Geliefde fisio tydens inbraak doodgesteek

Marolien Schmidt is Woensdag in haar huis doodgesteek. (Foto: Facebook)

Huidige en gewese inwoners van Gqeberha het Woensdag hul Vrouedag op ʼn hartseer noot begin toe die nuus hulle bereik het dat ʼn geliefde fisioterapeut van die gebied in haar huis doodgesteek is.

Hoewel die polisie nog nie die oorledene se identiteit amptelik bevestig het nie, het medelye op sosiale media vir die oorledene, Marolien Schmidt, ingestroom.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, sê die 40-jarige vrou se bure in Sherlockstraat, Richmond Hill, het in die vroeë oggendure van Vrouedag gehoor hoe sy skree nadat glas gebreek het.

“Hulle het onmiddellik gereageer, maar haar op die vloer [van haar huis] met verskeie steekwonde aangetref,” sê Janse van Rensburg.

“Sy is na ʼn hospitaal geneem, maar het by die hospitaal aan haar beserings beswyk.”

Voorlopige ondersoeke dui daarop dat ʼn verdagte by die slagoffer se huis ingebreek het deur ʼn kantvenster te breek.

Dit is nog in hierdie stadium onbekend of enigiets in die aanval gebuit is.

Die polisie ondersoek intussen ʼn saak van moord.

Blomme is by Marolien Schmidt se deur gelos. (Foto: Mariska Spoormaker/Facebook)

Janse van Rensburg sê die slagoffer se identiteit is nog nie bevestig nie, aangesien sy eers formeel deur familie geïdentifiseer moet word.

Die nuus van haar dood het egter skokgolwe deur die gemeenskap gestuur, en sosialemediagebruikers was vinnig om Schmidt as die slagoffer te identifiseer.

Verskeie sosialemediagebruikers het in hul huldeblyk aan die “ystervrou” gesê dat sy alombekend was as die “pienk fisio”.

ʼn Facebookgroep vir inwoners van Richmond Hill het Schmidt as ʼn uitstekende fisioterapeut beskryf, ʼn diereliefhebber en ondersteuner van siekes.

“Haar skerp sin vir humor, haar sterk vriende- en familiebande en haar vasberadenheid om Covid te oorkom (en weer aan die Iron Man-kompetisie deel te neem) asook haar toewyding tot al die sportdissiplines waaraan sy deelgeneem het, sal altyd onthou word.”

Die gemeenskap beplan om vanaand om 19:00 ʼn oomblik van stilte voor Schmidt se huis te hou om haar lewe te vier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Vinny ·

Nee dit gaan nooit ophou nie, dit word dan aangehits…. maar dis mos nie haatspraak nie.

TheSnake ·

Daar was seker nie ‘n interdik teen die aanvaller nie want sonder dit mag almal doen wat hulle wil.

ES ·

Dis skokkend. PE is deesdae meer in die nuus vir misdaad as amper enige ander stad in SA.

Yvonne ·

Tragies RIV…….die boosheid van die mens….mag dit nie ongestraf bly nie

Loretta ·

Alhoewel dit onaanvaardbaar is, moet almal die strengste veiligheidsmaatreëls toepas. Daar is nie ‘n keuse nie as jy jouself wil beveilig!!!!. Asb liewe SuidAfrikaners, moenie dat die gewelddadigers julle onskuldige lewens neem nie!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.