Gebrekkige beplanning oorsaak van oorvol skole

(Argieffoto: Unsplash)

Die VF Plus sê die jongste onthullings dat gr. 8-leerders van ʼn oorvol hoërskool in Kempton Park na laerskole in die omgewing oorgeplaas word, is nog ʼn voorbeeld van hoe die Gautengse onderwysdepartement se “gebrekkige beplanning om genoeg skole in die provinsie te bou, ʼn boemerangeffek het”.

“Die VF Plus kan hierdie ondeurdagte besluit nie goedkeur nie,” sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus in Gauteng.

Dit het vroeër vandeesweek aan die lig gekom dat sommige Engelssprekende leerders van Hoërskool Birchleigh nou by Afrikaanse parallelmediumlaerskole ingeneem word. Laerskole is laat Dinsdagaand in kennis gestel dat mobiele klaskamers by die skole afgelaai gaan word vir hierdie hoërskoolleerders.

Volgens Alberts is die gebrek aan voldoende skole vir die groeiende bevolking in Gauteng ʼn jaarlikse tendens.

“Die VF Plus het verskeie kere tydens die departement se jaarlikse beplanningsvoorleggings aan die Gautengse wetgewer se onderwyskomitee gevra waarom daar nie genoeg skole gebou word nie. Veral omdat die departement blykbaar oor genoeg geld beskik vir die bou van skole,” sê hy.

“Die kern van die probleem is eenvoudig: Die onderwysdepartement pak bloot die skuld op die departement van infrastruktuur.”

Alberts voer aan dat dit alombekend is dat die departement van infrastruktuur nie sy projekte van die grond af kry of afhandel nie onder meer weens die aanstelling van kontrakteurs wat nie hul kontraktuele verpligtinge kan nakom nie.

“Die Gautengse onderwysdepartement is egter self nie onskuldig as dit by wanbestuur kom nie, soos blyk uit verskeie skandale, soos die onnodige skoonmaak van skole tydens die Covid-19-pandemie in 2020 waartydens R430 miljoen vermors en uitbetaal is aan talle onbevoegde diensverskaffers,” sê hy.

“Die departement van onderwys het reeds aangedui dat hyself verantwoordelik wil wees vir die bou van skole. Die VF Plus steun die gedagte in beginsel, maar is nie oortuig dat dit die probleme gaan uitskakel sodat skole vinniger gebou word nie.”

Die VF Plus sê die enigste oplossing vir hierdie probleem is om die “onbeholpe ANC-regering” uit Gauteng te kry.

“Die enigste volhoubare oplossing sal kom wanneer die VF Plus as deel van ʼn koalisieregering in 2024 die departement van onderwys se bestuur oorneem,” sê Alberts.

“Daar sal gesorg word dat alle leerlinge toegang tot ordentlike skole kry in die taal van hul keuse.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Rooikopheks ·

Hoekom kan die mobiele klaskamers nie by Hoërskool Birchleigh afgelaai word nie. Hulle behoort genoeg plek op hul rugbyveld te hê, en onderwysers is dan mos klaar daar. Hoekom ander skole by die probleem betrek?

koos10 ·

Dit gaan seker nog 100de jare duur voordat die ANC verstaan dat in beheer wees en beheer neem, heeltemal verskil van mekaar!

Jaco ·

Dit is nie net Gauteng nie, dit is in die Wes Kaap ook, die onderwys onder die DA regering is in net so ‘n krises en hulle doen niks om dit te probeer reg stel nie.

Andre ·

…hulle probeer nog, al is dit hopeloos.
Wag tot ná die verkiesing as jy chaos wil sien!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.