Frankfort-hofsaak misluk ‘oor munisipaliteit op kantlyn sit’   

Een van Rural Maintenance se sonplase in die Vrystaat. (Foto: Verskaf)

Die Mafube-munisipaliteit stel blykbaar nie genoeg belang in die welstand van sy inwoners om pogings te steun om beurtkrag te verminder nie.

Dit is die reaksie van rolspelers en opposisiepartye nadat Eskom ʼn stokkie gesteek het voor Frankfort in die Vrystaat se plan om – met die sonkrag wat hy bedags self opwek – die uitwerking van beurtkrag te verminder.

Die Johannesburgse hooggeregshof het vandeesweek teen Rural Free State, wat sonplase in die Frankfort-omgewing bedryf, beslis en hom verbied om sy eie beurtkragskedule in te stel en voort te gaan met die proses wat as “voiding” bekend staan.

Die dringende aansoek spruit uit Rural se versoek dat hy wil voortgaan om sy eie beurtkragstelsel te bestuur deur die ligte aan te hou met krag wat hy by die sonplase opwek – selfs wanneer Eskom die inwerkingstelling van beurtkrag vereis. “Voiding” is ʼn proses om alternatiewe energiebronne, wat nié van die staat afkomstig is nie, te gebruik om op te maak vir kragtekorte, soos tydens beurtkrag.

Regter Eben Molahleni het die saak in die hooggeregshof in Johannesburg van die hand gewys. Hy het egter nie die meriete van die saak oorweeg nie aangesien die Mafube- plaaslike munisipaliteit as derde applikant aangedui is, maar geen dokument gelewer is om dit te bevestig nie. Dit was glo ook omdat Mafube nie aan Rural ʼn mandaat gegee het om die regstappe teen Eskom aanhangig te maak nie.

“Ons het geen twyfel nie dat, sou die munisipaliteit die behoeftes van sy gemeenskap voorop gestel het, ʼn ander uitkoms moontlik sou wees. Ons kan net hoop dat daar geen politieke inmenging van buite Mafube was nie,” het Rural Free State ná die uitspraak in ʼn verklaring gesê.

(Foto: Rural Maintenance)

“Gemeenskappe wat projekte wil aanpak om kragvoorsiening en -verspreiding self te behartig, moet nie uit hierdie uitspraak verstaan dat dit onwettig is nie. Wat hulle wel moet begryp, is die noodsaak om aan alle regs- en tegniese vereistes te voldoen,”  het dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en woordvoerder oor minerale hulpbronne en energie, gesê.

Die DA het intussen gesê hy sal binnekort met die minister van samewerkende regering en tradisionele sake sowel as die Vrystaatse LUR in dié portefeulje in verbinding tree om hul bystand te vra om Mafube te dwing om die Nersa-bemiddelingsproses te ondersteun wat probeer om die kwessie op te los.

“Mafube is die verspreidingslisensiehouer en hul ondersteuning is belangrik as die kwessie opgelos wil word,” het die party in ʼn verklaring gesê.

“Wat in Frankfort gebeur, is bloot misbruik van Eskom se monopolie – Eskom meng in by ’n klein projek wat nie direk inmeng met die nutsmaatskappy se grootmaatkragtoevoer aan die munisipaliteit nie.

“In plaas daarvan om met Rural saam te werk om Frankfort se inwoners te beskerm teen die uitmergelende gevolge van Eskom se aftakelende beurtkrag-skedule, het Mafube verkies om op die kantlyn te sit en kyk hoe ’n groot belegging om beurtkrag tot ʼn einde bring tot niet gaan.”

Eskom het vroeër die uitspraak verwelkom en gesê daar moet voldoen word aan die vereistes van die praktykkode ten einde die nasionale elektrisiteitsnetwerk in belang van die land as geheel te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frikkels ·

Gaan net doodeenvoudig voort om krag te verskaf. Die anc besit nie die son nie. Dis ñ Godgegewe gawe aan alle lewende wesens op aarde. Wie kan dit stop as die burgery net saamstaan. Nie eers die lamsakkige weermag sal iets daaraan kan doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.