Gemeenskap geruk ná wrede moord op tiener

Jordan Moore (Foto: ANA)

Die gemeenskap van Atlantis in die Wes-Kaap is die afgelope naweek geruk deur die afgryslike moord op die 16-jarige Jordan Moore.

Jordan en twee van sy vriende is Vrydag deur twee mans genader wat hulle glo wou dwing om drank by ʼn plaaslike sjebien vir hulle te gaan koop. Twee van die tieners kon daarin slaag om te vlug en hulp te gaan soek, maar Jordan was egter nie so gelukkig nie.

Daar word beweer dat die mans Jordan ontvoer het. Hy is verskeie kere met ’n mes gesteek en is toe glo deur die mans se honde verskeur.

Sy liggaam is Vrydag omstreeks 22:30 in Rietsangerlaan in Robinvale gevind.

Kol. Andrè Traut, woordvoerder van die polisie, sê nog niemand is in verband met Jordan se moord in hegtenis geneem nie.

“Die omstandighede rondom Jordan se dood word ondersoek. Hy het onder meer bytmerke aan sy liggaam gehad,” sê Traut.

Mense het hul woede op sosiale media oor die wrede moord uitgespreek.

Allister Lightburn, plaaslike proporsionele raadslid, sê verskeie Facebook- en WhatsApp-groepe is ná Jordan se dood gestig.

ʼn Groep van byna 300 inwoners het Sondag byeengekom om ʼn werkgroep te stig om gebiedskomitees te begin. “Hierdie groep sal saam met die polisie werk om aandag te gee aan misdaadkwessies in die omgewing,” het Lightburn gesê.

Lede van die gemeenskap het ook verskeie petisies opgestel waarin geregtigheid vir Jordan se dood geëis word. “Jordan se dood het ons gemeenskap geruk,” het Lightburn gesê.

Jordan se ma, Letitia (35), sê hy sou die aand van sy dood by sy neef oorgeslaap het.

Jordan was ʼn gr. 10-leerder aan Robinvale High School.

“Hy was ʼn gerespekteerde seun, vol humor. Hy het altyd ʼn glimlag op sy gesig gehad,” sê Letitia.

Dié ma van twee sê sy is oorweldig deur die liefde en ondersteuning van die gemeenskap.

Daar is die afgelope naweek verskeie moorde in onder meer die Manenberg-, Kraaifontein-, Atlantis- en Kalkfontein-omgewing aangemeld. Vier hiervan was dié van tieners.

“Te midde van die geweld en kriminele aktiwiteite wat ons die afgelope naweek gesien het, verwelkom ek die verhoogde vlakke van koördinasie en samewerking tussen die polisie, metropolisie, die Stad Kaapstad en wetstoepassers,” het Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, gesê.

“Die ongebreidelde misdadigheid en die vlaag moorde wat ons in die provinsie sien, is heeltemal onverskoonbaar.”

Enigiemand met meer inligting oor die saak kan Stop Misdaad by 08600 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Pierre ·

Tragies, medelye aan die familie en ek hoop van harte dat die mense spoedig opgespoor sal word.

Dries ·

O nee my liewe hemel, wat gaan aan met die mensdom?? Bitter tragies, jammer vir die verlies.

Casper ·

My hart gaan uit na Jordan se familie toe.Sterkte en mag God julle troos in hierdie hartseer tyd.

Persheks Adri ·

Wie doen sulke goed? Genade mense wat ‘n siek wêreld is dit nie! Ons is nêrens veilig nie!

Sterkte aan die familie en vriende in die moeilike tyd mag God julle dra!

My woorde raak klaar met al die moorde regtig

Swerkater ·

Geen “mens” is tot sulke wreedheid in staat nie. Geen maar geen respek vir menselewens nie. Mag hierdie kind se geliefdes vertroos en versterk word in hierdie moeilike tyd.

Riaana ·

Baie sterkte aan die familie, dis regtig ongevraagd dat enige n ouer op so wrede wyse n kind moet verloor, mag God julle dra deur hierdietyd, julle land bid vir julle en ons dink aan julle, baie sterkte!!!! ????

Patch ·

Hartseer verby!!! Hoe kan mense so siek wees! Net 16…. Mag hulle kry wat hulle toekom sodra hul opgespoor word.

Inkpot ·

Daar word net te maklik moord gepleeg in
Suid-Afrika!
So jammer vir die tiener wat sy lewe verloor het en vir sy ouers en geliefdes wat in hartseer gedompel is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.