Families platgeslaan oor swaar vonnisse vir SA’ners in Ekwatoriaal-Guinee

Frik Potgieter (Foto: Verskaf)

Frik Potgieter (53) en Peter Huxham (55), die twee Suid-Afrikaners wat in Februarie op dwelmverwante aanklagte in Ekwatoriaal-Guinee in Wes-Afrika in hegtenis geneem is, is Vrydag in ʼn hof in dié land skuldig bevind en 12 jaar tronkstraf opgelê.

Hulle moet elkeen ook R94 miljoen as skadevergoeding opdok en ’n boete van R47 miljoen elk betaal.

Die verhoor het verlede Maandag in die dorp Mongomo begin en het net twee en half uur lank geduur.

Die onverwagse wending en vonnisse was ʼn reuseskok vir hul geliefdes, wat oortuig was dat Potgieter en Huxham Vrydag vrygespreek sou word en na Suid-Afrika sou terugkeer.

Die mans se gesinne hou vol hulle is onskuldig. Volgens hul onderskeie familiewoordvoerders het die staat boonop versuim om enige tasbare bewyse teen Potgieter en Huxham in die hof te lewer; ʼn verwikkeling wat die mans se regsverteenwoordigers erg bekommer.

Maroela Media het vroeër berig dat Potgieter (van George in die Wes-Kaap) en sy kollega, Huxham (van Langebaan), op 9 Februarie op verskillende tye by die Anda China-hotel in Malabo aangekeer en in hegtenis geneem is. Die twee mans werk al jare lank as ingenieurs vir ʼn Nederlandse olie- en gasmaatskappy, Single Buoy Mooring (SBM), en sou die volgende dag weer huis toe keer.

Potgieter en Huxham werk in verskillende afdelings van die maatskappy en was net kennisse.

Hulle is aanvanklik by die berugte Black Beach-gevangenis aangehou, maar is later na ʼn tronk in Mongomo in die ooste van die land oorgeplaas.

SBM het na afloop van hul inhegtenisneming ’n krisisbestuurspan saamgestel wat gereeld met die familie en ander rolspelers skakel. Die maatskappy het ook ʼn regspan vir Potgieter en Huxham aangestel.

‘Vonnisse bisar’; ‘geen bewyse’

SBM het die families op 23 Junie in kennis gestel dat die verhoor verlede Maandag sou begin. Die verrigtinge was blitsig verby en teen Vrydag het die skoknuus gekom dat Potgieter en Huxham aan die onwettige besit en verspreiding van kokaïen skuldig bevind is, dat hulle 12 jaar tronkstraf moet uitdien en buitensporige bedrae geld moet betaal.

Francois Nigrini, Huxham se swaer en die familie se woordvoerder, sê daar “was absoluut geen bewyse” deur die staatsaanklaer of staatsprokureur voorgelê wat Potgieter of Huxham met die aanklagte teen hulle verbind nie.

“As daar geen bewyse is nie, hoe kan hulle enigsins skuldig bevind word, en verder so ʼn drastiese vonnis opgelê word?”

“Met geen bewyse as getuienis nie, moes hulle onmiddellik vrygelaat word.”

Nigrini sê die staat beweer dat die polisie dwelms in Potgieter en Huxham se bagasie in hul hotelkamers gevind het – bewerings wat glad nie klop nie aangesien die polisie glo nie eers op dié bagasie beslag gelê het nie.

Hy verduidelik dat die mans ná hul aankoms by die hotel uit hul onderskeie kamers na die ontvangs ontbied en na die polisiekantore geneem is.

Peter Huxham (Foto: Verskaf)

“Geen polisiebeampte was in hul kamers nie en hul bagasie is drie dae later deur SBM uit hul kamers verwyder.”

Hy sê die staat het geensins, “nie eers naastenby”, ʼn saak teen Potgieter of Huxham bewys nie.

