Gemeenskap herdenk vermoorde kind se verjaardag

Klein Bokgabo Poo. (Foto: Twitter)

Die vermoorde Bokgabo Poo se geliefdes het laerskole en dagsorgsentrums versoek om ’n ballon aan die hek by haar huis vas te bind om haar nalatenskap te laat voortleef. Sy sou Donderdag vyf jaar oud gewees het.

Volgens Action Society het die gesin ook besluit om Bokgabo se klere op haar verjaardag aan behoeftige kinders te skenk.

Die dogtertjie is in Oktober verlede jaar vermoor en haar vermeende moordenaar het sy borgtogaansoek in November in die Benoni-landdroshof laat vaar.

Ntokozo Khulekani Zikhali (28) van Brakpan staan tereg op aanklag van ontvoering, verkragting, moord en die skending van die vierjarige Bokgabo se lyk.

“Tot vandag toe het die familie nog geen terugvoer van die polisie oor die vordering van die ondersoek ontvang nie – ondanks verskeie versoeke,” het Tshepi Mmekwa, koördineerder by Action Society, Donderdag gesê.

Mmekwa sê dit is immers die polisie se mandaat om terugvoer op ʼn ondersoek te gee en dat dit verregaande is dat familielede in die duister gelaat word, sonder om te weet of hulle ooit afsluiting sal kry.

“Dit lyk of die familie nooit antwoorde en vrede sal kry as die polisie aanhou voete sleep en hul pleidooie vir optrede ignoreer nie.”

Die verdagte sal na verwagting op 14 Februarie weer in die hof verskyn.

Maroela Media het vroeër berig dat Bokgabo op 10 Oktober as vermis aangemeld is nadat sy nooit van ʼn park in Wattville, Benoni, teruggekeer het nie. Daar is egter later op twee afsonderlike plekke op van haar liggaamsdele afgekom.

Zikhali is op 14 Oktober by ʼn vulstasie in Boksburg aangekeer, waarna dit aan die lig gekom het dat hy op borgtog uit was vir ʼn ander verkragtingsaak toe hy Bokgabo na bewering vermoor het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nico ·

Dit is absolute lamsakkigheid van die owerhede se kant dat die moordsaak nog nie opgelos is en dat die moordenaar nog nie behoorlik gevonnis is nie. Sterkte aan die familie en die gesin.

Yvonne ·

Die setel van geregtigheid le by die regering/kabinet…..verder se ek liewer niks

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.