Eskom-vrou glo vermoor oor sy wou praat

Thembisile Yende

ʼn Tegnikus wat verdink word van die moord op ʼn werknemer van Eskom, ʼn vrou wat as vermis aangemeld is, het Maandag in die hof verskyn. Tydens dié verskyning is die gebeure wat moontlik tot die moord aanleiding gegee het, aangehoor.

Die verdagte, David Ngwenya (43), het Thembisile (Thembi) Lucia Yende (29) glo vermoor nadat hy vermoed het dat sy ʼn koperkabeldiefstalsindikaat wou oopvlek. Hy het in die Springs-landdroshof verskyn waar hy aangekla word van moord met voorbedagte rade.

Die saak moes uitgestel word nadat Ngwenya sy mandaat met sy vorige regsverteenwoordiger beëindig het en Maandag ʼn nuwe verteenwoordiger gehad het.

Die saak is tot 18 September uitgestel vir verdere ondersoek. Hy bly in aanhouding.

Maroela Media het vroeër berig Yende se ontbinde liggaam is op 29 Mei in ʼn ongebruikte kantoor van Eskom se Pieterboth-substasie in Springs aangetref. Werkers by die stasie het die polisie ontbied nadat hulle bewus geword het van ʼn onaangename reuk in die geslote kantoor.

Yende is op 17 Mei deur haar ma as vermis aangemeld nadat sy dié betrokke dag nie ná werk teruggekeer het huis toe nie.

Die polisie het die vermistepersoonsaak na ʼn moordsaak verander toe daar later die week vasgestel is sy is vermoor. Kapt. Johannes Ramphora, woordvoerder van die polisie, het destyds gesê die nadoodse ondersoek toon Yende is verwurg. Sy het ook kneusplekke opgedoen wat die polisie laat vermoed dat sy en haar moordenaar moontlik in ʼn struweling betrokke was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Theresa

Die gesteel, geplunder, gebrand, betreding, oortreding, in die sonnige Suid-Afrika is ‘n klad op die land se naam.

Heldin

Thembesile Yende, jy is ‘n heldin, so jammer jy moes met die hoogste prys vir jou eerlikheid betaal. Ek dink ondanks die groot hartseer, moet jou familie ongelooflik trots op jou wees, mag dit hul troots wees, jou Ma en Pa weet hulle het jou met die beste waardes groot gemaak en niks en niemand sou dit ooit kon verander, wow dit is die mooiste getuigskrif vir hulle. Die wat dit beplan en gedoen het sal hul deel kry en hul gewete sal iewers begin werk en daarna slaap hul nooit weer een nag rustig nie!

botterblommetjie

Toe ek jonk was en flieks gekyk het hoe mense bang is om te praat want hulle word vermoor, gemartel en geintimideer het ek altyd gedink, gelukkig in ons land gebeur dit nie. Deesdae weet ek nie hoe is jy ‘n eerlike polisieman of enige iets dervoege nie, want jy word geskiet, gemartel, ontvoer, vermoor ens. Hoe kry mens ooit weer die balans reg…. Hoe gaan mens ook die korrupsie, gewetenloosheid, toitoikultuur, afbrand en sommer nog erger dinge keer…. Hierdie 1 pragtige mens wou die eerbare regte ding doen… Sy het met haar lewe geboet vir haar eerlikheid… (ergste is,… Lees meer »

Nico K

Ek sal graag wil weet watse leidrade daar was om die polisie op die verdagte se spoor te sit. Dit lyk na goeie speurwerk.

Bekommerd

Is daar nog keer aan al die diefstal, korrupsie en moord wat in ons mooi land aangaan. Oral hoor mens van klein besighede, groot besighede, munisipaliteite, regerings en ek wil ook mediese hierby insluit. Ai vir eerlikheid (dalk gierigheid omdat nie deel van die “deals” nie) vermoor te word – wys jou wat mense doen. Kyk hoe word verkeersreels verkrag. Elke more dan ek die Here vir veilig by die kantoor kom of terug by die huis. Wat kan gedoen word om alles reg te stel?