[Foto’s en Video] Betogers maak amok in Sannieshof

Skade in Sannieshof. Foto: Verskaf

Sakeondernemings en skole is Dinsdag vir inwoners en leerders se veiligheid gesluit nadat honderde betogers na die eens rustige Noordwes-dorpie, Sannieshof, aangery is.

Carin Visser, DA-raadslid van die gebied asook die party se leier in die provinsie, het aan Maroela Media gesê honderde mense het omstreeks 11:00 “uit alle rigtings” van buite die dorp op die sentrale sakegebied toegesak en die paaie met rommel en bande wat aan die brand gesteek is, versper.

Visser het gesê vroeër die dag het oproer in die omgeleë nedersettings van Agisanang en Pelindaba uitgebreek. Die inwoners is glo ontevrede oor die wyke waarin hulle verdeel is.

“Die inwoners is al geruime tyd ontevrede met dié kwessie en dit is al op verskeie raadsvergaderings bespreek. Sover ons kan vasstel het ontevredenheid oor beloftes wat nie deur die premier [Supra Mahumapelo] nagekom is nie, tot vandag se onluste gelei.”

Sy het gesê hulle het sowat ʼn uur voor die betogers op die dorp toegeslaan het ʼn waarskuwing ontvang en hulle kon betyds ʼn noodboodskap op die plaaslike WhatsApp-groep uitstuur sodat sakeondernemings en skole veiligheidshalwe voorsiening kon tref.

“Hordes mense, almal jong mense in hul 20’s en 30’s, is glo met busse van so ver as Coligny, Lichtenburg, Biesiesvlei, Blydeville en Deelpan aangery.”

Die betogers het onder meer die hoofstraat, die N14, versper en die pad is vir verkeer gesluit. Die openbare orde- polisie moes intree om die situasie onder bedwang te bring.

Volgens Visser is minimale skade en plundering aangerig, maar is die grootste skade aan die nuutgeteerde padoppervlak van die hoofstraat aangerig. Sover vasgestel kan word, is geen voertuie beskadig nie, aangesien die sakegebied betyds ontruim is.

Visser het gesê die situasie op die dorp was teen 14:00 kalm, hoewel daar nog betogers rondgestaan het. Die situasie in Agisanang en Pelindaba is egter nog gespanne en word deur die polisie gemonitor.

Die N14 was steeds vir verkeer gesluit en motoriste is aangeraai om van alternatiewe roetes gebruik te maak.

Maroela Media het navraag oor die situasie by die polisie gedoen en wag vir terugvoer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

39 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaco

Hierdie is kriminele en het niks met politiek uit te waai nie. Het n uur geweet voor betogers amok gaan maak, waar was polisie?

Annwen

Verkeerde wyke my voet?die aanry met busse se alles.

Ander Annie

So brand die land net al hoe meer. Kyk net na al die onnodige verwoesting en skade. Leierskap is ‘n enorme probleem.

Tragies

Hoekom word protesgangers met busse aangery? WIE betaal daarvoor? Nou is hulle weer ontevrede oor die WYKE waarin hulle gedeel is. Arme klein dorpies kan nie die skade hanteer nie. Eers Coligny wat met ‘n diensleweringsbetoging begin het en toe BAIE ander aandag (en simpatie) ontvang het met die boere en die seun wat van die bakkie af gespring het, skielik is dit ‘n wereldwye racial issue, maar aanvanklik was dit oor dienslewering, soos dit hier oor Wyke gaan. Nou gaan iemand seker weer een of ander wit/swart insident in die dorp gaan ophaal om hulle vernielsugtige optrede te regverdig.… Lees meer »

Capie

Daar moet definitief ‘n organisasie (Politieke Party) daaragter sit, want ontevrede inwoners het nie geld om busse te kan huur vir “rent a crowd” nie. Dit het in 2012 in Die Boland ook gebeur, daar is selfs kospakkies uitgereik aan die betogers.