Familie se vermoede bevestig: Boer ís vermoor

Fred Jansen van Rensburg. (Foto: Facebook)

Die familie van ʼn boer wie se liggaam Saterdag naby sy plaashek in Noordwes aangetref is, weet nou hy is beslis vermoor.

Die 67-jarige Fred Jansen van Rensburg se familie het sedert sy dood veel meer vrae as antwoorde oor die omstandighede van sy dood gehad.

Kapt. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder, het vroeër gesê die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek na Jansen van Rensburg se dood. Dié ondersoek sou help bepaal wat die oorsaak van Fred se dood was.

Fred se skoondogter, Suzanne, het aan Maroela Media gesê die uitslag van die nadoodse ondersoek het nou gewys dat Fred wel vermoor is.

Volgens haar het die ondersoek gewys Fred het ʼn hou teen die kant van sy kop gekry wat tot bloeding op die brein gelei het.

Maroela Media het ʼn navraag hieroor aan die polisie gestuur en wag nog op terugvoer.

Fred het die plaas bestuur waar sy liggaam gevind is. Hy was veronderstel om Saterdagoggend saam met sy plaaswerkers beeste te tel toe hulle op hom afgekom het.

Suzanne is inderhaas na die plaas nadat sy oor sy dood ingelig is. Fred se seun, Freddie, was in Mongolië waar hy werk.

“Ek het daar aangekom en my skoonpa op die naat van sy rug buite die hek van sy huis sien lê. Ek het net sy opgeswelde, blou oog en bloed gesien, omgedraai en my man gebel,” sê sy.

Nooddienste is na die toneel ontbied en paramedici het Suzanne meegedeel dat hulle vermoed haar skoonpa is al vir langer as 12 uur dood.

Fred se familie het uit die staanspoor vermoed dat vuilspel moontlik by sy dood betrokke was.

Volgens Suzanne het haar skoonpa se elektriese hek wawyd oopgestaan en hy het sowat drie meter buite die hek gelê met sy voete wat na die huis wys. Een van sy kouse het by die hek gelê en die pantoffels wat hy gedra het, was binne die erf. Dit het ook in die rigting van die huis gelê.

Fred is met ʼn koplamp in sy een hand aangetref en die sleutels van sy huis, sy bakkie en die hekmotor langs hom.

Sy bakkie het op die gewone plek in die erf gestaan en sy selfoon was nog daarin toegesluit.

Suzanne sê hulle het later op ʼn betaalstrokie afgekom wat wys dat Fred net ná 19:00 by ʼn vulstasie was om brandstof vir sy kragopwekker te koop. Daar word vermoed dat hy daarna huis toe is, aangesien die brandstofkan by die kragopwekker aangetref is.

Fred se huis het oopgestaan en hoewel niks ooglopend uit plek was nie, het bierbottels by die sitkamerbanke Suzanne-hulle se aandag getrek.

“My skoonpa het altyd op ʼn enkelbank gesit en my oorlede skoonma het op die dubbelbank gesit. Langs dié twee banke het twee bierbottels gestaan. My skoonpa het egter nooit bier uit ʼn bottel gedrink nie, maar het dit eerder in ʼn glas gegooi en die res in die yskas gebêre,” sê sy.

“My oorlede skoonma was ook pynlik netjies en my skoonpa het daarmee volgehou, daarom was dit vreemd toe ons sien dat daar modder by die banke is.”

Suzanne sê hulle kan egter nie uitpluis wat daartoe gelei het dat Fred so laat na die hek toe sou gaan nie, boonop sonder enige soort beskerming.

“Indien iemand sy aandag getrek het om na die hek te gaan, sou dit iemand gewees het wat hy ken, anders sou hy ʼn vuurwapen saamgevat het,” sê sy.

Fred se vuurwapen is egter op sy plek in sy huis aangetref.

Daar is boonop sleepmerke in die grond gewaar en die polisie het afdrukke van die voetspore naby Fred se liggaam geneem.

Skok, hartseer

“Oor die naweek was ons in erge skok want ons het nie geweet wat gebeur het nie,” sê Suzanne.

Fred se geliefdes kon tot dusver nie begrafnisreëlings tref nie, omdat die nadoodse ondersoek nog nie afgehandel was nie.

Freddie sê hy sal altyd sy pa as ʼn man onthou wat sy familie ten alle koste beskerm het, die hardste werker was, nooit doekies omgedraai het nie, maar bowenal ʼn trotse familiemens was.

“Sy lewe het om sy vrou en sy kinders gewentel.”

Volgens Freddie het sy pa gesukkel om sy ma, Antoinette, se dood te verwerk. Antoinette is verlede jaar op haar verjaarsdag in die ouderdom van 65 dood.

“Ons het gedink hy gaan homself tot die dood treur, en toe het hierdie nou gebeur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Sê maar net ·

So tragies….Dis so hartseer. Mag ons Hemelse Vader die familie versterk en vertroos.

My siening ·

RIP en mag die waarheid seëvier want daar is teveel van die moorde op boere! Sterkte aan die familie!

Skappie ·

So jammer om van die oom se dood te lees. Mag onse Liewe Heer julle as ‘n familie en almal wat hom geken het, deur hierdie moeilike tyd wat nou voorle dra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.