Foto’s: Stormweer saai verwoesting in Kaap

Strate in die Kaap is oorstroom (Foto: Lurinda Fourie Photography via Reënval in SA Facebook)

Talle informele nedersettings is beskadig, paaie gesluit en selfs vragmotors omgewaai weens swaar reën en stormsterk winde wat Donderdag in die Wes-Kaap gewoed het. Weervoorspellers waarsku dat rukwinde en rowwe seetoestande boonop die naweek verdere skade kan aanrig.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het vroeër die week gewaarsku ʼn hewige kouefront, wat met swaar reën en stormsterk winde gepaard gaan, gaan die Wes-Kaap teen Donderdagmiddag tref en moontlik tot Sondag voortduur.

Chantel Alexander, ʼn woordvoerder van Stad Kaapstad se rampbestuursentrum, sê swaar reën Donderdagaand het oorstromings in informele nedersettings by Khayelitsha, Philippi, Wallacedene, Mfuleni en Delft veroorsaak.

Die departement van vervoer het hierdie nedersettings Vrydag help opruim. Sand is na die betrokke nedersettings aangery.

Die sterk winde het ‘n boom ontwortel in Uitenhage (Foto: Marcell Bellingan via ReënvalSA Twitter)

Charlotte Powell, ʼn woordvoerder van Stad Kaapstad se rampbestuursentrum, sê paaie in Kloof en Laer-Kloof asook in Kloof- en Nettletonweg in die omgewing van Kampsbaai is gesluit weens bome wat ontwortel is. ʼn Boom is ook in die Atlantis-nywerheidsgebied ontwortel. ʼn Voertuig is in die proses beskadig.

Talle paaie in Tokai, Ravensmead, Kuilsrivier en Mitchells Plain is oorstroom. Die departement van vervoer is reeds met opruimingswerk besig.

Powell en Alexander sê nedersettings soos Mitchells Plain, Claremont, Philippi, Lotus River, Retreat, Browns Farm, Nyanga, Gugulethu, Grassy Park en Parkwood gaan onder kragonderbrekings gebuk.

‘n Vragmotor wat deur die wind omgewaai is (Foto: Jacques Arendt via SA Weather Service Twitter)

Sterk noordwestelike winde van 70 tot 100 km/h het van Donderdagmiddag af in die Kaapse metropool, die Sentrale Karoo, die Weskus-distrikte en aan die kus tussen Kaap Columbine en Kaap Agulhas begin opsteek. Die weerdiens waarsku dat hierdie winde oor die naweek verdere skade kan aanrig.

Die SAWD het op hul Twitter-blad foto’s opgelaai van die stormsterk winde wat vragmotors omwaai. Een van die vragmotors was ʼn Simba-vragmotor wat op die R46 naby Villiersdorp omgewaai is.

Die weerdiens waarsku ook teen rowwe seetoestande met golwe van tot sewe meter tussen Lambertsbaai en Kaap Agulhas. Die onstuimige seetoestande gaan van Vrydagmiddag tot Saterdag na Alexanderbaai versprei.

Maroela Media het vroeër berig sneeu word ook van Vrydag af vir die hoogliggende gebiede in die Wes- en Oos-Kaap, sowel as die suidelike gebiede van die Noord-Kaap en Lesotho verwag. ʼn Koue naweek lê vir die hele land voor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wanda ·

Hoekom het die Simba chippie so af gevoel?Want hy het deur n dip gegaan

Tong in die kies ·

Nou kan die lockdown nie die mense keer om na ure en oor naweke die drankwinkels te besoek nie…
Daaris nou volop brandewyn. Gaan maak julle bottels vol ouens????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.