Gerda verbeter Comrades-rekord!

Gerda Steyn (Foto: Comrades-marathon/Twitter)

Gerda Steyn verdien tekkies van goud!

Dié 29-jarige drawwer het die eerste vroue-atleet in die geskiedenis van die Comrades-marathon geword om uitmergelende op-wedloop, van Durban na Pietermaritzburg, in minder as ses ure kaf te draf. Sy was Sondag die eerste vrou oor die wenstreep in ’n rekordtyd van 05:58:53.

Dit is meer as 10 minute vinniger as die vorige rekord van Elena Nurgalieva wat in 2004 in ‘n tyd van 6:09:23 oor die eindstreep gejaag het. Nurgalieva en haar identiesetweelingsussie Olesya het by die Comrades-marathon en Twee Oseane-marathon gedomineer tussen 2003 en 2014.

Steyn het vroeër vanjaar die rekordtyd van die Twee Oseane-marathon net-net misgeloop. Maar nadat sy verlede jaar tweede by die Comrades geëindig het, wou sy waarskynlik daardie ekstra petrol in haar tenk vir dié ultramarathon spaar. En goeiste, haar spaarwerk het vir hoë-oktaanaksie gesorg!

Sy het vooraf aan Maroela Media gesê dat sy nie omgee of sy op of af moet hardloop nie – die afstand bly immers dieselfde. “My voorbereiding vir die op-wedloop verskil net effens omdat dit meer krag vereis. Die feit bly egter staan dat al twee weergawes van die Comrades bulterig is en die stryd is tussen my en die afstand, ongeag die rigting waarin ek moet hardloop. Jy kan egter vooraf oefen en beplan soos wat jy wil, maar 70% van die Comrades hardloop jy in jou kop,” het sy gesê.

Edward Mothibi was die eerste man oor die eindstreep en het die 94ste weergawe van die gewilde (en moordende) Comrades-marathon gewen. Dit was boonop net sy tweede Comrades-probeerslag. Hy het die afstand in ʼn tyd van 5:31:33 afgelê, nie eens ’n minuut vinniger as Bongmusa Mthembu in die tweede plek nie. Klik hier om meer te lees.

Hier is die top-10 vroue:

  1. Gerda Steyn (Suid-Afrika) (5:58:53)
  2. Alexandra Morozova (Rusland) (6:17:40)
  3. Caitriona Jennings (Ierland) (6:24:12)
  4. Ann Ashworth (Suid-Afrika) (6:27:15)
  5. Dominika Stelmach (Pole) (6:34:58)
  6. Jenna Challenor (Suid-Afrika) (6:35:18)
  7. Aigul Mingazova (Oekraïne) (6:43:56)
  8. Charne Bosman (Suid-Afrika) (6:49:39)
  9. Catrin Jones (Kanada) (6:52:44)
  10. Mary Khourie (Suid-Afrika) (6:55:27)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Andreas ·

Jip … op of af … die afstand bly dieselfde??

Ek het nie probleem met die afstand nie.

Griet Skryf n Sprokie... ·

Vinniger as Duke die Skimmel nog, Andreas!

Andreas ·

Vandag te harseer.
Ervarings om te koester.
OP Vlerke skryf ‘n anderdag weer.

Griet Skryf n Sprokie... ·

HOOG VLIEG,OP VLERKE VAN GELOOF! Sterkte daarso andreas…

Smirre ·

St het die opposisie behoorlik stukkend gehardloop. Geluk fantastiese prestasie.

Griet Skryf n Sprokie... ·

Wonderlike prestasie,WOW!
Baie geluk+Seën v jou, Gerda!

Gert van Wierdapark ·

Die skrywer roep Gerda ‘n “Drawwer” wat eintlik n belediging is. Ons gewone ouens is Drawwers. Sy is met reg n wereldklas lang-afstand atleet om die Rus se rekord te verpletter het! Absoluut fantasies!!!

Ria Maritz ·

Baie geluk dame.

Maroela
Is “tweelingsussie” 1 woord?

Cherokee ·

Hallo Ria. Onthou gerus die taalreël wat lui ‘een begrip, een woord’.

Bibi ·

@Ria, tweelingsussie is een woord, maar identiese tweelingsussie is wel 2 woorde

Phillip Horn ·

Welgedaan. Wat `n pragtige en uitsonderlike prestasie. Suid Afrika is trots op jou.

SjN ·

Puik gedoen Gerda, maak ons trots, vernaam vir Bothaville gemeenskap.

Thelma ·

Dit is ‘n besondere prestasie waarop Gerda BAIE trots kan wees. Ek bewonder altyd hierdie mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.