Gemeenskap spook verbete om wegholbrand te blus

Die brand het Sondag in Deben uitgebreek. (Foto: Petrus Phakamile Sitho/Facebook)

Gemeenskapslede, vrywillige brandbestryders en boere in die Noord-Kaap het dae lank gespook om ʼn reusewegholbrand in bedwang te bring. Nietemin is groot skade aan plase en weidingsgebiede in die omgewing aangerig.

Die plaaslike owerhede het ook intussen ingetree ná ʼn vermoede dat die verwoestende brand met opset gestig is.

Adam Myburg, brandweerhoof in Kathu en die omliggende gebiede, sê sy span is Sondag kort voor 12:00 na Deben ontbied nadat ʼn brand op ʼn plaas uitgebreek het.

“Met ʼn brandindeks van byna 90 en winde wat die vuur aangejaag het, het dit binne minute versprei,” sê hy.

“Die brandweer het spoedig gereageer en vrywillige brandbestryders en boere het ook later ingespring en gehelp om die brand te blus. Myne in die gebied het selfs hand kom bysit, maar ongeag al die hulp het die vlamme hoë hoogtes bereik en verder versprei.”

Die brand het etlike kilometers ver in die rigting van Olifantshoek versprei en in die proses onmeetbare skade aangerig. Na raming het duisende hektare grond, plase en weidingsgebiede in die slag gebly.

Die brandbestryders kon Dinsdag daarin slaag om die brand te blus, maar dit het later dieselfde dag weer opgevlam voordat dit finaal geblus is.

“Boere het vandag eers die geleentheid om die omvang van die skade te bepaal. Dit lyk asof daar skade aan infrastruktuur en verlies aan diere is. Sonpanele, pompe en heinings is beskadig en baie boere se vee en wild word vermis,” sê Myburg.

“Ek is wel verheug om te kan sê dat niemand in die brand beseer of dood is nie en dat niemand se voertuie of huise in die slag gebly het nie.”

Grootskaalse verwoesting is gesaai. (Foto: Petrus Phakamile Sitho/Facebook)

Hoewel die gemeenskap van Deben dankbaar is dat die verliese nie veel groter is nie, doen bewerings die ronde dat die oorsprong van die brand inderdaad brandstigting is.

Myburg het egter nie verder hieroor uitgebrei nie en meen dit is onderhewig aan die polisie se ondersoek.

Lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig dat die plaaslike polisiestasie op Deben ʼn ondersoek na die wegholbrand van stapel gestuur het.

“Nog niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie, maar die polisie doen ʼn beroep op enigiemand wat inligting het om kapt. Letsapa by 060 703 2714 te bel,” sê hy.

“Die ondersoek duur intussen voort.”

Die Noord-Kaap is berug vir sy menigte wegholbrande wat veral oor die somermaande, wanneer daar minder reënval in die streek is, uitbreek.

Myburg waarsku dat Kathu, Deben, Olifantshoek en al die omliggende dorpe veral vatbaar vir veldbrande is.

“Ons het verlede jaar op sowat 600 brandvoorvalle gereageer – en dit is net gevalle waar ons kon uitkom. Daar was baie ander veldbrande wat bloot te moeilik was om te bereik en dus kon ons nie hulp verleen nie.”

Die meeste van die gebied se brande word toegeskryf aan weerlig wat droë bome en graslande tref, mense wat om droë gras met masjinerie werk en asgate wat aan die brand gesteek en nie behoorlik geblus word nie.

“Die brande ontstaan gewoonlik weens die een of ander menslike fout.”

Brandbestryders monitor steeds dele van die veld wat in Deben en Olifantshoek gebrand het vir moontlike verdere opvlammings.

Posted by Dup Kalahari on Sunday, January 15, 2023

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Plaaskind ·

Deesdae is 99% van alle rampe met opset veroorsaak deur haat en onkunde. Baie hartseer, soveel natuurlewe in die proses verwoes, diere en insekte wat so belangrik is vir ons oorlewing ook.

Di ·

Dringende ondersoek moet gedoen word om die brein agter hierdie brandstigtings vas te trek! Begin by die Rooi brigade wat dit wyd en syd verkondig het dat hulle boere van die plase af wil dwing en grond wil beset

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.