Foto’s: Boere ruk op oor kragkrisis     

Boere het Vrydag in die Noord-Kaap opgeruk. (Foto: VF Plus Siyancuma/Facebook)

Boere van regoor die Noord-Kaap het Vrydagoggend opgeruk in ʼn vreedsame protes teen die voortslepende beurtkragkrisis wat Suid-Afrikaners se lewensbestaan bedreig, en boonop nou dreig om die land se voedselsekerheid te knou.

Ongeveer 300 boere en lede van gemeenskappe het met trekkers en ander plaastoerusting na Douglas gereis om die impak van beurtkrag te beklemtoon.

Besorgdes in ander gebiede soos Hopetown, Prieska en Vaalharts het ook in hul onderskeie dorpe opgeruk om bewusmaking oor die potensiële vernietigende impak van beurtkrag te skep.

“Die doel van vandag is nie om die land onregeerbaar te maak of ander dele van die ekonomie om ver te werp nie,” het Nicol Jansen van Agri Noord-Kaap gesê toe hy Vrydag die boere toegespreek het.

“Die doel van vandag is om bewusmaking te skep oor ons probleem; dat ons nie kos kan produseer as ons nie krag het nie.”

Terwyl meeste stedelike gebiede nog watertoevoer het wanneer beurtkrag inskop, is kleiner gebiede in die land, veral landelike gemeenskappe, ook nog sonder water wanneer die kragtoevoer na hul pompstasies gesny word.

(Foto: Verskaf)

Boere in die gebied is tans onderhewig aan fase 5-beurtkrag, wat beteken dat hulle vir sowat ses uur van die dag nie besproeiingsmasjiene op die plaas kan gebruik nie.

“Die voldoende verskaffing van elektrisiteit is noodsaaklik, sodat ons ook genoegsame watertoevoer kan hê om die nasie te voed,” sê hy.

“Die lande daar buite is droog en in hierdie stadium boer ons agteruit.”

Jansen het gewaarsku as dinge aanhou soos dit nou gaan, ʼn reuseoesverlies dreig, wat Suid-Afrikaners honger sal laat.

Volgens hom word 17% van die land se mielies onder besproeiing geproduseer. Sowat 2,45 miljoen ton mielies is tans in gedrang weens beperkte besproeiingsure.

Altesaam 40% van koring word ook onder besproeiing geproduseer. Hierdie oes is ook in gedrang indien alternatiewe planne nie beraam word om gewasse tot en met die oes deur te trek nie.

Daarmee saam word 90% van alle groente en vrugte onder besproeiing geproduseer.

“Die besproeiingsindustrie het elektrisiteit nodig om winkels se voorrade aan te vul. Krag is kos en kos gee krag.”

Sou hierdie broodnodige oeste misluk, voer Jansen aan dat die land se banke ongeveer R6 miljard uit die sak moet haal om die oeste te herfinansier. Nie die boere, die banke, óf die inwoners van Suid-Afrika, kan dit bekostig nie.

(Foto: VF Plus Siyancuma/Facebook)

Beurtkragplanne moet aandag kry

Volgens Gerhard Bruwer, ʼn besproeiingsprodusent van Douglas, is niemand onaangeraak nie en moet almal saamspan om deel te wees van die oplossing vir die land se kragkrisis.

Die boere het ʼn beroep op ander sektore in die land gedoen om hande te vat en saam planne te beraam sodat Eskom die min krag wat wel beskikbaar is, effektief volgens nood kan verdeel. Jansen het op sy beurt aangevoer dat die beurtkragskedules hersien moet word sodat die nood van elke bedryf in ʼn gegewe tyd aandag kry om sodoende die impak op daardie bedryf te minimaliseer.

“Ons bekommernis is oor wat kom. Die hartseer is dat kos onbekostigbaar gaan raak,” sê Bruwer.

“Ons smeek al die sektore om saam te staan en ons te help. Ons wil ons land se voedselsekuriteit verseker, maar ons sal dit saam moet doen as ons dit ooit gaan verwesenlik.”

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sonblom ·

Dankie aan elke boer wat by hierdie optog betrokke was. En ek weet elke boer sou daar wou wees.

piet ·

Voer die kos in (kan dit in elk geval vir goedkoper doen as hulle die invoerbelasting verminder) . Op die ou end is dit eintlik die boere self wat aan die kortste end gaan trek. Daar sal kos wees boere, julle is nie so onmisbaar as wat julle dink julle is nie. Hierdie petalje met die krag raak julle sakke net soos dit ons ander entrepreneurs ook raak, glad nie ‘n unieke situasie nie.

Nettie ·

Hierdie is ‘n oordeel van God af. Die land minag die boere, hulle ontken plaasmoorde, hulle ondersteun hulle nie deur droogtes en beurtkrag nie. En sommiges vra openlik dat “settlers” eerder die land moet verlaat, ens. Hulle sê dat hulle vir hul eie voedsel gesorg het voor die kolonialiste gekom het en sal weer. Maar besef nie dat gespesialiseerde boerdery nou nodig is om vir 60 miljoen te sorg nie!

God het Sy Kinders uit Europa na Afrika gestuur die afgelope 600 jaar om die Woord te versprei. Hulle was meestal boere, evangeliste en dokters. Brood en genesing vir die liggaam en siel.

Deur die bank het een na die ander Afrikaland hulle verwerp op die grusaamste, wreedste maniere, en tans lei ons boere nou ook net so . God gaan op ‘n dag sê goed, Ek ontrek My brood vir liggaam en siel, want julle wil dit nie hê nie.

En ek vrees daardie dag het aangebreek.

Reinette ·

Baie dankie aan elke boer! Net jammer baie mense besef nie die impak van eskom se beurt krag nie.. Swaar tye wat voor lê… Om honger en dors te wees is ‘n nagmerrie!!!!!! Mense moet saam staan.. GENOEG IS GENOEG!!!

Geert ·

Ek het die grootste respek vir Suid Afrika se boere wat aanhou hoop dat dinge beter sal gaan en aanhou boer sodat ons kos op ons tafels het. Hulle het hulleself al bewys dat hulle met die bestes in die wêreld kan meeding. Ek twyfel egter baie sterk of die huidige regering enigsins sal help. Ek glo dit is tyd dat ons onsself help en verseker dat hierdie boere krag het om hulle besighede te kan bedryf. Hierdie regering het eenvoudig nie die insig, wil en vermoeë nie. Ons moet stapelgek wees om te betaal vir dienste wat ons nie kry nie.

Papsak ·

Dankie vir elke boer grate van julle staan saam staan op baklei oor hierdie krag krisis geen krag geen kos bravo vir die boere

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.