“Die vonnisse wat opgelê is, is absoluut bisar en onmenslik. Dit is strydig met die land [Ekwatoriaal-Guinee] se wette en maak geen sin vir iemand wat nog nooit met die reg gebots het nie.”

Nigrini beskryf Huxham en Potgieter as Godvresende, wetsgehoorsame mense wat goeie lewens, “familielewens”, lei.

Hy sê Huxham se lewensmaat, Kathy McConnachie, was so geskok en getraumatiseerd deur die nuus dat sy mediese behandeling moes ontvang.

Shaun Murphy, woordvoerder vir die Potgieter-familie, sê Potgieter se gesin en geliefdes hanteer die nuus net so moeilik.

“Ons sukkel om dit te verwerk en het dit glad nie verwag nie.

“Ons weet die manne is onskuldig. Hulle is geensins betrokke by enige vorm van dwelmgebruik of die verspreiding daarvan nie.

“Die gesinne trek in dié stadium baie swaar. Die verwagting was dat hulle Vrydag vrygespreek sou word en huis toe kom. Die nuus [oor hul vonnisse] het ons almal heeltemal onkant betrap.”

Appèl nou volgende stap

Murphy beskryf die swaar vonnisse as “belaglik” en sê hulle gaan beslis daarteen appelleer.

“Ons het vyf dae om appèl aan te teken en dan 15 dae om die appèlsaak voor te lê.

“Ons is ook in verbinding met die Suid-Afrikaanse regering en dié van Ekwatoriaal-Guinee.”

Nigrini sê hulle het nog nie terugvoer oor Potgieter en Huxham se gemoedstoestand of welstand ontvang nie. ʼn Gedeelte van die saak is egter Vrydagaand op TV in Ekwatoriaal-Guinee uitgesaai.

Volgens ʼn video wat die families daarvan gesien het, is die mans duidelik geskok en het hulle reeds heelwat gewig verloor, sê Nigrini.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Rooikoos ·

Ouer, wit mans soos die kry nie werk in SA nie agv die anc se rasbeheptheid. Hoe anders moet hulle vir hulle gesinne sorg?

Koen ·

Daar is baie geleenthede hier. Maar as jy vir die “baie geld” gaan, neem kennis van die risikos. En moenie huil as dit gebeur nie.

Marina ·

Ek weet mense is desperaat vir werk, maar uit daardie lande moet jy uitbly! Gaan dan eerder Middle Ooste toe. Hierdie was duidelik n vooraf beplande “plot” en die arme mans het nie n kat se kans gestaan nie. Sterkte!

Oom ·

Leer die mense dan nooit nie. Elkekeer loop talle mense ‘n bloutjie met bedenklike beleggings. Die twee is seker ook gelok met geld. Daar is gee veilige gou rykwordskemas nie; net lokvalle met vreeslike slagysters. ‘n Mens kan nie ryk word tussen ‘n spul brandarm mense nie.

Marcello ·

Hull is nie gelok met geld, of vinnige ryk word nie, hulle was daar om vir hulle gesinne ‘n beter lewe te kan gee, want in SA kry blanke mans nie werk nie, so hoe moet hulle vir hulle gesinne sorg.? Dit is maklik om nou op die kantlyn te staaan en te sê: Bly weg, maar gaan jy dan jou gesin honger lei, of gaan jy probeer kos op die tafel sit.

Janice ·

Single Buoy Mooring is nie ‘n hierjy maatskappy wat mense onder ‘n dekmantel in diens neem nie. Hulle is wereldwyd. Hierdie mans is spesifiek geteiken. Begin ondersoek by die hotel en die korrupte polisie. Ek is seker daarvan hulle is kop in een mus om buitelanders te teiken.

Papsak ·

Ja ek stem maar as hulle hier in SA wil ontslse raak van die BEE dan sal ons ook werke kry hier nou moet ons maar gaan en in ander lande gaan werk soek daarom gebeur sulke goed sterkte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.