangegaan en is steeds bindend, hoewel Eskom se huidige bestuur glo die steenkoolpryse wat die verskaffers vra, is meer as die markwaarde. Eskom wil nie in dié stadium verdere besonderhede oor die onderhandelings bekend maak nie.

Wat betref die beweerde verkeerdelike R5 miljard-betaling aan die kontrakteur het De Ruyter gesê Eskom is bewus van sy verpligting om geld te herwin wat verkeerdelik of onregmatig aan verskillende organisasies betaal is. “Ons werk nou saam met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, die Spesiale Ondersoekeenheid, die Valke, die JSE vir dié maatskappye wat op die aandelebeurs genoteer is, asook die hoof van ondersoeke by die kantoor van die nasionale direkteur van openbare vervolging.

“Ons wil sowat R600 miljoen wat onregmatig aan ʼn maatskappy genaamd Trillian, wat in ʼn vennootskap met McKinsey & Company was, herwin,” het De Ruyter gesê.

Eskom het vroeër vanjaar al met regstappe teen Trillian begin om dié geld te probeer herwin. Die kragvoorsiener het die hof toe ook gevra vir toestemming om met ʼn likwidasieproses by die konsultasiemaatskappy te begin om die geld te probeer invorder.

Die R600 miljoen is deel van ʼn groter bedrag van R1,6 miljard wat die kragvoorsiener aan McKinsey betaal het. McKinsey het die werk op sy beurt aan Trillian uitgekontrakteer.

Trillian Capital het bande met die omstrede Gupta-familie gehad.

De Ruyter het Maandag gesê Eskom neem ook deel aan die sakereddingsproses van Tegeta Exploration & Resources en het ʼn eis van R5 miljard teen die sakereddingspraktisyns ingestel.

“Gegewe wat ons dink die beskikbare geld is, is dit onwaarskynlik dat ons die volle R5 miljard gaan terugkry en ons gaan waarskynlik ʼn aansienlik kleiner bedrag as dít ontvang.”

Die kontrak met Tegeta is in 2015 aangegaan en is vroeër vanjaar in die hooggeregshof in Pretoria ter syde gestel. Tegeta het voorheen aan die Gupta-familie behoort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Raadslid ·

Hoekom onderhandel. Betaal die korrekte bedrag en vorder dit wat te veel betaal is terug. Sal interessant wees om te sien wie se maatjies hier te veel betaal is.

Sarel ·

Ek ruik alweer Guptas…. Hoekom.ksn die bedrag nie verhaal word nie en hoekom bly die naam geheim. Ons wil weet want die burgery moet vir did verlies betaal

JohanR ·

Is daar niemand by Eskom wat “checks en balances” doen nie. Of is dit maar belastingeld, en daar is nog waar dit vandaan kom soe, moenie worry om te mors nie? Jou jou jou is dit ‘n witman in beheer!

Pieter ·

Die sirkus gaan nooit op hou nie. En dit is ons eie skuld want ons neem nie standpunt in nie

Fedup ·

No matter how stupid and uneducated one is.
No one can make such a “mistake”.
De ruyter give eskom back to the circus please.
It’s broken beyond repair.

PieterP ·

Kom ons stel ‘n spannetjie saam en gaan haal die Gupta blikskottels. As hulle so hehaal word sal die wetters sing en ons sal meer hoor ban meer kaders as wat ons van kan droom. Foeitog, hulle is vreeslik ongelukkig daar waar hulle sit, kom ons gaan red hulle

netekalleen ·

Wat gaan met die een gebeur wat die betaling goedgekeur het?

Nico ·

Hoekom moet die verbruiker betaal vir Eskom se foute wat swak gehalte steenkool gebruik en goeie kole uit te voer en ook om gratis elektriesiteit aan die buurlande te verskaf, nou kom eskom met mooi verskonings.

Kobus ·

Jy kry deurmekaar,heeltemal deurmekaar en dan duermekaar soos iets in ‘n tuimeldroeer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.