Foto’s: Kruger-beeld, gedenkboek om Akademia-mylpaal te vier

Replikas van die Paul Kruger- en Boerekryger-beelde op Kerkplein in Pretoria is by Akademia se 10-jaarviering onthul. (Foto: Le-lanie de Beer)

Akademici, personeel, alumni, sakelui en uitgesoekte gaste het Maandag ʼn deftige geleenteid bygewoon om saam met Akademia, die Afrikaanse private hoëronderwysinstelling, ʼn dekade van pionierswerk te vier.

“Hierdie geleentheid is daar vir ons om as gemeenskap in groot dankbaarheid terug te kyk op die werk wat reeds gedoen is en ook ʼn klein blik op die toekoms te kry,” het Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, gesê.

“Die gedagte is ook om saam met julle iets van die universiteitslewe te geniet – in saamwees en in feestelikheid verbind tot die liefde vir die ware, die goeie en die skone.”

Hoogtepunte van die aand was onder meer die onthulling van ʼn reeks beelde, die bekendstelling van Akademia se gedenkboek en ʼn amptelike universiteitslied wat deur die Akademia-koor gesing is.

Die beelde is replikas van die Paul Kruger- en Boerekryger-beelde op Kerkplein in Pretoria. Die onthulling en Akademia se spogfunksie het nie per toeval op Krugerdag plaasgevind nie.

Prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia, het tydens die geleentheid verduidelik hoe dié hoëronderwysinstelling met Kruger se uitsprake oor sirkelvormige reise tussen die verlede en hede verband hou.

Akademia het op 3 Maart 2022 sy 10de bestaansjaar gevier. (Foto: Maroela Media)

“In die hart van Akademia staan ook die sirkelagtige reis tussen die mooie, die goeie en die ware van die verlede en ʼn gelukkige toekoms,” het Goosen gesê.

Volgens ʼn artikel deur Willie Spies, wat hierby aansluit, het Kruger in een van sy laaste boodskappe gesê: “Van ganser harte dank ek almal wat bymekaar gekom het om te beraadslaag oor die hede en die toekoms, en aan hul ou staatspresident gedink het en daardeur getoon het dat hulle die verlede nie vergeet het nie. Want wie vir hom ʼn toekoms wil skep, mag die verlede nie uit die oog verloor nie.

“Daarom: Soek in die verlede al die goeie en skone wat daarin te ontdek is, vorm daarna jou ideaal en probeer om daardie ideaal vir die toekoms te verwesenlik.”

Paul Vogel, bedryfshoof van Akademia, het die eerste gedenkboek aan Visser oorhandig. “Marthinus, dankie vir jou voorloop en vir jou visie om Akademia uit te bou tot waar ons vandag is. Ons is opgewonde oor die toekoms saam met jou en om dit onder jou leierskap in te gaan.”

Die gedenkboek, wat deur Ilze Niewoudt geskryf is, bied ʼn opsomming van Akademia se geskiedenis. Volgens Vogel het Niewoudt en die publikasiespan ʼn uitstekende produk saamgestel.

“Om tien jaar se stories, emosies, pionierswerk en ervaring op te som is werklik ʼn moeilike taak. Die span wat aan hierdie bundel gewerk het, het dit uitstekend reggekry om van Akademia se hoogtepunte in 177 bladsye vas te vang.”

Dié swierige geleentheid is by Sol-Tech se kampus in Monumentpark, Pretoria, gehou en by hul aankoms is gaste getrakteer op ʼn verwelkomingsdrankie en vingerhappies. Dit terwyl die wonderlike klanke van Afrikaanse Hoër Meisieskool se orkes vir ʼn gesellige atmosfeer gesorg het. Die sangeres en omroeper Esté Gross was die seremoniemeester.

Akademia se koor onder leiding van Franco Prinsloo het die gehoor vermaak met uitvoerings van Prinsloo se verwerkings. Dit is ook die eerste keer dat dié koor Akademia se universiteitslied sing. Die lied is deur prof. Hans du Plessis geskryf en Prinsloo het die toonsetting gedoen.

Esté Gross gesels met Flip Buys, dr. Dirk Hermann, Visser en Henk Schalekamp. (Foto: Le-lanie de Beer)

Die program is afgesluit met ʼn rusbankgesprek waarin Gross met Flip Buys, dr. Dirk Hermann, Visser en Henk Schalekamp, besturende direkteur van Kanton, oor die afgelope tien jaar se hoogtepunte, lesse wat hulle geleer het en die toekoms van Akademia gesels het.

Op die vraag oor toekomsdrome vir die instelling het Schalekamp gesê hoewel hy groot drome koester, wil hy ook sy wens vir Akademia met gaste deel.

“My wens vir Akademia is dat hulle nooit hul bestemming sal bereik nie, maar dat hulle altyd op reis sal wees.”

“Nou kyk ons nog in ʼn dowwe spieël en sien ʼn raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken” (1 Korintiërs 13:12).

Schalekamp het daarna 1 Korintiërs 13:12 gelees en bygevoeg: “My wens is dat Akademia sal bly poleer aan hierdie dowwe spieël en sal bly soek totdat ons eendag by Hom ons bestemming bereik het.”

  • Die Akademia-gedenkboek kos R650 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om dit aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JohanR ·

Ou Nathi Mthethwa het seker alle klere van die reenboog geword toe hy die lees of sien. Hy moes gelawe word. As die ANC net naby ‘n Orania of Akademia kan kom. Die Afrikaner doen.

Hendrik ·

As jy in ons gemeenskappe woon word daar selde gepraat oor ZA want daar word gewerk en daar is nie tyd om terug te kyk nie. Net vorentoe en ekstem saam met jou.

Johan ·

Wat ‘n instansie. Studeer self daar en hierdie mense weet wat hulle doen. Baie geluk Akademia.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.