FAK stel sy tweede Afrikanermonument bekend

penkopmonument-jacques-muller

Jacques Müller, ’n beeldhouer en skilder van Pretoria, sê hy het dié beeld uit klip van ’n kind gemaak, deur die oë van ’n kind, vir ’n kind. Foto: Verskaf.

Die Penkopmonument is vroeër hierdie week by die FAK Udolpho Rivierplaas naby Parys in die Vrystaat onthul.

Dié monument uit sandsteen is van ’n jong seun, oftewel penkop, wat tydens die Anglo-Boereoorlog skielik man moes word en noodgedwonge in die oorlog moes veg.

Saam met die beeld, wat Dinsdag onthul is, is ʼn aambeeld en twee borde met die name van 2 466 seuns tussen ses en 16 jaar wat dié oorlog oorleef het. Die aambeeld is ’n simbool van die staal, die daadkrag en harde werk van die na-oorlogse seuns.

Die FAK het ter viering van sy 90ste bestaansjaar vanjaar begin met ’n projek om drie nuwe monumente te bou.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, sê die beelde word vir ’n nuwe generasie Afrikaners opgerig en kyk na die kontinuïteit tussen die verlede en die toekoms.

“Die klem is om nuwe beelde te bou en koerswysers vir die toekoms te skep waarop die Afrikaner trots is. Dit is ’n storie van hoop. Ons is steeds hier, ons gaan nie weg nie.”

Daarom het die FAK ’n geskiedenisfonds bekend gestel, waar Afrikaners met R50 of R100 die nuwe Afrikanermonumente kan help finansier om sodoende die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

Die eerste beeld van dr. N.J. van der Merwe, stigterslid en eerste voorsitter van die FAK en die eerste hoofleier van Die Voortrekkers, is in Februarie onthul.

“Met die Penkopmonument wil ons sê die jeug moet trots wees op wie hulle is. As jy vandag opstaan vir jou land, beteken dit nie jy moet ’n geweer opneem nie. Maar jy sal dieselfde oortuiging, moed en dissipline moet hê as jy vandag opstaan vir dit wat vir jou saakmaak,” sê Langner.

penkopmonument-saam-met-voortrekkers-parys

Die Parys Voortrekkers het die geleentheid bygewoon saam met dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK en die beeldhouer Jacques Müller. Foto: Verskaf.

“Ons vier vanjaar die 120ste herdenking ná die uitbreek van die alleverwoestende Anglo-Boereoorlog. Op 16 Junie 1900 het Lord Roberts die verskroeideaardebeleid aangekondig, wat baie kinders se lewens ingrypend verander het. Plase is afgebrand, kinders is konsentrasiekampe toe gestuur en daarom herdenk ons 16 Junie ook as die dag waarop ons dink aan die lyding en opoffering van ons kinders. Vir 120 jaar het Afrikaners die kinders herdenk wat in die konsentrasiekampe gesterf het en ons moet dit nog vir geslagte lank doen. Maar daar is ook ’n ander kant van die munt. Dít is dat daar baie kinders is wat deur hierdie oorlog geraak is, kinders wat die oorlog oorleef het en kinders wat opgestaan en gebou het.

“Hierdie beeld is ’n simbool van kinders se bouwerk, wat uit die ashope opgestaan het en vir hulle ’n toekoms uitgekap het. Dit is terselfdertyd ook ’n boodskap vir vandag se kinders. Dit dra ’n boodskap dat ons mag trots wees op wie ons is en waar ons vandaan kom. Ons hoef nie slagoffers te wees van ons omstandighede en verliese nie – ons moet opstaan en hard werk aan ons toekoms.”

Jacques Müller, ’n beeldhouer en skilder van Pretoria, sê hy het dié beeld uit klip van ’n kind gemaak, deur die oë van ’n kind, vir ’n kind.

Müller sê: “Ons Afrikanerkultuur is in die verlede gegrond en daarom het ek ’n kind, wat uit die as opgestaan het, gemaak.”

Dié beeld sluit aan by die bronsbeeld van Van der Merwe, wat Müller ook gemaak het. Van der Merwe was as jong seun in die Norvalspont-konsentrasiekamp in die Noord-Kaap tydens die Anglo-Boereoorlog. Die beeld van Van der Merwe staan as Toekomsargitek bekend.

Müller het aan dié beeld van ’n jong seun, gewapen met ’n pistool, met ’n beitel en hamer uit sandsteen gestalte gegee.

“Sy onskuld is deur die besluite van grootmense gesteel. Al die fases van ’n seun se grootwordjare – kleuter, adolessent en uiteindelik man – manifesteer in hierdie rots. Al is die seun onseker oor sy toekoms en sy doel op hierdie aarde, neem hy rotsvas stelling in teen die noodlot wat ongenooid op hom afstuur. Omhels deur die leë bandolier, wat geen doel meer dien nie, is sy laaste uitweg die pistool, wat ’n gesneuwelde offisier hom nagelaat het. Oortrek met storms van angs, het hy ’n ongeskonde geloof in iets veel groter as lewe,” verduidelik hy die simboliek agter die beeld.

