Foto’s: Duisende ha brand weer in Vrystaat

[Foto: Verskaf]

Veldbrande het Sondag weer tussen 20 000 en 30 000 ha in die Vrystaat verwoes en ten minste een struktuur in die Clarens-omgewing is deur die vlamme verswelg.

Verskeie dele van die provinsie het Sondag onder uiterste brandweer met hoë temperature, lae humiditeit en wind van tot 60 km/h gebuk gegaan. Dorpe soos Smithfield, Steynsrus, Clarens, Senekal en Ventersburg is veral erg geraak.

“Die Ventersburg-brand was die grootste in terme van beskadigde gebied en het ʼn afstand van meer as 30 km geraak,” het Johann Savage Breytenbach, bevelvoerder van die oorhoofse brandbeskermingsvereniging (FSUFPA), gesê.

Veldbrande het laatmiddag tot by die N5 tussen Senekal en Winburg versprei nadat dit omstreeks 15:00 deur die Willem Pretorius-natuurreservaat versprei het,” sê Breytenbach.

Die Ventersburg-brand is grotendeels in bedwang gebring, maar woed nog in die reservaat omdat brandspanne gedwing is om vir die nag te onttrek weens die gevaarlike toestande.

Volgens Breytenbach sal vandag (Maandag) se weerstoestande na verwagting dieselfde gevare inhou.

Hy sê brandbestrydingsbedrywighede het tot laat voortgeduur en uitgebreide skade aan landbou- en ander infrastruktuur is ʼn gegewe terwyl voorraad- en wildverliese hoogs waarskynlik is.

[Foto: Tracy Paxton/Facebook]

[Foto: Tracy Paxton/Facebook]

“Informele verslae van verlies aan residensiële eiendom in die Clarens-omgewing is ontvang, maar dit is te vroeg om amptelike ramings van skade en verliese te verwag.”

Die totale gebied wat deur Sondag se veldbrandvoorvalle geraak word, word op ʼn minimum van tussen 20 000 en 30 000 ha geraam.

FSUFPA monitor die situasie en sal die aktivering van die provinsiale veldbrandreaksie-taakspan versoek om te help wanneer nodig terwyl spanne van Working on Fire op bystand is om onderdrukkingsondersteuning in geaffekteerde gebiede te verskaf indien nodig.

Altesaam 4 299 veldbrandvoorvalle wat meer as 260 000 ha verwoes het, het tussen Mei en September in die Vrystaat gewoed.

Volgens Breytenbach verskaf die hoë aanwesigheid van brandstofladings wat oor die afgelope drie jaar opgehoop het, oorgenoeg brandbare materiaal vir die ontwikkeling van vinnig bewegende, hoë intensiteit veldbrande wat moeilik is om selfs in kalmer toestande in bedwang te bring.

[Foto: Tracy Paxton/Facebook]

[Foto: Tracy Paxton/Facebook]

“Dit is ongelukkig ons verwagting dat veldbrandvoorvalle sal toeneem in ooreenstemming met waarskuwings wat reeds in Maart 2023 deur FSUFPA uitgereik is.”

Hy sê hoewel daar ʼn drastiese toename in veldbrandvoorvalle sedert einde Julie was, is die provinsie tans steeds binne die grense van ʼn normale brandseisoen in terme van totale gebied wat geraak word.

“Ons doen ʼn beroep op die publiek om bedag te wees op die uiterste brandrisiko wat vir die duur van die lente sal heers en vra grondgebruikers om verantwoordelikheid te neem om die veldbrandrisiko op die grond onder hul beheer te bestuur,” sê Breytenbach.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Miskruier ·

Voorbrande in gunstiger omstandighede word verbied, is ons nie juis besig om onbeheerde brande te laat gebeur nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.