‘Genadedruppels’ bring einde aan Kalahari-brand

(Foto: Verskaf)

Na raming het 146 000 ha se weiding gebrand toe ʼn brand sowat twee weke gelede in die omgewing van Mier in die Noord-Kaap ontstaan het.

Altesaam 60 plase het gebrand en die veeverliese in die gebied staan tot op hede op 1 412 stuks vee, met getalle wat steeds styg.

Die brand het op 10 Oktober in die gebied uitgebreek en is vyf dae later (Saterdagaand 15 Oktober) ná bloedsweet geblus. Die brand het vinnig versprei en in ʼn stadium die Namibiese grens oorgesteek.

“Die Here het die Saterdagaand genadedruppels gestuur wat toe die einde van die brand beteken het. Die brand het net die paar druppels reën nodig gehad, waarmee die Here ons toe geseën het,” vertel Gert Fourie, hoof van die landbou-brandvereniging in Askham.

Volgens Fourie het die brand weens weerlig ontstaan, soos die meeste brande in die Noord-Kaap die afgelope lenteseisoen.

(Foto: Verskaf)

Brande in die Askham-gebied die afgelope seisoen het al sowat 9 000 ha se weiding vernietig. Altesaam 40 skape en 50 lammers het in die brande omgekom.

In ʼn gebied in Upington se omgewing, het nog 8 000 ha se weiding afgebrand.

Maroela Media het vroeër berig die gebied wat by Mier gebrand het, is groot en die duine is hoog. Die boere het groot finansiële skade gely om hierdie brand te bestry.

“Ek het in twee dae se tyd 500 km afgelê, waarvan die brandstof uit my eie sak kom. Die boere gebruik ook hul eie brandpompe, ook op hul eie koste,” sê Fourie.

Talle boere se bakkies het ook onklaar geraak omdat die hoë duine moeilik begaanbaar is.

“Ondanks die finansiële implikasies, was dit ʼn riem onder die hart om steeds te sien hoe die boere mekaar wil help en saamstaan om die ramp te beveg.”

Volgens Fourie het die boere ook ander uitdagings in die gesig gestaar deurdat daar op plekke nie water was om die brand te bestry nie.

Die wind het ook nie altyd in die windrigting wat gunstig vir brandbestryding is, gewaai nie.

Na raming is 300 000 ha se weiding sedert einde Augustus in die Noord-Kaap deur brande verswelg.

In totaal het 500 000 ha se weiding tydens die vorige lenteseisoen, wat as die Noord-Kaap se brandseisoen beskou word, afgebrand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Byekonfyt ·

Ek hoop die velde herstel vinnig. Die Here is almagtig. Mag julle goeie reën kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.