Hy sê volharding, deursettingsvermoë, vasberadenheid, selfstandigheid, trots en dat hoop vir die toekoms onmisbaar is, versinnebeeld dié beeld.

“Dit is ’n kind, wat vinnig ’n man moes word en in onmenslike omstandighede floreer het. Hy het die toekoms vir anders kinders deur sy dapperheid gevorm.”

Aan die Penkopseun se linkersy het hy ook ’n vlam en wiel uitgebeitel. Dit dui op onblusbaarheid en vooruitgang.

penkopmonument-aambeeld-naamborde

Die Penkop is die tweede Afrikanermonument wat die FAK vanjaar onthul het. Foto: Verskaf.

Aan die voet van die Penkopmonument staan die woorde van Müller uit graniet gekerf:

Ek het ’n kind gemaak. Uit die oë van ’n kind. Vir ’n kind.

Hierdie kind se aarde is verskroei.

Sy onskuld gesteel, deur die besluite van grootmense.

Al die fases van ’n seun se grootwordjare, kleuter, adolessent en uiteindelik man word in hierdie gesig uitgebeeld. ’n Man in die lyf van ’n seun.

Onseker oor sy voorkoms en sy doel op hierdie aarde, neem hy rotsvas stelling in, teen die noodlot wat ongenooid op hom afstuur.

Omhels met bandolier wat geen doel meer dien, sy laaste uitweg die 7.63 mm-Mauserpistool wat ’n gesneuwelde offisier hom nagelaat het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Charles ·

Pragtig! Wat kan mens anders se as om maar net jou waardering en dank uit te spreek!

En hoor jy die magtige dreuning…?

pappi ·

wow vandag iets geleer van Jacques ….ken hom as n Competitive Bodybuilder….nooit kon dink die man is so kunstig…wel gedaan Jacques….Ons Kultuur kan trots wees om iemand soos jy te kan he…

Margaret ·

That is beautiful and touching. May we never forget those that suffered for us, although long ago.

HM ·

Gooogle DAM VAN TRANE BLOEMFONTEIN. Elke keer as ek daar verby ry, kry ek n knop in my keel. Dankie ook vir hierdie mooi gebaar.

Hans ·

Dankie FAK!Dis n wonderlike gebaar.Daar sal seker n gekerm wees van links-net soos met Die Stem.My pa was op 13 n krygsgevangene op Bermuda-sal graag sy naam daar sien.

Ella ·

@ Hans: stuur jou pa se naam en geboortedatum en ek is seker hulle sal dit bysit
Ja ons het n geskiedenis om te onthou maar ons sal dit self moet vertel want dit word nie meer vir ons kinders geleer
So word ons verlede al meer na die kantlyn verskuif. Dankie aan die wat dit nog onthou.
Ek verlang na “Die Stem” en die gevoel wat ek gehad het as ons dit gesing het: trots, emosioneel en vol vreugde aan die einde.

Babs Brouwer ·

Charles, jy slaan die spyker op die kop! Ek beaam elke woord. Di e lied se 4de strofe het die woorde: “Die golwende veld is ons woning, en ons dak is die hemel-blou; die stryd wat ons vaders begin het, sal woed tot ons sterf of gewin het, dit is die eed van Jong Suid Afrika….Dankie Danie Lange, FAK en elke jongman wat in hierdie mooi land gaan aanhou bly en stry…

John ·

… ‘n kind… bitter en oud voor sy tyd… vasgevang in ‘n ketting van klip… wat vorentoe beur na ‘n geveg vir niks in diè land… en hy kan geen traan meer stort nie. Nee! Ons mense verkeer in diep depressie… en ons kinders voel dit die ergste. Geen beeld het my nog so weèmoedig gestem nie.

Hendrik ·

Pragtige beeld en artikel. Ek wens net ons kon meer en duideliker foto’s sien!

Netso ·

Dit is soos ñ hond wat ñ kar jaag! Wat ñ pragtige gebaar om die verwarde kind uit ñ klip uit te kap sonder hande! Dis presies vandag se kinders in SA se toekoms en die geskiedenis gaan vir die witman in die drein af! RIP Suid Afrika

Quentin Xavier Viljoen ·

Mag ons Afrikaner-volk se geskiedenis HERLEEF word, oral in ONS wonderlike land! As die Afrikaner-volk net wil terugkeer na God se leiding, sal ons ALLE weerstand oorkom!

Manna ·

Ek is trots op ons Afrikaners
wat tenspyte van al swaarkry uit gestyg het en van Suid Afrika ‘n eerste wêreld gemaak het in tyd wat hulle gegun was om te regeer. Net so sal ons nuwe geslag hulle plek volstaan en leiding neem om Suid Afrika ‘n better plek vir alle Suid Afrikaners te maak ten spyte van kommunisiese aanslag. Ons sal oorleef en hande vat met almal wat vrede en voorspoed voorstaan

Jan ·

Die probleem met afrikaners is juis dat hulle n beter toekons vir hulle vyande probeer skep en sodoende hulleself stadigaan uitroeei

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.