Finansieskomitee vir voorstel om BTW op sekere kos te skrap

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die parlement se staande komitee oor finansies is ten gunste van die DA se voorstel om sekere kossoorte van BTW vry te stel.

Dié stap sal die finansiële druk op huishoudings verlig wat reeds sukkel om kos op die tafel te sit.

Die komitee het die DA se aanbeveling gesteun, wat volgens die party gemaak is weens die swak ekonomiese groei, ʼn groeiende begrotingstekort, ʼn opgeblaasde openbare sektor en voortdurende reddingsboeie aan mislukte ondernemings in staatsbesit.

Die DA het in sy alternatiewe mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) ʼn omsigtige raamwerk vir die bestuur van uitgawes uiteengesit. Daar is boonop genoeg ruimte om sekere kossoorte van BTW vry te stel, sonder dat dit nodig is om belasting op ander gebiede te verhoog.

Daar word voorgestel dat die BTW-vrystelling strek om noodsaaklike items soos hoender aan die been, beesvleis, geblikte boontjies, meel, margarien, grondboontjiebotter, babakos, tee, koffie en soppoeier in te sluit.

“Die DA doen nou ʼn beroep op die minister van finansies om die komitee se aanbeveling in werking te stel,” sê dr. Dion George, die DA se woordvoerder van finansies.

Die Nasionale Tesourie het sedert verlede maand se mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) aangedui dat die regering die instelling van bykomende belastingmaatreëls moet oorweeg om groot inkomstetekorte op medium termyn aan te pak.

Tot dusver het min. Enoch Godongwana nog geen besliste antwoorde oor die dreigende belastingverhogings verskaf nie.

Godongwana het aangevoer dat dit voortydig is om belastingaanpassings voor volgende jaar se begrotingsrede te bespreek, maar volgens George “dui die afwesigheid van ʼn konkrete reaksie daarop dat moontlike belastingverhogings op pad is”.

“Suid-Afrika is reeds geteister deur een van die mees drukkende belastingregimes ter wêreld en die DA is bekommerd oor die dreigende onsekerheid wat die minister se onduidelikheid oor belastingaanpassings veroorsaak het.”

Volgens George sal die DA die instelling van enige bykomende belasting of verhoging in belastingkoerse teenstaan, aangesien “dit net ekonomiese groei verder sal belemmer, die verbruikersvertrouekrisis sal verdiep, beleggings ontmoedig en meer druk op 81% van huishoudings plaas wat reeds een maaltyd per dag oorslaan weens die stygende kospryse”.

“Sou die ANC-regering verhoogde belasting oplê, sal daar weerstand wees omdat belastingbetalers al hoe versigtiger geword het vir die regering se geneigdheid om hul swaarverdiende geld te verkwis,” sê George.

“In plaas daarvan om meer belasting te hef, moet die minister ag slaan op die aanbevelings wat in die DA se alternatiewe MTBR gemaak is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Deon ·

Dit gaan geen verskil maak nie. Die prys wat die verbruiker vir hierdie items gaan betaal gaan net dieselfde bly en die handelaar se wins daarop gaan maar net groter wees.

OU SAAR ·

Hoekom net op sekere kossoorte… ?

Die regering is nou besig om bloed uit ń klip te tap.

Waarnemer ·

DA hou op met voorstelle aan die regerende party te maak…..DOEN iets daaromtrent.Mens hoor net die die DA stel die en dat voor maar niks vind konstruktief plaas nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.