‘Geen waarskuwing’ voor jong atleet eie lewe neem

Hendrik Maartens (22) was ’n belowende naelloper wat gedroom het van deelname aan die Olimpiese Spele. Foto: Verskaf

Die boesemvriend van ʼn belowende jong Vrystaatse atleet het vir geen oomblik vermoed hy sou sy eie lewe neem nie.

Die naelloper Hendrik Maartens (22), wat verlede jaar in die 100 m en 200 m op die Wêreldstudentespele in Taiwan deelgeneem het en gedroom het van deelname aan die Olimpiese Spele 2020, het homself vermoedelik Donderdagoggend op sy ouers se plaas buite Bloemfontein geskiet.

Sy beste vriend sedert kleuterskool, Jovan van Vuuren (22), wat aan Tukkies gaan studeer het om afrigting in Pretoria in verspring te ontvang, het Vrydagmiddag vertel hy het Woensdagoggend vir oulaas sowat ʼn driekwartier lank met Maartens oor die foon gesels.

“Hy was soos altyd vol grappe en ons het baie gelag,” sê Van Vuuren. “Hy het gevra wanneer ek weer Bloemfontein toe kom, want hy is alleen en mis my. Ek het gesê ek sal volgende naweek huis toe kom, dan kan ons vier dae lank saam deurbring.

“Ek het gesê hy moenie worry nie. Ek is op pad. Ek het hom gevra hoe gaan dit met dinge daai kant. Hoe gaan dit met sy ma-hulle? En met sy meisie? Sy laaste woorde aan my was: ‘Alles is oukei. Moenie worry nie.’”

Van Vuuren vertel Maartens het “100% oukei” geklink. “Ek sou nooit gesê het daar was iets fout nie. Maar jy het te veel trots om vir die ou te sê iets skort. Ek het glad nie enigiets agtergekom nie. Ek het die mindset gehad van ek gaan hom sien.”

Maartens het verlede jaar aan die Wêreldstudentespele in Taiwan deelgeneem. Foto: Verskaf

Donderdagoggend het ʼn gemeenskaplike vriend Van Vuuren gebel om te vra wanneer laas hy met Maartens gepraat het, “want niemand kry hom in die hande nie”.

Nadat Van Vuuren sy boesemvriend probeer bel het, het hy hom ʼn WhatsApp-boodskap gestuur om te sê: “Ek het goeie nuus. Ek hoop jy is gereed: Ek kom al hierdie naweek huis toe. Ek is lief vir jou, my yster.”

Skaars ʼn halfuur later het Maartens se jongste suster, Hesmari (19), met die tyding gebel.

Van Vuuren en Maartens het saam menslike bewegingswetenskap aan Kovsies studeer. Van Vuuren is toe Pretoria toe om aan Tukkies te studeer ter wille van die afrigting in verspring, terwyl Maartens volgende jaar bourekeningkunde aan Kovsies sou studeer het.

“[Die skeiding] was nie iets wat ons kon vermy nie,” sê Van Vuuren, “maar ons het kontak behou, hoewel ons mekaar minder gesien het.”

Hulle het saam besluit om hard te oefen om vir die volgende Olimpiese Spele te kwalifiseer en, “as ons iets verower, dadelik op te hou en die lewe verder te geniet en eendag wanneer ons oud is, by mekaar te kuier”, het ʼn emosionele Van Vuuren vertel. “Ons het mekaar geïnspireer en gedruk om harder te oefen.”

Gevra hoe hy sy beste vriend van die afgelope amper 20 jaar sal onthou, het Van Vuuren gesê: “Hy was passievol. ʼn Rolmodel en ʼn broer. Hy was iemand wat jy nooit wou teleurstel nie.

“Hendrik was iemand na wie jy kon gaan en hy sou seker maak jy lag as jy klaar met hom gepraat het. Altyd vol grappe. Hy het altyd ʼn glimlag gehad. Hy was baie nederig. Hy was sterk in sy geloof. ”

Van Vuuren vertel die tyding van Maartens se dood was ʼn reuseskok. “Dis basies jou broer wat jy verloor. Ons het omtrent dieselfde ambisies en doelwitte gehad; dieselfde geswot. Jy kon ons nie skei nie.”

Hesmari vertel ook die gesin het geen idee waarom haar broer, ʼn oudleerder van Grey Kollege, sy lewe geneem het nie.

Sy onthou hom as nederig en as iemand wat altyd sy medemens probeer help het. “Hy het gegee wat hy kon, maak nie saak hoe baie keer die wêreld hom platgeslaan het nie.”

Dit was die voorman van die bouers wat besig is met veranderings aan die huis op hul plaas, wat op Maartens afgekom het, vertel sy.

Die jong atleet het amper elke dag in Bloemfontein atletiek geoefen en dan smiddae by sy kleinsus gewag om saam met sy ouers, Willie en Ilse, terug plaas toe te ry. Hul oudste suster, I-Rene Beukes, is 24.

ʼn Gedenkdiens word Maandag om 11:00 in die NG kerk Pellissier in Bloemfontein gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Lee ·

Ai dis so hartseer. Innige Simpatie en baie sterkte aan sy ouers en familie en vriende. Rus Sag Seun!

Johann cb ·

Daar is hartseer op sy gesiggie, in sy oë sigbaar! Dit is só jammer om ons jeug te verloor! Innige simpatie aan sy ouers, sussies en lewenslange vriend. Sterkte!

E.K. die eerste ·

Bitter, bitter jammer vir al die familie en vriende wat agterbly. Klink of hy dalk bipolêr depressief kon wees. Die een dag heeltemal vrolik en vol planne en dag of twee later is alles te veel. Ai ek weet mens sit met duisende vrae maar niemand kan antwoorde gee nie. Ek bid almal betrokke vrede en aanvaarding toe. Dis ‘n lang en moeilike pad – ondersteun mekaar.

BLOM ·

Ai tog…..so bitter hartseer en onnodig.
Sterkte aan sy familie en vriende.

Andrea ·

Bitter jammer vir almal betrokke. Dis n verskriklike tragedie.

Beulah ·

Mag God sy Engele opdrag gee om daardie gesin te dra. Hulle gaan baie swaar kry. Vader ek vra in die naam van U seun, Jesus, om daardie ouers en sussies te beraad Here. Dit is so hartseer. So eina.

Helena ·

Baie tragies..my innige meegevoel aan sy naas bestaandes..God gee krag na kruis.

Rika ·

So jammer sterte vir sy familie die liewe Vader sal saam julle stap.

Marlene Bothma ·

Ons innige simpatie aan ieder en elk wat sy pad gekruis het. Saggies rus seun

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.