Foto’s: Sneeu dit op Tafelberg?

Is dit sneeu of ysreën op Tafelberg? (Foto: Skermgreep)

Sneeu en reën het Maandag in dele van die Wes- en Oos-Kaap, asook die suidelike gebiede van die Noord-Kaap, uitgesak. Die wolke lê boonop laag genoeg dat sneeu moontlik Dinsdag selfs op Tafelberg kan val.

Weerkenners het kopgekrap oor ’n video wat op sosiale media versprei word van sneeu wat Maandagaand op Tafelberg geval het. In die video kan ’n baie klein hopie “sneeu”, wat ook soos ysreën lyk, op Tafelberg opgemerk word.

Snow Report SA bevraagteken egter of dit wel sneeu is. “Nat sneeu of sneeu wat smelt, kan wel só lyk, so ons is nie seker of dit sneeu of net ysreën is nie. Daar word egter beslis Dinsdag sneeu vir Tafelberg verwag,” sê hulle.

Lehlohonolo Thobela, ’n weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAW), sê hulle het geen verslae oor sneeu op Tafelberg ontvang nie.

Snow Report SA het op sy Facebook-blad foto’s geplaas van die gebiede wat sedert Maandag sneeu gekry het.

Plekke soos Matroosberg naby Ceres, die Sederberge, Outeniekwaberge, die Overberggebied, die Swartbergpas naby Oudtshoorn, die Langeberge en die Laingsburg-omgewing in die Wes-Kaap lê dik onder sneeu.

Sneeu in Sutherland (Foto: Tossie Muller via Storm Report SA Twitter)

Sneeu het in hoogliggende gebiede in die Oos-Kaap rondom Graaff-Reinet, Nieu-Bethesda, Hogsback en Queenstown, asook in dele van die Vrystaat geval. Die AfriSki-oord in Lesotho het ook sneeu aangeteken.

Sneeu het ook in die suidelike dele van die Noord-Kaap rondom Sutherland, Calvinia en Fraserburg voorgekom.

Volgens Thobela sal sneeu Dinsdag in hierdie gebiede voortduur.

Minimum temperature het Dinsdagoggend tot ver onder vriespunt in dele in die Oos-Kaap, Vrystaat, Noord-Kaap en Noordwes gedaal. Volgens die SAW is ’n minimum temperatuur van -6 ˚C in Bloemfontein bereik, gevolg deur Bethlehem met -5 ˚C. Dié twee Vrystaatse stede sal na verwagting Woensdagoggend minimum temperature van -9 ˚C en -8 ˚C aanteken.

Die SAW sê die laagste maksimum temperature wat Dinsdag aangeteken is, was in Cradock (9 ˚C), Queenstown (9 ˚C), Graaff-Reinet (9 ˚C) in die Oos-Kaap; Bloemfontein (10 ˚C), Bethlehem (12 ˚C) in die Vrystaat, en Sutherland (6 ˚C) en Calvinia (10 ˚C) in die Noord-Kaap.

Kimberley (-6 ˚C), Sutherland (-5 ˚C) en De Aar (-4 ˚C) sal Woensdag die koudste plekke in die Noord-Kaap wees.

’n Ligte kouefront sal na verwagting Dinsdag die suidelike dele van Gauteng bereik. Yskoue weer wat met ligte reën gepaardgaan, sal Vereeniging, Johannesburg en Pretoria tref. ’n Maksimum temperatuur van 13 ˚C word vir Vereeniging, 14 ˚C vir Johannesburg en 19 ˚C vir Pretoria voorspel.

Thobela sê temperature sal van Donderdag af oor die hele land stadig maar seker begin stabiliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

tweeling ·

Dit het al jare terug ook gebeur so dis niks vreemd nou nie

Piet ·

Die koudste wat ek al ooit gekry het, was een aand in die winter as ryloper net buite Bethlehem. As die swart polisieman ons nie opgetel en na die N1 vir aansluiting geneem het nie sou ons dit voorwaar nie gemaak het nie.

Frank ·

Het al oor Kersfees op Tafelberg gesneeu, klomp jare gelede!!

Piet ·

Dit moes seker gebeur het toe Vader Kersfees ‘n sneeubal laat val het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.