‘Eskom-werkers sal beurtkrag stopsit,’ sê Ramokgopa

Kgosientsho Ramokgopa, minister vir elektrisiteit (Foto: SAgovnews/Twitter)

Kgosientsho Ramokgopa, minister vir elektrisiteit, het Woensdag tydens sy besoek aan die Tutuka-kragstasie in Mpumalanga gesê werkers by Eskom is diegene wat die probleem van beurtkrag sal oplos.

Volgens die minister het hy met sy besoek eerstehands die uitdagings wat werkers in die gesig staar, teëgekom. Die lae moraal van personeel by die kragstasie is een van die grootste probleme wat die minister by dié kragstasie geïdentifiseer het.

Steenkool van ʼn swak gehalte en tegniese probleme is ook van die kwessies wat by die kragstasie uitstaan.

“Om te weet wat die probleme is, sal help om oplossings vir beurtkrag te vind. Ek is nie hier om met gevoude arms te staan en toekyk hoe die mense van Eskom swaarkry nie. Ek is hier om dit [probleme] saam met hulle op te los,” het Ramokgopa tydens sy besoek gesê.

“Solank die werkers gelukkig is, die nodige gereedskap het en die geleentheid gebied word, en solank ons in staat is om aandag aan die werkers se griewe te skenk, het ons geen twyfel dat die werkers ons sal help om hierdie probleem op te los nie,” het Ramokgopa tydens sy besoek gesê.

Dié kragstasie se werkers is ingelig dat die stasie teen 2023 sy deure gaan sluit.

Ramokgopa het Eskom-werknemers verseker dat hy sal help om ‘n bevorderlike en ondersteunende omgewing vir werkers te skep.

Kgosientsho Ramokgopa, minister vir elektrisiteit, tydens sy besoek aan die Tutuka-kragstasie (Foto: SAgovnews/Twitter)

Ramokgopa se besoek aan die Tutuka-kragstasie is die derde dag van ‘n twee weke lange besoek aan Eskom-kragstasies oor die land heen. In totaal sal die minister 14 kragstasies besoek.

Ramokgopa het Maandag met besoeke aan die Kriel- en Duvha-kragstasie begin en Dinsdag sy besoek by die Kusile-kragstasie in Mpumalanga voortgesit. Hy sal Donderdag die Lethabo-kragstasie in die Vrystaat besoek.

By elke stasie wat die minister besoek, kry hy eers ’n inligtingsessie van die bestuurspan en doen daarna ’n besoek. Tydens die besoek het die minister interaksie met werknemers.

Tutuka het ses 609 MW-opwekkingseenhede, met ’n totale geïnstalleerde kapasiteit van 3 654 MW, met turbine- maksimum deurlopende gradering van 38%.

Die stasie is ’n belangrike skakel in die 765 kV ekstra-hoëspanning-transmissiestelsel wat Mpumalanga met die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal verbind.

Volgens Ramokgopa is Tutuka en Kusile in Mpumalanga die twee kragstasies wat die swakste presteer.

“Die regering is daartoe verbind om kapasiteit by die kragstasies te verbeter om die beskikbaarheid van elektrisiteit in die land te verhoog.”

Bron: SAgovnews

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.