Foto’s: Leerders laat hare waai vir seun se kleinsus met kanker

(Foto: Verskaf)

Niks minder nie as 28 meisies van die Hoërskool Delmas in Delmas, Mpumalanga, het verlede week hul hare afgesny en vir die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) geskenk. Nog 40 seuns en twee onderwysers het hul hare sommer heeltemal afgeskeer.

Die skool het dit gedoen om te wys die Dellies staan saam met Pedri Berg, ʼn gr. 9-leerder, wie se sussie Talitha (4) tans ʼn pad met kanker stap.

Talitha is reeds op tweejarige ouderdom met kiemseltumorkanker gediagnoseer. Sy het Vrydag vir ʼn operasie gegaan nadat daar weer kanker by haar gevind is.

“Twee meisies uit Pedrie se vriendekring, Santie en Elizmarie, het my gevra of hulle hul hare kan afsny en dit vir Kansa kan skenk. Die organisasie kan dit gebruik om pruike vir kankerlyers te maak.

“Die meisies het ook pienk strikke gemaak en verkoop om geld vir die Berg-gesin in te samel,” het Driekie Niemandt, berader aan die Hoërskool Delmas, aan Maroela Media gesê.

Na die nodige toestemming by die hoof en die kinders se ouers verkry is, het juffrou Madré Mitton vir Driekie gehelp om die meisies se hare te vleg en te sny. Pedri het self ook sy hare heeltemal vir sy sussie afgeskeer.

“Ons kinders het hulle harte en hande oopgemaak. Toe een eers kom, het daar net meer en meer leerders aangemeld om hulle hare te laat skeer en sny. Dit was ʼn massa-skenking en net weer ʼn bewys dat kinders werklik nog vir mekaar omgee.”

Ná Donderdag se haarsnysessie het die leerders en onderwysers besluit om Vrydag almal pienk aan te trek en strikke te dra. Daar is tydens die oggendopening by die skool ballonne vrygelaat en ʼn gebed is vir Pedri en sy sussie gedoen.

“Ons is geweldig trots op ons leerders, hulle het almal ingekoop daarop om vir Pedri en Talitha te ondersteun.

“Dit is ook wonderlik om te sien hoe positief ons skoolgemeenskap op die Facebook-plasing hiervan gereageer het. Dit is vir ons as skool ook ʼn manier om die storie van klein Talitha te versprei en bewusmaking te skep.”

Volgens Driekie was Talitha se operasie Vrydag suksesvol, maar moet sy nog chemoterapie ontvang.

Talitha se ma, Tanja, het ʼn BackaBuddy-blad vir haar dogter se mediese sorg begin omdat die gesin se mediese fonds uit geput is. Mense wat die gesin wil ondersteun, kan dié skakel volg of by Talitha se ondersteuningsgroep op Facebook aansluit.

Kyk hier na ‘n video van die geleentheid:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Cindy ·

Sjoe, hoe knip ek nou ‘n traan so vroegoggend… Wat ‘n klomp mooi hart kinders

Darts girl ·

My oë is vol trane nou, julle is regtig goeie en beste vriende. Dit is hoe dit moet wees, baie dankie aan al jul wonderlike kinders en onderwysers wat besluit het om die seun en sy fam te help

Melissa ·

Wat n pragtige gebaar. Kan ons almal maar nie net ook so saam staan soos die kinders nie

Hannelize ·

Ek huil nie maklik nie. Maar die berig. Dankie julle is wonderlik.

LANA is ELANè ·

Biddende omgee kinders in Suid Afrika, die mooiste gesig ooit en ñ teken van hoop vir ons land met al die diversiteit binne ons landsgrense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.