Gauteng-misdaadstatistiek: Ernstige misdaadsyfer skiet die hoogte in

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Kent Williamson)

Ernstige misdaad in Gauteng is besig om buitegewone afmetings aan te neem en indien daar nie nou drasties opgetree word nie, sal die provinsie in ʼn misdaadnes ontaard.

Só sê Kobus Hoffman, VF Plus-lid van die provinsiale wetgewer.

Die Gautengse polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, het Gauteng se misdaadsyfers vir die laaste kwartaal (April tot Junie) vandag aangekondig.

ʼn Totaal van 21 misdrywe wat as ernstige misdaad in die verslag beskryf word, het met 4,0% vanaf die ooreenstemmende tydperk verlede jaar gestyg. In dié kwartaal is 103 644 gevalle aangemeld terwyl in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar 99 622 gevalle aangemeld is. Die syfer maak 27,9% van die totale ernstige misdaadsyfer in die land uit.

Die syfers is soos volg in die verskillende streke: Ekurhuleni 24 490, Johannesburg 38 456, Sedibeng 6 068, Tshwane 27 611 en Wes-Rand 6 814.

Johannesburg-sentraal-polisiekantoor se aanmeldsyfer van ernstige misdaad het met 9,7% gestyg gevolg deur die Roodepoort-polisiekantoor met  ʼn toename van 44,7%.

Die VF Plus is ook bekommerd oor die poging tot moord-syfer wat met 7,2% gestyg het. Vanaf April tot Junie is 1537 voorvalle aangemeld en verlede jaar in die ooreenstemmende tydperk 1434.

Huisbraak het ook die hoogte ingeskiet met ʼn styging van 13,7%. ʼn Totaal van 2 058 voorvalle is gedurende die kwartaal by polisiekantore in Gauteng aangemeld.

Die meeste sake word deur die Tembisa-polisiekantoor ondersoek. Dit is op twee na die hoogste in die land.

Ontvoering in Gauteng het met 8,3% gestyg (2 068). In 90% van die gevalle was ʼn losprys betrokke en die res was afpersing en mensehandel.

“Die VF Plus het reeds verskeie kere die Gautengse polisiekommissaris gewaarsku dat die misdaadsyfer alleenlik sal daal wanneer polisiekantore van genoeg hulpbronne voorsien word om polisielede in staat te stel om hul werk suksesvol af te handel,” sê Hoffman. “By baie polisiekantore is daar nie genoeg voertuie, wapens en selfs skryfbehoeftes nie. Polisiebeamptes moet in baie gevalle hul eie skryfbehoeftes koop en ure wag tot ʼn motor beskikbaar is om sake te ondersoek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

kragaap ·

Ek was paar jaar terug opgehou met ‘n vuurwapen in ‘n motorkaping. Toe die polisie ‘n uur later opdaag met honde, automatiese wapens en koeëlvaste baadjies was die diewe lankal weg. Na 45 min wat die polisieman gesukkel het om my verklaring se eerste 5 sinne skryf het ek in 15 min die hele verklaring geskryf en huistoe gegaan. SAP is totaal in chaos, met ongeletterde, sommige gevalle mense met kriminele rekords as lede. Geen hoop vir die gefaalde organisasie nie.

Sanet ·

Die hele regering is net pateties!!!!! Dankie vir die ANC en EFF wat die land in sy ….. in bestuur het!!!! Julle is seker trots op al die geweld, diefstal ens.

Karoo ·

Stadig vir seeker vat hulle hom terug. Dis net vir ons agteruitgang, nie vir hulle, want daar was niks aan die begin tot ons voorsate kom “inmeng” het. Ek weet nie wat daar vir ons kinders gaan oorbly nie.

Riana ·

Ons hele land is in sy ma se arms in. Die regering het nie die vaagste benul hoe om met geld te werk nie.Hulle is nog steeds onder die indruk alle geld wat inkom, is vir eie gebruik, nie vir die land se burgers se veiligheid en instandhouding nie , die dat almal maak en breek soos hulle wil.

J. J. ·

Minister van polisie moet baie besig wees om by al die misdaad tonele uit te kom…….

Di ·

Al stel hulle 5000 polisielede aan gaan dit NIKS verander nie. Meeste van hulle is te sleg is om te werk en die res is self korrupte amptenare. Hoeveel lede in aangstel wat KRIMINELE rekords het???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.