Fietsrit ontaard in nagmerrie toe rowers toeslaan

Dr. Neil van Tonder (regs) en sy vrou, Belinda, ry al vir 25 jaar lank fiets (Foto: Verskaf)

’n Egpaar van Durbanville se fietsrit het Sondag in ’n nagmerrie ontaard toe hulle deur drie mans met ’n kapmes aangeval is. Dr. Neil van Tonder (57), ’n algemene praktisyn en beroepsgeneeskundige, het ongedeerd van die voorval afgekom, maar sy vrou, Belinda (56), het haar regterboarm gebreek.

Die voorval het tussen 09:30 en 09:45 op die Waarburghpad in die omgewing van Joostenbergvlakte digby Kraaifontein plaasgevind.

“Belinda het voor my gery toe ek ’n voetganger in die pad opgemerk het. Ek het ook uit die hoek van my oog twee mense gesien wat op die voetpaadjie gestap het. Min het ons geweet dat dié twee en die voetganger in die pad kop in een mus is,” vertel Neil aan Maroela Media.

Belinda het probeer om rondom die man in die pad te ry toe hy voor haar inloop en haar van haar fiets afruk. Sy het op haar regterarm op die grond geval.

“Ek het op daardie oomblik bewus geraak van die twee mans wat in die voetpaadjie aangehardloop kom en het besluit om my fiets se rem te trek. Een van dié mans het sonder enige waarskuwing en sonder om ’n woord te sê ’n kapmes van ongeveer 1 meter lank uit sy swart jas gepluk en my daarmee probeer kap.”

Neil sê hy het betyds die wapen opgemerk, van sy fiets afgespring en teruggestaan sodat die mes hom nie kon tref nie.

“Hy het vir my nek en skouers gemik. Hy het die mes met ’n geweldige krag na my geswaai.”

Volgens Neil het die man in die proses sy balans verloor en met sy hande op die teer geval. Dit het hom kans gegee om ’n tree agteruit te neem en sy gaspistool – wat hy in sy fietssak hou – uit te haal. Hy sê hy vat altyd sy gaspistool saam wanneer hulle fietsry.

“Die man het die pistool gesien en saam met sy makker besluit om die aftog te blaas en te vlug. Ek vermoed hulle het gedink dit is ’n regte vuurwapen.

“Ek het ná hul vlugtog na Belinda gedraai, wat steeds op die grond gelê het. Die derde aanvaller het by haar gestaan en in haar fietssak gegrawe. Ek het die gaspistool op hom gerig en hy het met Belinda se selfoon op die vlug geslaan.”

Neil het daarna die ambulans ontbied.

“Ek kon sien Belinda het haar regterboarm, net bo haar elmboog, sleg gebreek.”

Neil sê terwyl hulle vir die ambulans gewag het, het vriende van hulle – wat hulle halfpad tegemoet sou ry – van die teenoorgestelde rigting aangery gekom en die Van Tonder-egpaar langs die pad gewaar.

’n Motoris het ook in daardie stadium stilgehou om hulle te help.

“Terwyl ons vir die ambulans gewag het, het ’n polisievoertuig ook by ons stilgehou. Hulle het egter nie eens moeite gedoen om uit die voertuig te klim nie. Dit het ’n bitter smaak in my mond gelaat.”

Die ambulans het Belinda na die MediClinic Durbanville geneem waar sy ’n operasie aan haar arm ondergaan het.

Neil het ’n saak by die Kraaifontein-polisie aanhangig gemaak. Volgens kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, is niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Neil sê ʼn soortgelyke aanval op ander fietsryers het in Maart op dieselfde pad plaasgevind.

“Hierdie roete word daagliks deur fietsryers benut en sover my kennis strek is ons aanval die tweede aanval wat op dié pad aangemeld is.”

Die Van Tonder-egpaar ry al die afgelope 25 jaar fiets en volgens Neil is dit die eerste keer dat só iets met hulle gebeur.

“Ek het veiliger en minder bedreig gevoel toe ek in die Demokratiese Republiek van die Kongo gewerk en soldate met AK-47-gewere teëgekom het, as nou op my fiets in Suid-Afrika.”

Neil sê hoewel ontnugter is hulle nie ontmoedig om voortaan weer fiets te ry nie. “Ons was reeds baie versigtig, maar sal nou nóg meer paraat wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

gpsa ·

Wel gedaan Neil, jy het die situasie goed hanteer. Ek self ry altyd met peper sproei. Wat kan mens doen? Kan nie jouself heeltyd toesluit nie. Hoop hulle vang die kriminele.

My siening ·

En die polisie kyk en ry verder! Pateties en hoekom sê die kol. Niks van die gemors wat hul polisie noem!

Anoniem ·

Sò dankbaar dat jul beide leef. Sterkte vir biede van jul en spoedige herstel vir jou vrou word toegewens.

Misky ·

Ek is bevrees dit gaan net erger raak en ek kry sommer so galbitter smaak in my mond as ek dink wat vir ons nasie nog voorlê. Goed gedoen Neil en bly jy het koelkop gebly en die situasie goed hanteer.

Boerkind ·

‘n Skande vir die ANC regering wat nie sy landsburgers veilig kan hou nie! Dit raak al erger… en dan wil Cele ons ontwapen??

Willempie ·

Wel gedaan Neil. Maar baie kommerwekkend….die mense wat veronderstel is om ons te beskerm, doen nie eens die moeite..( dis hul plig mr Chele)..om by die toneel uit hul voertuig te klim nie.

Die Boerepompie ·

Plaas hulle eder die mese weg vat in ons land as die gunne daar word meer mese gedood met messe

Menan ·

Vat volgende keer net ‘n regte pistool en nie ‘n gaspistool saam nie! (nie om dood te skiet nie, maar waarskuwingskote af te vuur) – dit sal hulle laat hol!

christo ·

Dis ‘n nare feit: Die SAPD lede van kleur sal uit hulle pad gaan om jou nié te wil help nié. Ons is verantwoordelik vir ons eie veiligheid. Meeste SAPD lede is net so ongeskik soos Cele, sy en hulle gedrag en vermoë om te polisieër.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.