‘Geen vordering’ in sake van dierewreedheid teen weermag

Argieffoto. (Foto: NDBV)

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) sê hy is gefrustreer deur die gebrek aan vordering, en die duidelike gebrek aan belangstelling, in die twee sake teen die weermag na aanleiding van die weermag se beweerde growwe nalatigheid en doelbewuste wreedheid teenoor talle perde in sy sorg.

Die NDBV het ʼn strafregtelike klagte aanhangig gemaak teen lede van die weermag se spesialis-infanterie-eenheid (SAASIC) buite Potchefstroom in Noordwes, nadat die NDBV in Mei verlede jaar op die uitgehongerde en verwaarloosde perde afgekom het.

Maroela Media het toe berig die perde is aangetref op ʼn perseel van die weermag se eenheid wat die land se grense patrolleer. Volgens die NDBV was die perde só uitgehonger dat hulle grond en hul eie ontlasting begin vreet het. Die diere is destyds glo aangewend om met grenspatrollies te help.

Die NDBV het in Januarie vanjaar nóg ʼn klagte teen die weermag ingedien vir wreedheid teenoor diere.

“Geen vordering is nog in enige van die sake gemaak nie, ten spyte van heelwat opvolgwerk deur die NDBV,” het die dierewelsynsgroep gesê.

ʼn Senior inspekteur van die NDBV het selfs na Potchefstroom gereis om die kwessie persoonlik met die polisie daar te probeer opvolg. Dít nadat hy ná talle probeerslae nie die ondersoekbeamptes in die saak in die hande kon kry nie.

“Die polisie het waninligting oor die dossiere verskaf deur te sê dit is al twee by die hof ingedien, terwyl daar later vasgestel is dat dit nié die geval is nie,” het die NDBV gesê.

“Die speurders het bevestig dat hulle verskeie kere probeer het om verklarings by die beskuldigdes af te neem, maar dat hulle begroet is met minagtende weiering en ʼn belemmering van die ondersoek. Die bevelvoerder van SAASIC het glo aan die polisie gesê dat nie hy of enige SAASIC-lede verklarings gaan aflê nie.”

Die NDBV sê SAASIC verontagsaam die land se regstelsel en het geen berou oor die wreedheid wat by sy Potchefstroom-basis plaasgevind het nie. “Die speurders betrokke kan ook nie minder belangstel nie.”

Die NDBV sê een van sy beamptes het ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) aansoek gedoen vir die rekord en uitslag van die ondersoeke wat na die betrokke SAASIC-lede gedoen is. Drie maande later wag hy steeds daarop.

Die welsynsorganisasie sê dit laat ʼn mens jou eie gevolgtrekking maak oor die uitslag van die ondersoeke, veral gesien in die lig van die SAASIC-bevelvoerder se weiering om met die polisie saam te werk, asook die algemene gebrek aan verantwoordbaarheid.

Maroela Media het ʼn navraag oor die kwessie aan die weermag gestuur. Kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Jimmy ·

Doen aansoek vir ‘n hofbevel wat die SANDF verbied om perde aan te hou.

Vania ·

Weet jy … dis hartsverskeurend die. Die wreedste spesie is nie die mense spesie… dis siek die, nog sieker dat polisie se ondersoek so pateties is

Oujongvrou ·

Maak skande vir die weermag so ver julle kan. Hierdie regering kom weg met growwe nalatigheid by hospitale en die algemene publiek. Wat sal hulle omgee vir diere wat nie eers kan kla nie. Dis die grootste skande om diere te verwaarloos. God slaap nie, daar sal vergelding wees vir sy skepsels.

Onbevoeg & Ongevoelig ·

Dit verbaas nie, want die wat weier om op te tree en die wat skuldig is, is vinkel en koljander. Hulle voel vere vir diere want dit is hoe hulle opgevoed is.

Stelling ·

Ja jong, ook geen trots meer in Suid Afrika nie. Alles is verpletter! @DBV stel n forensiese ondersoeker aan om die weermag hof toe te sleep. Staats instansies gaan nie teen hulle eie ondersoek nie.

Bietjie baie ·

Vra Solidariteit se Gerrie Nel om hulle te roer. Hy sal dit dalk nog ver iets doen.
Perde is wonderlike Terapeutiese diere.
Suid Afrika sal nooit n oorlog kan veg met sulke ongedissiplineerde soldate nie.
Iemand los natuurlik die boer van die perde vir iemand anders. n Kringloop tot n disaster.

Willie ·

Ek was as dienspligte in 1985/86 by Berede in Porchegstroom. In ons tyd het die perde eerste kos en versorging gekry voor daar deur die manskappe geeet is. Dit is ń absolute skande. Ons wat in daardie trotse eenheid was, was spesiaal gekeur. Nie enige Jan, raap en sy maat was daar toegelaat nie. Die perde was ons trots. Almal goed versorg en blink geroskam en geborsel.

Willie ·

Ek was as dienspligte in 1985/86 by Berede in Potchefstroom. In ons tyd was die perde eerste versorg. Daarna het die manskappe geeet. Hierdie is n absolute skande dat weerlose diere so behandel kan word. Ons almal wat in daardie trotse eenheid was is deur spesiale keuring. Nie enige Jan, raap en sy maat was daar toegelaat nie. Die perde was ons almal se trots. Hulle was goed versorg en blink geroskam en geborsel. My perd se naam in my tweede jaar toe ek as rykunsinstrukteur diens gedoen het was Ouboet. Hierdie situasie is tragies. Hierdie mense het geen liefde vir die diere nie

Sam ·

Mense?! Dis nie ‘n mens wat so afbreek en verniel, laat ly nie … Die MENS is geskape om oor die skepping te heers, dit te bewaar. Tyd dat ons mense begin dink!

Grompie ·

Wat verwag julle.Die landswette geld mos nie staats instellings nie.Nooit hulle is lelie wit onskuldig.Jammer daar is ongelukkig nie iemaand aangestel wat in beheer van daardie afdeling en verantwoording kan aanvaar nie daai ou het bedank en ons soek nou al 4 jaar na n geskikte persoon, ons as die weermsg kan dus nie verantwoordelikheid aanvaar nie omdat daai perdoon bedank het want hy het gese hy kannie sy werk doen sonder meer hulpbronne nie.Ons het hom geskors na verskeie waarskuwings, ongelukkig kan ons nie klagte bekend maak nie saak sub judice.Nee ons is nog nie by die amptelike saak nie daar is n kommissie van ondersoek aangestel.Verseker gaan die skuldiges aan die pen ry.Ons soek nog die pen want hy is iewers , ons verseker u as publiek sodra ons die pen kry sal daar opgetree word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.